Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

LiG gesels met Nadia Beukes

Nadia Beukes

Die aktrise, TV-aanbieder en sanger Nadia Beukes-de Villiers is sinoniem met lig en inspirasie. LiG het met Nadia gesels oor haar swangerskap, moederskap in grendeltyd en haar belewenis van God in tye van onsekerheid. 

DEUR JACOBIE M HELENA

 Die koms van jou baba is om die draai? Hoe beleef jy jou swangerskap in grendeltyd en in hierdie onseker tyd in die land?

Ons baba, Joshua, kom voorlopig oor minder as ’n maand (18 Junie) en ons is beslis baie opgewonde oor sy koms. Dit is wel ’n baie vreemde gevoel om in so ’n onseker tyd swanger te wees. Aan die een kant is ek ongelooflik dankbaar vir ’n gesonde swangerskap, en aan die ander kant weet ek geensins wat die nabye toekoms gaan inhou nie en dit maak my tog effens angstig. Die beplanning en emosionele voorbereiding is dus tot ’n mate vir my uitdagend omdat ek nie juis weet waarvoor om te beplan of voor te berei nie, maar ek weet God se hand is oor die swangerskap. Ek het regtig baie ondersteuning van my man, familie, vriende en die hospitaalspan. Ek was hierdie week selfs bederf met ’n ry-verby-babatee. Dit het my sommer ekstra spesiaal en geliefd laat voel. 

Nadia Beukes
Nadia oor haar swangerskap tydens die COVID-19 krisistyd: “Die beplanning en emosionele voorbereiding is dus tot ’n mate vir my uitdagend omdat ek nie juis weet waarvoor om te beplan of voor te berei nie, maar ek weet God se hand is oor die swangerskap.” Fotograaf: Willem Botha; Grimering: Adelle Yung

Jy het onlangs op Instagram geskryf dat jy nie baie produktief in grendeltyd was nie omdat jy by jou seun, Davey, se roetine moet aanpas. Watter raad het jy vir ma’s in grendeltyd wat ook onproduktief voel?

My beste raad aan ander ma’s (en ook aan myself) is: Moenie te hard op jouself wees nie. Om die waarheid te sê dink ek dit geld eintlik vir almal in hierdie tyd, nie net ouers nie. Almal se omstandighede is anders en almal ervaar die druk en onsekerheid van die tyd waarin ons onsself tans bevind op verskillende maniere. Ek bewonder mense wat in hierdie tyd baie gedoen kry maar ek het net soveel, indien nie meer nie, respek vir mense wat binne hulle omstandighede bloot kop bo water hou. Persoonlik vind ek party dae is makliker as ander en soms kry ek als van wasgoed, tot stemopnames, Davey se roetine en aandete gedoen. Terwyl ander dae soos ’n eindelose stryd voel en ek gelukkig is as ek uiteindelik ’n oomblik kry om te stort. Tog, op die ou einde, in beide die goeie en slegte dae, is een ding verseker: ek het geweldig baie om voor dankbaar te wees en besef dit daagliks.

Nadia Beukes
Nadia Beukes se beste raad aan ander ma’s (en ook aan myself) is: “Moenie te hard op jouself wees nie. Om die waarheid te sê dink ek dit geld eintlik vir almal in hierdie tyd, nie net ouers nie,” vertel Nadia. Fotograaf: Willem Botha Grimering: Adelle Yung

Hoe beleef jy God in onseker tye?

As ek terugkyk na al die onseker tye in my lewe is dit so duidelik dat God daar was en ten spyte van my eie tekortkominge en nooit iets oor my pad gebring het waarvoor ek nie reeds toegerus was nie. In die oomblik is dit soms moeilik om die Lig aan die einde van enige tonnel te sien, maar in my (beperkte) lewenservaring het ek gevind dat die tonnel soms om ’n draai moet gaan. En eers wanneer jy een voet voor die ander gesit het om om daardie draai te kom sal jy die Lig kan sien. Al is dit hoe moeilik, hou uit en hou aan, kyk uit vir bakens van hoop wat vir jou die rigting in die donker sal aandui en moet nooit moed verloor nie, want this too shall pass.

Watter geloofslesse het jy in grendeltyd geleer?

In ’n tyd soos hierdie word ’n mens beslis met jouself gekonfronteer en tot ’n mate forseer om stil te word en te reflekteer. Ek sou sê die grootste geloofsles wat ek in hierdie tyd geleer het is dat die mensdom eintlik so verganglik is en dat ons dit wat ons het beslis nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie en in dankbaarheid moet leef. Daarmee saam om die wonderwerk van nuwe lewe, letterlik binne my te kan ervaar herinner my daagliks aan God se goedheid en guns. 

 


Lees ook: Aletté Winckler oor die ‘gevoel van volheid’ wat ma-wees bring

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF