Dit voel soms asof my brein vasgehaak het in my pre-mom lewe – al is ek tans 24 uur per dag aan diens in my rol as ma. My brein kan bloot nie aanvaar dat ek of my kinders al in hierdie fase van ons lewe is nie. So gebeur dit toe een middag nadat ek vir Sussie, nou in graad een, by die skool gaan optel het:
Ek is in die kombuis, besig om middagete voor te berei, toe ek dit hoor… Strome water! Ek luister weer en besef: Dis die stort se krane wat oopgedraai word. Net voordat ek paniekerig raak, hoor ek ʼn stemmetjie wat skree: “Mamma, ek het vreeslik gesweet – ek stort net gou voordat ek gewone klere aantrek!” Volslae sprakeloosheid – en ʼn “gevriesde” ma in die gang.
Is my baba al só groot? Hoe het ons hier gekom? Kan dit wees?! Dan weer: “Mamma? Hoor jy my? Ek spoel net gou af.”
Ek bel my ma en vra of ek regtig al groot genoeg is om ʼn kind te hê wat, na ʼn warm dag by die skool, self kan stort – en haar antwoord was: “Sussie, ek weet hoe jy voel! Julle survive sonder my en dis terrible!”
My liewe ouers is byna 70 en nog steeds bitter verslae oor die feit dat ek en my ouer sussie hulle nie meer elke dag nodig het nie. My ma sê sy herinner haarself gereeld daaraan dat sy maar kan ontspan en dat haar kinders teen die tyd, weet hoe om self “ordentlik tandjies te borsel”.
Wat ʼn ongelooflike voorreg! Hierdie uitmergelende, heerlike en slapelose avontuur duur vir altyd voort!
Hier is geen les hierin te leer nie, maar wat ek kan sê is dat ek, soos Dawid in Psalm 16:6, kan verklaar: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”
Lekker stort, Sussie!




















