Ons sit aan vir ete. Daar is verskeie geregte op die eetkamertafel uitgepak. My jongste seuntjie sê dadelik dat hy net rys wil hê, want hy hou nie van “daai ander goeters” nie.
Hy wys met sy vinger na al die kos wat ek voorberei het.
Ek antwoord: “Jy kan mos nie sê jy hou nie van iets as jy dit nog nooit geproe het nie!”
Uiteindelik oortuig ek hom om net ’n happie te neem. Later roep hy uit: “Mmm, Mamma, jou kos smaak lekker!”
Ek wou eers sê dat ek mos gesê het hy sal daarvan hou, maar ek bly liewers stil.
LEES OOK: Die verlossing uit verslawing
Ons dink ons weet beter …
Dié voorval het my laat dink aan hoe ons met die Here en sy gawes maak: Ons is vas oortuig van wat ons wil hê – en ons het geen idee watter wonderlike dinge die Here vir ons beplan en voorberei het nie. Ons dring aan op wat ons wil hê en hoe ons dit wil hê, terwyl die Here weet wat Hy vir ons beplan. En dit is oneindig beter as ons voorkeure.
Ons vra dikwels vir “net rys”, terwyl dit nie die lekkerste of die voedsaamste gereg op die tafel is nie. Dit is wel al wat ons ken, en ons weet slegs hoe om te vra vir dit wat ons ken.
Deur vas te klou aan ons beperkte begrip, verbeur ons dikwels die voorreg en die oorvloed van sy voorsienigheid. Paulus sê iets hieroor vir die gemeente in Korinte: “Ek het julle melk gegee om te drink, nie vaste kos nie, omdat julle nog nie daartoe in staat was nie. Selfs nou is julle nog nie daartoe in staat nie” (1 Kor 3:2).
Ja, ons is dikwels hardkoppig en wil nie die beste kos aanvaar nie. Ons is slegs tevrede met dit waarvoor ons gevra het, selfs al bied God vir ons iets beters aan. Ons dink ons weet beter …
God weet wat die beste is
Dit is presies wat gebeur het toe die Israeliete vir God gesê het hulle wil ’n koning hê. God hét vir hulle ’n koning gegee, selfs al wou Hy nie en al het Hy geweet dat dit nie die beste ding vir hulle was nie. Hy het egter geweet dat dit al is wat hulle sou tevrede stel. Ons lees in 1 Samuel 8:7: “Die Here het vir Samuel gesê: ‘Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees.’”
Inderdaad: God gee ons die rys omdat ons weier om die voedsame kos, wat ons sterker maak, te eet.
Jesus sê in Matteus 7:9-11: “Wie onder julle sal, as sy seun brood vra, vir hom ’n klip gee? Of ook, as hy ’n vis vra, vir hom ’n slang gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra!”
Jesus sê hiermee dat God weet wat ons nodig het, Hy weet wat goed is vir ons, en Hy wil dit graag vir ons gee.
Wat staan ons dan te doen as ons nie weet wat die beste vir ons is nie?
Ons moet in gebed volhard en vashou aan die wete dat God voorsien. Dat Hy weet wat ons nodig het en wat die beste vir ons is, soos wat dit sy wil is. Ons moet aanhou vra, maar ons moet altyd bewus bly van die feit dat ons nie regtig weet waarvoor om te vra nie. Net God, in sy almag, weet wat ons regtig nodig het.
Hoor wat het koning Josafat van Juda gesê toe die vyand sy mense bedreig het: “Ons self weet nie wat om te doen nie, maar op U is ons oë gerig” (2 Kron 20:12).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.