Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Maandag-inspirasie: Het jy jou blydskap verloor?

25 Januarie 2021


Deur René Badenhorst

 “Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!” – Nehemia 8:10 (NLV)

As ons kyk na alles wat rondom ons aangaan, is daar min rede om bly te wees. Wanneer ons hoor van rampe, sterftes en morele verval, wil-wil die hartseer ’n mens hopeloos en depressief laat voel.

Ons blydskap word egter meer wanneer ons onthou dat die beste deel van God se plan met die mensdom nog kom. Dit word ook meer wanneer ons vertrou dat, maak nie saak wat gebeur nie, God ons daardeur sal dra. In sommige gevalle, soos toe Josef en Maria met Jesus Egipte toe moes vlug, sal ons die gevaar heeltemal vryspring. Of soos met Daniël en sy vriende in die brandende oond, sal ons heel aan die anderkant uitkom, sonder dat daar ’n reukie van rook aan ons kleef. Of, soos Stefanus, terwyl hy gestenig word, sal ons geloof enduit behoue bly, sal ons ons oortreders kan vergewe, en in die situasie Jesus by ons sien staan.

LEES OOK: Een klein kersie: dis jy!

Rykdom, aansien, ander plesiertjies, en ja, selfs vreedsame omstandighede, sal ons nooit werklik gelukkig maak nie. Hoe beter ek God leer ken, hoe meer besef ek, Hý is die grootste seën wat ons ooit kan ontvang. Om Hom te ken en by Hom te wees, oortref alles!

Foto: Unsplash

Uiterlik kan ons swaarkry, maar daar is ’n diep, innerlike blydskap wat gevul word elke keer wanneer ons in God se teenwoordigheid kom. Dis is soos strome, lewende water wat onverklaarbaar uit ons binneste begin vloei. Dít gee ons krag vir die volgende tree.

God wil hê ons moet bly wees. Ons kan dit egter nie in ons eie krag genereer nie. Hierdie onblusbare bron van lewe en hoop, kan ons net in Hom vind.

Lyk jy anders as die mense om jou wat nie vir God ken nie? Dra jy sy blydskap diep binne in jou?

Gebed: Here, ek het my blydskap verloor. Help my om my uitkoms, my krag en my hoop in U te soek, en nie in mense of omstandighede nie. Help my om myself volkome aan U oor te gee. In Jesus se Naam, amen.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.