Haai Pop, Mamma hier. Ek wil vir jou iets vertel van jou groot liefde … Die man wat jou veilig, geliefd en goed genoeg laat voel. Ek is baie bly jy kon hom op so ‘n jong ouderdom vind! Maar weet jy, volgens Binnelandse Sake is hierdie droomman van jou eintlik mý man. En as gevolg daarvan, ook jou pappa.
Maar ek sien hoe jy straal as hy naby is. Oeg! Daardie botter-kan-nie-in-my-mond-smelt-nie onskuld voor hom. En dít nadat jy al ten minste drie keer jou oë vir my gerol het. Ek sien ook hoe sy arms instinktief weet hoe om jou vas te hou, hoe hy by die huis instap en sy oë soek na jou en jou arms om sy nek. Ek kan sien hoe jou mure verkrummel as hy instap. En as daar nou iemand is wat weet hoe verligting voel as hy by die deur instap, is dit ek, jou mamma. So, ek verstaan.
En dis hoekom Mamma nou al bid vir jou regte man. (Skuus Pop, jy mag nie rêrig met pappa trou nie.) Daar word baie gepraat, geskryf en gesing oor ‘n ma se liefde en opoffering vir haar kinders – en as dit God se wil is, sal jy dit eendag self ervaar. Maar daar word nie baie gepraat, geskryf en gesing oor ‘n pa se liefde en opoffering vir sy kinders nie. Maar dít! Daar is niks só mooi, broos, sterk en rou soos dit nie.
Pappa weet wanneer jy nodig het om te hoor jy lyk mooi. Hy weet wanneer Mamma nie verder met die wiskunde kan help nie en hy geduldig moet help. Hy weet wanneer jy ‘n ekstra chat nodig het as Boetie gaan slaap. Hy weet hoe dit voel as jou lyfie slap word op sy bors en jy met ‘n engel-tevrede gesiggie aan die slaap raak in sy arms.
Hy weet egter ook hoe ons gesukkel het om jou van die doek af te kry. Hy weet hoe dit was met die Covid-inperking, ‘n swanger vrou en 18 maande oue baba. Hoe ongelóóflik baie jy kan praat wanneer hy desperaat na stilte smag. Hy weet hoe dit voel om in die vuurwarm Bolandse son ‘n klimraam te bou sodat jy en Boetie kan speel. Net sodat julle na ‘n maand nooit weer op daardie klimraam speel nie …
Pop, hy weet dit alles. En weet jy wat? Hy sal alles oor en oor weer doen. En as jy mooi kies, sal jou (eie) man dit ook eendag vir julle kinders wees.
Mamma bid dat alle dogtertjies sal grootword met die sterkste, sagtehart-pappa wat weet watter ongelooflike rol hulle in hul dogtertjies se harte speel en ook hierdie verantwoordelikheid ernstig sal opneem. Dat hulle sal weet hulle is onvervangbaar, dat ons hulle nodig het. En al skree die wêreld dat mammas alles kan doen wat pappas kan doen, dat ons sal onthou dat Jesus vir pappas ‘n spesiale roeping en verantwoordelikheid gegee het: om hulle kinders na Hom toe te lei en ‘n liefdevolle, sterk fondament vir sy huisgesin te bou.
Mamma wens vir jou, Pop, ‘n man soos jou Pappa. En ek hoop dat jy nooit met minder as dit tevrede sal wees nie. Al my liefde, jou droomman se vrou
(Foto deur Karien Burke Photography)
Ek deel graag met julle gedagtes wat my pa en ‘eerste trouman’ onlangs gedeel het met sy meisiekinders en skoonseuns:
‘n Persoonlike reis in my eie soeke en verstaan van die Vader van alle vaders. (deur Andre Verhoef, 2025)
In my normale omgang met mense, die gemeentes wat ek besoek, YouTube en Internetkerke- en preke beleef ek al hoe meer dat die kerk “vaderloos” raak. Die konteks hier is nie dat God die afwesige vader raak nie, maar dat die kerk die afwesige/verlore seun raak. Die Vader verlang daarna dat die kerk terugkeer na tyd in Sy teenwoordigheid, deur die Seun Jesus Christus.
Die statistiek in die wêreld oor vaderloosheid en die gevolge daarvan op ons jong geslag, is absoluut skokkend. (Sien: The World needs a Father)
Daar is ‘n dringende oproep aan vaders om hul vaderskap op te neem. Maar daar is ook ‘n dringende oproep aan vaders, en huisgesinne, om die Hemelse Vader as Vader aan te neem.
“ ‘n Wêreld sonder ‘n hemelse Vader sou ‘n plek wees van hopeloosheid, betekenisloosheid, en morele chaos. God se teenwoordigheid bring liefde, orde, en hoop aan die wêreld.”
Hoe lyk Goddelike vaderskap by die huis?
Die oproep om na die Vader terug te keer vereis ‘n aktiewe en opregte reaksie van die mens. Dit impliseer nie net ‘n geloofsbelydenis nie, maar ook ‘n lewenstyl wat ooreenstem met die verhouding wat Jesus aanbied. Hier is hoe die mens kan reageer:
1. Aanvaar Jesus as die Weg na die Vader: Jesus sê in Johannes 14:6 dat Hy die enigste weg na die Vader is. Die eerste stap is dus om in Jesus te glo en Hom as Verlosser en Here aan te neem.
2. Groei in ‘n persoonlike verhouding met God: Om na die Vader terug te keer beteken om ‘n intieme verhouding met Hom te bou. Spandeer tyd in gesprek met God, en leer God se wil en karakter ken deur die Skrif te bestudeer. Leef dan ook volgens God se gebooie en begeertes.
3. Leef in gemeenskap met ander gelowiges: Die “huis van die Vader” is ‘n plek van gemeenskap. Reageer deur deel te wees van die liggaam van Christus. Neem deel aan die gemeenskap van gelowiges deur aanbidding en lering. Gebruik jou gawes en tyd om ander (én veral jou huisgesin) te dien.
4. Wys hoop en vertroue in die ewige toekoms: Die belofte van ‘n plek in die Vader se huis moet ons help om met hoop en perspektief te leef. Leef met ewigheidsgerigtheid, moenie te vasgevang raak in aardse bekommernisse nie. Fokus eerder op God se beloftes en deel dan die evangelie met ander, sodat hulle ook die pad na die Vader kan vind.
5. Volhard in tye van swaarkry: Die pad terug na die Vader is nie altyd maklik nie, maar vereis volharding. Vertrou op God se leiding, wanneer die pad onseker lyk, wéét dat God altyd naby is en dat Jesus reeds die weg voorberei het.