34 jaar gelede het Annabelle Kotze met geheueverlies in die hospitaal wakker geword. Sy het slegs geweet dat haar baba gesterf het. Sy moes van vooraf haar geliefdes leer ken én leer wie sy self is …
“Ná twee weke in ’n koma maak ek my oë oop. Links van my hospitaalbed staan ’n man in ’n wit jas, en regs is een met blou oë. Die man met die blou oë vra: ‘Hallo? Weet jy wie ek is?’
“Ek skud my kop.
“Die man in die wit jas vra dieselfde.
“‘Nee, ek weet nie,’ antwoord ek. ‘Ek weet ook nie wat my naam is nie.’
“‘Wat weet jy?’ vra een van hulle.
“Ek antwoord: ‘My kind is dood.’
“Die mans kyk my verstom aan, maar ek weet nie waarom nie. Dit is tog wat ek weet …”
Dit mag dalk soos die openingstoneel van ’n aangrypende fliek klink, maar dit was Annabelle Kotze se werklikheid.
Dis nou ongeveer 34 jaar sedert ’n 24-jarige Annabelle in die hospitaal wakker geword het, met totale geheueverlies.
Sy bestempel daardie dag as ’n groot wit bladsy waarop klein geskryf staan: My kind is dood.
‘Haar laaste asempie …’
’n Bietjie meer as twee weke voor die vreemde gesprek met die twee mans het Annabelle geboorte geskenk aan haar en haar man Kosie se tweede dogtertjie, Carike. Die kleinding is kort voor haar geboorte met Pena-Shokeirsindroom gediagnoseer. Dit beteken dat sy ’n waterhofie gehad het, en dat dele van haar lyfie misvorm was, onder meer haar ore en heupe. Haar longe het ook nie ontwikkel nie.

Annabelle en Kosie het nie kans gesien vir ’n aborsie nie, al het die dokters dit aanbeveel. En hoewel klein Carike nie self kon asemhaal nie en van haar ma se suurstof afhanklik was, het Annabelle haar steeds ligweg voel skop. Maar uiteindelik was die pyn so erg dat ’n induksie gedoen moes word.
Annabelle dink terug aan daardie traumatiese dag: “Ek moes toe normaal geboorte gee; die epidurale verdowing was nie doeltreffend nie. En ’n sterwende baba werk nie goed saam met die geboorteproses nie. Die dokter moes haar behoorlik uit my trek, en in dié proses het haar gesiggie ook seergekry.
“Ek het die dokter gesmeek om haar nie op my neer te lê nie; ek was nie seker hoe ek dit sou hanteer nie. Maar hy hét dit toe gedoen, en sy het op my maag gesterf. Ek het toegekyk hoe sy haar laaste asempie uitblaas.”
Annabelle onthou hoe die dokter gesê het dat die nageboorte abnormaal groot is, geïnfekteer en bros.
Stuiptrekkings
Ná twee dae in die hospitaal is Annabelle ontslaan, hoewel sy baie siek gevoel het. Sy vertel: “Ek kon letterlik nie my kop oplig nie. Ek kon nie in helder lig kyk nie. Ek het bittere pyn verduur.”
Intussen moes Kosie hul baba se geboorte én dood op een dag registreer.
Een nag, dit was net twee dae later, het Kosie agtergekom dat Annabelle nie meer langs hom in die bed is nie. Hy het opgestaan en gaan soek en haar, stuiptrekkend, op die sitkamerbank aangetref.
Annabelle is in ’n ambulans gelaai en hulle het hospitaal toe gejaag. Sy is met breinvlies- en harsingontsteking (oftewel meningitis en enkefalitis) gediagnoseer.

Annabelle vertel hoe hy, met groot geduld, alles vir haar verduidelik het en almal aan haar voorgestel het. Ook haar ma het ’n groot rol in die herstelproses gespeel. “My ma en Kosie het my duisende vrae beantwoord, en dit het nooit gelyk asof dit hulle frustreer nie.” Foto verskaf
Sy verduidelik: “Dit kom kortweg neer op die vergiftiging en infeksie van die membraan om die brein.” Later het die dokters vasgestel dat die vergiftiging die gevolg was van ’n EBP (“epidural blood patch”) wat die dokter tydens die bevalling op Annabelle uitgevoer het.
Terwyl Annabelle nog in ’n koma was, is Carike veras. Behalwe dat sy nie van haar dogtertjie kon afskeid neem nie, moes sy later ook verneem dat haar man en ouers drie keer gebel is om haar te kom groet …
Hallusinasies en vreemdelinge
Annabelle is uit die kake van die dood gered. Daar het egter ’n baie moeilike pad voorgelê. Sy vertel: “Ek het verskriklike hallusinasies beleef. Die angs wat dit meegebring het, het my laat gil. Ek het nie geweet wat is dag en wat is nag nie. Ek het wel geweet my kind is dood – maar ek kon nie onthou hoekom, waar en wanneer nie.
“Ek het niemand meer herken nie, nie familie of vriende of my man nie. Die dokters het vir Kosie gesê dat hy ’n vertrouensverhouding met my moes bou. Ek het toe, byvoorbeeld, vir Kosie hoor sê dat hy drieuur daardie middag vir my ’n groen appel sal bring, en hy het presies dit gedoen. Op dié manier het ek hom begin herken, en geleer om hom te vertrou.”
Uiteindelik was Annabelle gereed om huis toe te gaan. Sy is ontslaan en het saam met Kosie in die motor geklim, maar geen idee gehad waar haar huis is of hoe dit daar lyk nie. Sy het nie eens geweet dat hulle in die Wes-Kaap woon nie.
In Brackenfell aangekom, het sy ook nie haar ma en haar dogtertjie Michelle, toe een jaar en agt maande oud, herken nie.
Kosie het haar op ’n “toer” deur hul huis geneem. “Toe hy my kas oopmaak om my klere vir my te wys, het ek doodernstig gesê: ‘Dis die mooiste klere wat ek nóg gesien het!’ Ons het jare later steeds daaroor gegiggel.”
Hoe het sy dit reggekry om saam met dié “vreemdeling” te leef?
Haar antwoord is eenvoudig: “Kosie was my rots.”
Sy vertel hoe hy, met groot geduld, alles vir haar verduidelik het en almal aan haar voorgestel het. Ook haar ma het ’n groot rol in die herstelproses gespeel. “My ma en Kosie het my duisende vrae beantwoord, en dit het nooit gelyk asof dit hulle frustreer nie.”
‘Gestrem’
Annabelle moes opnuut leer om eenvoudige takies te bemeester, soos koffie maak en inkopies doen. Sy moes weer leer bestuur.
Sy moes ook leer om haar werk in Sanlam se nuweversekering-afdeling te doen. Aanvanklik het haar baas gesê dat sy nie dink Annabelle sal weer kan werk nie omdat sy gestrem is. Annabelle vertel: “Ek het erg gesukkel om te fokus, maar die feit dat sy my as gestrem beskou het, was éintlik ’n skop in die regte rigting.
“En ek het eenvoudig besluit ek sal hard werk sodat ek my werk goed kon doen. Ek het geweet daar is niks met my verstand verkeerd nie. Ek het saans lêers huis toe geneem, en Kosie het my gehelp om al die inligting te memoriseer. Later kon ek weer my werk goed doen.”
Kosie en haar ma het haar ook na haar ou skool toe geneem, en haar die huis gaan wys waar sy grootgeword het. “Hulle moes my selfs vertel waarvan ek vroeër gehou het. Dat ek daarvan hou om tussen mense te wees.”
Sy moes ook weer leer om Michelle te versorg. “Aanvanklik het my kind vir my soos iemand anders se dogtertjie gevoel. Ek het gewonder wat ek met dié kleinding moes doen. Maar dat sy by my wou slaap en altyd by my wou wees, het my diep geraak. Michelle het met mý ’n verhouding gebou …”
Die leerproses het ongeveer twee jaar geduur.
‘Ek sal God nodig hê’
Annabelle moes ook haar geloof as ’t ware herontdek. Sy vertel: “Toe ek daardie dag by die huis kom, het ek my Bybel sien lê. Dit was asof ek êrens in my agterkop geweet het dat daar ’n God is. Maar ek was baie kwaad vir Hom omdat Hy nie vir Carike gesond gemaak het nie.
“Ek het later my Bybel gaan uithaal waar ek dit letterlik in die kas gegooi het. Ek het besef ek sal God nodig hê as ek hierdeur wou kom. Dit alles het uiteindelik my geloof sterker gemaak.”
Annabelle raak bewoë as sy oor haar en Kosie se liefdesverhaal praat. “Ek en Kosie het mekaar ontmoet toe ek 15 jaar oud was. Ons het ’n goeie huwelik gehad, en dié hele ding het ons verhouding soveel dieper gemaak. Ons was toe eerliker met mekaar. Ek het weer op die man met die blou oë verlief geraak. Hy het so baie omgegee, hy het gereeld ’n pienk roos uit die tuin op my bedkassie neergesit.”
Annabelle en Kosie het daarna nog ’n dogtertjie gehad, Jeanine. Hulle het hul tweede kans ten volle aangegryp en ’n wonderlike lewe saam gehad.
Maar Kosie het leukemie opgedoen en in 2021 gesterf.
“Ek was stukkend. My lewe het weer tot stilstand gekom. My anker, my rots, was weg. “Maar ek het steeds vir God. Hy is aan die stuur van my lewe.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















