Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Met die hart van ’n kind

DEUR SIMONE GAUCHE

Dis Moedersdag en my kinders maak my vroeg wakker – hulle is duidelik baie opgewonde. Ek lê tjoepstil en maak of ek nie hoor hoe hulle hul pappa uit die bed kom haal nie.

Gou-gou word daar in die kombuis geraas en gerumoer; ek weet kamma van niks. Ek lê in my bed, lees e-pos op my foon, speel woordspeletjies en luister geamuseer hoe die borde teen mekaar kap en die eetgerei druis, en hoe die pappa ’n keer of wat moet hárd praat.

LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers

Uiteindelik, ná wat gevoel het soos ure se wag, trippel die kinders en hul pa die kamer binne. “Mamma! Mamma!” roep die seuntjies. “Kyk net wat het ons vir jou gemaak!”

Ek maak of ek uit ’n diep slaap wakker skrik en kom gaap-gaap orent. Daar word ’n skinkbord voor my neergesit. Op die skinkbord pronk ’n paar blommetjies uit die tuin. Daar is ook ’n broodjie wat dík gebotter is, en twee “interessante” eiers. ’n Koppie louwarm, flou koffie met baie melk. En, les bes, ’n klompie kersietamaties wat lyk asof hulle die eiers doelbewus wil vermy.

LiG-rubriekskrywer Simone Gauche deel haar geestelike reis as ma, vrou en mediese dokter weekliks met lesers. Foto: Emily Bunting

In die skinkbord se een hoekie probeer ’n handgemaakte Moedersdagkaartjie moedig regop bly.

Ek dink nie Gordon Ramsay sou die uitleg op die bord goedgekeur het nie, maar vir dié mamma was dit die mooiste bord kos wat sy nog ooit gesien het. Ek smul aan my nie-heeltemal-perfek-nie-maar-tog-perfekte-ontbyt, terwyl die res van my gesin sit en gesels. Ons almal saam op die bed. Geen geposjeerde eier met hollandaise-sous sou beter gesmaak het nie …

Later wonder ek tog hoekom ons sulke dubbele standaarde het. Ons aanvaar so maklik ons kinders se beste pogings sónder om kritiek te lewer. Om die waarheid te sê, hul beste probeerslae vul ons hart met liefde en blydskap.

Maar ons is bang om ons eie nie-perfekte offers aan ons hemelse Vader te bring. Ons wil éérs “minder” sondig wees en “meer” vroom word. Ons wil meer tyd hê. Dalk ook meer geld of meer invloed. Ons wil eers beter kan praat.

Ons lees in Markus 12:41-44 hoe Jesus regoor die offergawekis by die tempel gaan sit en kyk het hoe die mense daar geld ingooi. Baie ryk mense het baie geld gegee. ’n Arm weduwee het gekom en slegs twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd.

Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

LEES OOK: Die waardevolste skat

Ek dink die les in dié verhaal het uiteindelik op meer as geld betrekking; die muntstukke verwys ook na ons gawes en talente, ons tyd, ons bydrae by ons werk en in ons lewe. Ons moet almal gee wat ons het, al voel dit klein of min. En al is ons offers nie perfek nie en al lyk ons buurman se offer na veel meer. Jesus meet nie soos ons nie. Sy “standaard” is nie soos ons s’n nie.

Jesus het die Almagtige God “Abba” genoem – dit beteken “Vader”. Daarmee wou Hy ons iets leer oor God se karakter. Ons weet nou dat God na ons offers met Vaderoë kyk, oftewel met die oë van ’n pappa. Hy kyk verby die klein foutjies en die minder-perfekte dele, en Hy sien die hart waaruit die offer kom.  

Mag jy met die hart van ’n kind – wat sy of haar mamma op Moedersdag bederf – jou offers aan die Here bring.

  • Simone Gaucheis ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.