“Gedurende Covid-19 het menige mense rondom my hulle geliefdes verloor. Die pyn wat hulle beleef het, het my aangespoor om vir hulle goeie nuus te probeer bring.”
Só vertel sanger Ruan Josh. Die goeie nuus bring hy vandag in die vorm van ’n splinternuwe weergawe van die gospelliedjie Go rest high on that mountain.
Dié lied lê hom baie na aan die hart. “Dit is ’n diep lied, en bring ’n groot sin van vrede. Die dood is vir ons almal bestem, ’n mens kan nie daarvan weghardloop nie. Dit is egter beter om jou geliefdes te groet met die wete dat hulle hul lewe by ons Vader begin.
“Ons vat letterlik ’n tree van die een plek na die volgende beter-en-vir-altyd-plek. Ons gaan ook nog uitkom by die plek waar ons mense is wat oorlede is. Daar is geen beter vertroosting as dit nie,” verduidelik Ruan.
LiG het in 2020 berig hoe God in Ruan se moeilikste tyd voorsien het nadat hy in 2018 sy besigheid en inkomste verloor het.
Ruan vertel dat dit tans baie goed met hom gaan. “Ek pak steeds een dag op ’n slag aan en ek kan net getuig van God se hand oor my situasie. Ek voel vrede en geluk en vind ek het ’n doel in elke gesprek en plek waar ek myself vind. Soos die Engelsman sal sê: ‘I’m present in every moment’.
“Ek is tans besig met ’n klein boerdery saam met een van my vriende. Ek skryf nuwe musiek en spits my toe in diens aan ons plaaslike Every Nation-gemeente.”
LEES OOK: Lindie: ‘Ons groot skuif net nog ’n tree agter Jesus aan’