My seuntjie is ywerig besig om sy lysie vir Kersvader op te stel. En hy vertel my van sy groot plan: Hy wil vir Kersvader vra om hom die krag te gee om te kan vlieg.
Hy weet reeds waarheen hy gaan vlieg: Hy wil na Oupa en Ouma in die Kaap en die Vrystaat gaan. En ook Frankryk toe, om na die Eiffeltoring te gaan kyk.
Ek verduidelik dat Kersvader nie bonatuurlike krag kan gee nie, nie soos wat die superhelde op televisie het nie. En ek stel voor dat hy eerder moet vra vir ’n geskenkie, iets soos ’n speelding of ’n boekie.
Hy lyk afgehaal, maar hy aanvaar tog my verduideliking. Min het ek geweet …
LEES OOK: Ons oë is op God gerig – of hoe?
’n Paar dae later kry ek hom buite. Hy is besig om al wat ’n veer is op te tel. Hy vra: “Mamma, hoeveel vere dink Mamma het ek nodig om te kan vlieg?” Hy sê hy wil die vere op sy arms plak, dan het hy vlerke.
Hoe kreatief dink my kind tog …
Maar ek moet hom weer teleurstel en verduidelik dat sy plan om te vlieg waarskynlik nie sal werk nie. Daarop smyt hy die bondeltjie vere neer en roep uit: “Ugh! Sal ek dan nooit kan vlieg nie?”
Selfs die swakste, die tingerigste …
Ek lees onlangs Sagaria 12:8: “Daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Selfs die swakste van hulle sal daardie dag soos Dawid word, en die koningshuis van Dawid sal soos ’n hemelwese word, soos die engel van die Here wat voor hulle uit gaan.”
My seuntjie sal wel nooit kan vlieg sonder om in ’n vliegtuig te sit nie, maar hy het tog toegang tot bonatuurlike krag. Die Here beskerm sy swakke kinders deur hulle innerlik sterk te maak, ver bo hul vermoëns en verwagtings. Hy kan die tingerigste skepsel so dapper en so sterk soos Dawid maak. Hy gee ons moed wanneer die groot reus voor ons kom staan en ons uitdaag. Hy maak ons kampioenvegters.
Ons almal kom soms voor ’n groot probleem te staan. Dalk voel dit soos ’n reus wat ons wil oorweldig. Ons sien geen uitkomkans nie. Die reus lê ons oral voor, tart ons.
Menslik gesproke kan ons hom nie oorwin nie. Maar net soos die Here Dawid sterk gemaak het om Goliat te verslaan, so kan Hy ons ook die krag gee om ons eie reus te oorwin.
’n Klompie klippies in my hand
Ek het in my lewe ook reeds ’n klomp reuse teëgekom. Dit was mense en situasies en probleme wat ek nooit uit eie krag te bowe sou kon kom nie. Maar toe, op die wonderbaarlikste wyse denkbaar, het die Here my die krag en die moed gegee om te oorwin.
Ja, dit gebeur dikwels: Wanneer ek op moedverloor se vlakte sit, verskyn daar, op ’n onverklaarbare manier, ’n klompie klippies in my hand, nommerpas vir my slingervel.
Is dit nie wonderlik om te weet dat ons altyd toegang tot die bonatuurlike krag van God het nie?
Dalk voel jy vandag ook oorweldig. Moenie moed opgee nie. Vra die Here om saam met jou slagveld toe te gaan en saam met jou die reus te verslaan. Vra Hom om sy krag oor jou uit te stort en jou vol moed te maak om op te staan teen dit wat jou pad versper. Vertrou op sy bonatuurlike krag.
Weet dit: Die Here maak sy kinders sterker as wat hulle is, en in sy Naam kan ons enige uitdaging te bowe kom.
BID SAAM MET MY: Here, wys ons wat U kan doen. Bly in ons, u kinders, en skenk ons u krag. Help ons om op U te vertrou. Vervul u beloftes in ons swakheid. Ons weet dat, in u krag, dit moontlik is om enigiets en enigiemand te oorwin. Amen
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.