Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Maak jou mond oop sodat Hy dit kan vol maak

DEUR SIMONE GAUCHE

Enigiemand wat al ’n honger baba gevoer het, sal presies verstaan wat ek nou beskryf: As die bakkie kos nader gebring word (en goedgekeur word!), begin die mondjie oop en toe gaan, kompleet soos ’n vis op droë grond. Die handjies kap opgewonde op die tafel. Wanneer die lepeltjie kos die mondjie nader, rek die lippe so wyd moontlik oop – en klap oombliklik toe op die lepel, soos ’n motor se kattebak wat toegeslaan word.

LEES OOK: Bestuur jou angs en kommer met dié Bybelse raad

Wanneer die lepel nou (met inspanning) verwyder word, begin die tongetjie teen die verhemelte klap. Dit klink soos Miriam Makeba se “The Click Song”. En wanneer die kos ingesluk is, rek die klein mondjie dadelik weer oop, selfs al is die volgende gelaaide lepel nog nie in sig nie.

Hulle het nog nie woorde om vir nóg te vra nie. Maar as ’n mamma nie vinnig genoeg kan voer nie, weet elke baba instinktief om te skree: “Ham, ham! Ham, ham!”

Vinnig-vinnig word die bakkie kos kafgedraf.

Psalm 81 is ’n lied wat op feesdae gesing is. Die psalm beskryf Israel se verlossing uit Egipte en eindig met die versekering dat God vir sy volk sorg, en dat Hy die beste gawes vir hulle gee.

Luister net na die beeldspraak waarmee sy liefdevolle sorg beskryf word: “Ek, die Here, is jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het. Maak jou mond wyd oop, sodat Ek dit kan vul” (Ps 81:11, 2020-vertaling).

Om hierdie gawes te ontvang, moet jy dus eers jou mond oopmaak. Wanneer jy tot Hom nader en jou mond wyd oopmaak, sál Hy dit vol maak. Die psalm verseker ons dat ons dit met vrymoedigheid kan doen.

Dan is God soos ’n mamma wat gereed staan met ’n lepeltjie vol kos. Jy hoef nie die regte woorde te hê nie. Dalk is jy so sonder woorde dat jy net “ham, ham! ham, ham!” kan uitkry. Maar ’n toe mond kan nie gevul geword nie; jy moet eers jou mond oopmaak.

Het moeilike omstandighede jou moedeloos? Probeer jou fokus só skuif

Dit is wel so dat jy dalk nie presies kry waarvoor jy gevra het nie, maar jy kan een ding weet: Hy sal jou met die beste voed. Al jou begeertes word dalk nie vervul nie, maar God voorsien op ’n wonderbaarlike wyse in jou behoeftes. Hy weet presies wat jy nodig het en hoe om jou te versadig.

Ek is ’n mamma en ek weet dat, as dit enigsins moontlik was, my kinders van lekkergoed en koeldrank sou leef. Ek weet egter ook, soos alle mammas, dat ’n gesonde dieet noodsaaklik is vir my kinders se groei en ontwikkeling.

Dit is dan ook die rede waarom ons nie alles kry wat ons met soveel vrymoedigheid van ons Vader vra nie. Hy weet hoe om na ons om te sien. Hy weet presies wat ons nodig het, en hoeveel daarvan. Hy wil net die beste vir ons hê.

Psalm 81 sluit só af: “Maar Hy sal Israel met die beste koring voed. Uit ’n rots sal Ek jou met heuning versadig” (Ps 81:17).

Onthou ook Jesus se woorde in Lukas 11:11-13: “En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ’n klip gee; of ook ’n vis, en hy sal hom in plaas van ’n vis ’n slang gee; of ook as hy ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”

Maak maar met vrymoedigheid jou mond wyd oop, sodat God dit kan vul met alles wat jy werklik nodig het.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.