Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Ma ná dogter verdrink: ‘Vasti is vooruit om vir ons plek voor te berei by die Here se voete’

Annette le Roux se lewe het ineengestort met die skielike dood van haar 34-jarige dogter Vasti. Vasti het op 21 Oktober 2023 by die Dassieshoek-natuurreservaat naby Robertson in ʼn rivier verdrink.

Vasti het vyf dae voor haar dood haar ma genooi om saam met haar na die Paarl-rots te stap. Volgens Annette wou sy eintlik rus ná ʼn lang dag. Sy kon egter nie vir Vasti nee sê nie. Hulle het tot op die hoogste rots geklim en ʼn ruk daar gesit om na die vallei onder hulle te kyk.

Skielik het Vasti na haar ma gedraai en gesê: “Mamma, bid asseblief vir my. Ek voel baie onrustig.”

Hierdie versoek sal Annette vir altyd bybly.

Die dag voor Vasti se tragiese dood het ma en dogter saam inkopies gedoen met die oog op Vasti se staptog naby Robertson. Hulle kon ook ʼn koffie-kuier inpas. Min het hulle geweet dit sou hul laaste saamkuier wees.

Annette onthou: “Vasti het my belowe dat sy my tydens die uitstappie gereeld sou kontak. Op pad Robertson toe het sy ʼn keer gebel. Dit was die laaste keer dat ek haar stem sou hoor.”

‘Dit was my einde’

Vasti het in ʼn groep by Dassieshoek gaan stap. Dit het baie gereën en die rivier was vol en onstuimig. Die twaalftal was in drie groepe verdeel, met Vasti in die agterste een.

LEES OOK: ‘Al wat ek geweet het, is dat my kind dood is’

Sy wou egter vinniger vorder en het almal verbygesteek. Toe sy ʼn laagwaterbrug bereik, het sy gegly en in die kolkende watermassa beland.

ʼn Hommeltuig het later haar liggaam opgespoor, naby waar haar rugsak op die water gedryf het. Vieruur daardie middag het polisieduikers haar uit die water gehaal.

Daardie Saterdag het Annette telkens vergeefs probeer om Vasti in die hande te kry.

Sesuur die aand het Deon Kriel, een van Vasti se stapvriende, by Annette se huis in die Paarl opgedaag. “Ek kon sien hy is ongemaklik,” vertel sy. “Deon het probeer om die slegte nuus so sag moontlik aan my oor te dra. Ek het emosieloos na hom geluister. Daar was net  ʼn dooie poel waar my hart eens was. Ek het ook nie gehuil nie. Daar was net niks van my oor nie.

“Die volgende oggend vyfuur het die waarheid tot my deurgedring. Dit was my, Annette le Roux, se einde. Dis ʼn onbeskryflike, rou pyn wanneer jy jou kind verloor. Die finaliteit daarvan het my laat skreeu. Toe het ek begin huil.”

Hoë verwagtings en groot teleurstellings

Annette sê Vasti was ʼn baie gehoorsame kind, nie omdat sy verplig was om so te wees nie maar omdat sy wou. Van kleins af was sy haar ma se steunpilaar. Hulle kon alles met mekaar deel. Soms het dit selfs vir Annette gevoel dat Vasti die ma-rol by haar oorgeneem het.

“Sy was altyd ʼn moedertjie vir haar broers en haar maats. ʼn Soort natuurlike omgee was deel van haar DNS. Sy het haar twee ouer boeties, Franco (39) en Danè (42), moeg gespeel. Sy was ook altyd die een wat die inisiatief geneem het, en hulle het rustig gevolg.”

Annette vertel dat Vasti in graad 2 haar hart vir die Here gegee het. Sy was vasberade om die regte pad te stap en het die storm en drang van die tienerjare gemaklik deurleef. Sy was lief om te dans, maar dis waar sy die streep getrek het.

Romantiese verhoudings was vir haar ʼn uitdaging. Sy het nie kans gesien om haar te gou aan iemand anders te verbind nie. Buitendien is haar hart op ʼn keer gebreek deur ʼn man wat nie dieselfde waardes as sy gehad het nie. Hy was, onder meer, nie bereid om ʼn geloofspad saam met haar te stap nie.

In ʼn latere gesprek met ʼn vriendin het Vasti gesê dat hoewel sy graag sou wou trou, dit haar nie beskore sou wees nie.

“Vasti het dikwels seergekry omdat haar verwagtings so hoog was,” sê haar ma. “Sy het baie in haar vriendskappe belê en is dikwels teleurgestel. Sy het self erken dat sy die dwarslat miskien te hoog gestel het.”

Annette onthou ook dat Vasti nooit kon nee sê nie. “Dit het haar dikwels duur te staan gekom.”

Gereed om die Here te ontmoet

Vasti was in alle opsigte haar ma se helper – van skottelgoed was as peuter, tot later toe sy Annette by die rekenaar touwys gemaak het.

Die verhouding tussen ma en dogter was besonder heg. Hulle het op mekaar gesteun en die vertroue tussen hulle was nie onderhandelbaar nie. Hulle het geweet dat hulle hul diepste geheime aan mekaar kon toevertrou.

Hulle het dikwels hul geloofstories met mekaar gedeel. Vasti sou, byvoorbeeld, haar ma vertel as sy ver van die Here gevoel het. Maar volgens Vasti was sy gereed om die Here te ontmoet.

In die laaste jaar van haar lewe het Vasti haar ma aangemoedig om haarself te bemagtig en om nie meer so geredelik op haar dogter staat te maak nie. Annette sê: “Ek wonder dikwels of sy my nie wou voorberei op dit wat sou kom nie. Ek is in elk geval daarvan oortuig dat die Here Vasti gelei het om my minder afhanklik van haar te maak.”

‘Ek vra vir vrede, vertroosting en krag’

Annette onthou Vasti as haar wildeloot-kind met die borrelende lag en die reuse-persoonlikheid. Sy was sekuur ingestel op ander mense se lyding. Die voortslepende konflik in die Midde-Ooste het haar diep geraak.

Omdat Vasti ʼn haarstilis was, het sy en Annette gereeld nuwe kapsels probeer. Om ná Vasti se dood weer ʼn haarsalon te besoek was vir Annette baie traumaties.

Ma en dogter het natuurlik ook onderlinge verskille gehad. Maar, sê Annette, die onenigheid sou altyd van korte duur wees. Niks en niemand sou die band tussen hulle verbreek nie.

Vandag is Annette se huis leeg. Vasti het jare lank daar gebly. Toe sy uiteindelik verhuis, was dit vir haar ma baie sleg. Maar ten minste was Vasti bereikbaar en hulle het mekaar gereeld opgesoek. Nou is sy vir altyd weg.

Annette bedryf ʼn matwas-onderneming wat haar elke dag besig hou. “Op dié manier probeer ek myself bymekaar hou,” sê sy. “Sommige dae is beter as ander. Daar kom dae dat ek bitter hartseer is, en dan vra ek die Here om my te vertroos, om my te help om aan te gaan.  

“Ek praat gereeld met Hom. Ek vra vir vrede, vertroosting en krag. En om te verstaan waarom alles só moes gebeur. As ek in die nag wakker word, praat ek met die Here.

“Ek glo dat Vasti vooruit is om vir ons plek voor te berei aan die Here se voete.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►