Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Maandag-inspirasie: Om te sing

1 Februarie 2021


DEUR FRANCINE PRINS

Dis ’n sware dag as nie slegs jou lyf ingeperk word nie, maar ook jou siel. Wanneer jy ingehok en toegedruk word, met geen stukkie lig op die horison nie.

Só moes Paulus en Silas dit ervaar het toe hulle hardhandig in ’n Romeinse tronk gestop is, voete vasgemaak en tussen misdadigers ingegooi. Die arrestasie was onregverdig, hul inperking wederregtelik.

LEES OOK: Maandag-inspirasie: Jy sal gedra word!

Hulle kon vloek en skel, hulle kon planne maak en konkel om daar uit te kom. Maar hulle het verstaan dat hierdie swaarkry bloot ’n inperking van hul lyf was. Hul siel was ’n ander saak . . .

Ons lees oor dié twee Goeie Nuus-draers die volgende: “Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem” (Hand 16:23-24).

Dan begin die Goeie Nuus in hul optrede gestalte kry: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister” (Hand 16:25).

Om te sing, is nie om te praat nie; sing lê ’n ander soort ingesteldheid bloot – ’n blymoedige uitkyk, die getuienis van ’n siel wat nie ingeperk is nie.

Paulus en Silas het gesing, want hulle het geweet dat Jesus siele vry maak. Jesus se Goeie Nuus maak inperking ’n geringe saak teenoor die enorme wete dat God magtig is, dat Hy vryheid bring en dat geen donker plek Hom stuit nie.

Paulus en Silas se storie help ons om te weet dat gebed en lofprysing tronke oopmaak. Om vir God te sing, is ’n tree uit jou tronk.

Gee jy daardie eerste tree, kom God jou met ’n honderd treë tegemoet. Hy kom nader, Hy kom help, Hy kom verlig en maak vry.

Kom ons kies dan om Hom te loof, om nie ons siel te laat inperk nie. Kom ons kies om vir God te sing.

  • Francine Prins is verantwoordelik vir LiG se sosiale media en aanlyn gemeenskap. Sy is ook redakteur van LiG se kwartaallikse gedrukte uitgawe.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF