Dis reeds vyf jaar sedert die wrede moord op Heidie Taljaard se ouers en sussie op hul plaas naby Hartswater. Die moordenaars is vasgetrek en swaar gevonnis, maar Heidie kon hulle nog nie vergewe nie. Sy het wel ’n manier gevind om met al die trauma saam te leef.
Hoe vergewe jy jou geliefdes se moordenaars?
Dis ’n kwessie waarmee Heidie Taljaard (51) van Kaapstad reeds langer as vyf jaar worstel. Haar pa, Dan Brand (83), ma Breggie (73) en sussie Elzabie (54) is vyf en ’n half jaar gelede grusaam op hul plaas naby Hartswater vermoor.
Heidie vertel: “Ná die verlies van my geliefdes het my wêreld uitmekaar geskeur. Die barbaarse wyse waarop hulle vermoor is, het my laat twyfel aan my oortuigings. Aan my begrip van ’n regverdige en liefdevolle God.
“My geloof, wat altyd my rigtingwyser was, het aanvanklik flou gevoel. Ek was kwesbaar en die onbeskryflike seer was versmorend.”
Die datum sal haar altyd bybly: Sondag, 26 Julie 2020. Skuins ná twaalf daardie middag het drie booswigte Dan, Breggie en Elzabie in die plaaskombuis oorval en ernstig aangerand. Daarna is hulle na ’n afgeleë plek geneem waar hulle brutaal vermoor is.

“My sus Trudie en ek het eers die volgende dag onraad vermoed omdat my ouers nie hul foon beantwoord het nie. Ek het ’n ou skoolvriend gevra om te gaan kyk wat aangaan.”
Toe kom die nuus: “Heidie, ek is baie jammer. Hier is moeilikheid. Die agterdeur is oopgebreek. Daar is baie bloed. Ons kry hulle nie.”
Heidie probeer beskryf wat sy daardie dag ervaar het: “Angs en ’n desperate vrees klou om jou hart. Jy bid met alles in jou: ‘Asseblief, Vader, beskerm hulle, hou hulle veilig, bring hulle na ons toe terug.’
“Jy probeer hoop – totdat alle hoop van jou af weggeneem word. Totdat dit voel asof iemand jou hart stukkie vir stukkie uit jou borskas ruk. Al wat jy kan doen, is om in ’n bondeltjie op die grond neer te sak en te huil. Daardie soort huil wat jou binneste oopskeur.
“En dan weet jy: Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.”
Vyf verdagtes is daardie Maandag in hegtenis geneem.

“Die eerste paar dae ná die aanval het ek asof in ’n waas geleef. My emosies het my oorweldig en niks wou regtig sin maak nie. Johan Kloppers, ’n traumaberader van Hark Consulting, het ons in daardie tyd ondersteun. Hy was ook saam met ons by amper elke hofsitting.
“Dit was buitengewoon moeilik om daardie misdadigers, waarvan drie op 8 Maart 2025 skuldig bevind is, in die hof te sien. Ek het na hul hande gestaar, daardie ongenaakbare hande. Ek het hulle in die oë gekyk en geweet dit was die wrede gesigte wat ons geliefdes vir oulaas gesien het.”
Heidie se verlange na haar ouers, wat 56 jaar lank getroud was en wat diep in haar lewe verweef was, was oorweldigend. “My pa het almal met wie hy in aanraking gekom het altyd belangrik laat voel. Hy het my geleer hoe lyk lojaliteit, integriteit en liefde. Ons was sy alles.
“My ma was die mooiste vrou op aarde, met haar sielvolle, hemelblou oë. Sy was die perfekte kombinasie van liefde, krag en vasberadenheid. Ons het elke dag vyf of ses keer met mekaar gepraat. Sy het my altyd geterg en gesê dat my naelstring nooit regtig geknip is nie.
“My sus Elzabie was ons ousus met die sagte, mooi siel en onwrikbare geloof. Sy het ná haar egskeiding by my ouers op die plaas gewoon.”
Hul laaste oomblikke
Heidie vertel van haar emosionele stryd: “Ek het reeds ’n ontelbare aantal kere aan hul laaste oomblikke gedink. Hoe onmenslik traumaties dit moes gewees het. Die oorweldigende vrees wat hulle moes ervaar het.
“Geen salf, geen medikasie, kan hierdie seer genees nie. Jy weet net dat jy die letsels vir die res van jou lewe saam met jou sal dra. Daardie gebeure het my op byna elke vlak geraak: My eetlus het verdwyn, my liggaam verkeer voortdurend in spanning, en emosioneel voel ek soms afgestomp en maklik oorweldig. Hartseer, woede, magteloosheid en skuld wissel mekaar af. Ek sukkel om te slaap en kry nagmerries.
“Die vrou wat ek voor 26 Julie 2020 was, bestaan nie meer nie. Ek is broos. En al glimlag ek na buite, verg dit al my krag om deur die dag te kom. C S Lewis beskryf in A Grief Observed hoe rousmart dikwels soos vrees voel. Voortdurende spanning. Oorweldigende rusteloosheid. Dit het vir my ook so gevoel.”

Om uiting aan haar emosies te probeer gee, het Heidie begin skryf. Haar boek Hartswater. Die rou van onthou het einde November 2025 die lig gesien.
Kon sy die aanvallers vergewe?
“Wanneer jy die nagmerrie van die verlies aan jou geliefdes beleef en die tekens van hul laaste worsteling gesien het, is vergifnis nie eenvoudig nie. Jy ervaar totale magteloosheid, angs en hartseer. En die oorverdowende geluid van ’n hart wat versplinter. Die rou krete van ’n geskokte siel.
“En tog gaan die wêreld en sy dinge voort – terwyl jy vasgevang sit in jou pyn. Mense sê dikwels dat vergifnis jou baat, dat jy daardeur vrykom. Hulle haal Jesus se kruiswoorde in Lukas 23:34 aan: ‘Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.’ Dan begin jy voel dat jy, en selfs jou Christenskap, tekort skiet.”
‘Mý vergifnis gaan hulle nie verander nie’
“Maar ek het besef dat vergifnis sonder berou eintlik niks beteken nie. Sonder skulderkenning kan selfs God se vergifnis nie ontvang word nie. My vergifnis kan nie die skuldiges verander nie. En ek kan nie hul dade regverdig nie.

“God ken my hart. Hy verstaan elke emosie wat in my woed. Om iemand nié te vergewe nie, beteken nie hulle hou my gevange nie. Ek bevry myself met die erkenning dat daar goddelose mense in die wêreld is en dat hulle soms afgryslike dinge doen. En sonder berou, blý hulle sleg.
“My vergifnis gaan hulle nie verander nie. My vergifnis gaan nie van hulle goeie mense maak nie. Ek kán hulle nie vergewe vir wat hulle aan my geliefdes en aan ons gedoen het nie. Vergifnis voel onregverdig. Die feit dat die skuldiges nooit ’n opregte verskoning aangebied het nie en geen berou getoon het nie, weeg swaar. Dit is waarskynlik my grootste oorweging.
“Miskien sal ek eendag werklik kan sê dat ek hulle vergewe het. Maar nie nou al nie. Ek weet God is die Regter en dat die regspraak uiteindelik in sy hande lê. Maar Hy ken my hart. Hy ken die ondraaglike seer waarmee ek elke dag moet saamleef.
“En dít is vir my genoeg. Want hoewel ek intens met God geworstel het, het my geloof nie verdwyn nie. Dit het eerder verdiep. Ek het besef dat God nie die oorsaak van die kwaad is nie, maar dat Hy teenwoordig is in ons seer.
“Clarissa Pinkola Estés stel dit so mooi in haar boek Women who run with the wolves: ‘We are carried by the Creator like feathers dancing on the wind.’
Met verloop van tyd en deur groot genade, en haar man Wikus se liefde, het hierdie ma van twee vertroosting gevind in die liefde en herinnerings wat sy met haar gestorwe geliefdes gedeel het. “En al is die ontsettende hartseer steeds jou immerteenwoordige metgesel, het ek ’n manier gevind om daarmee saam te leef, om elke dag op te staan.
“Iewers het die dankbaarheid wat in alledaagse oomblikke te vind is my anker geword: die vreugde van ’n koppie tee, die skoonheid van ’n sonsondergang oor die see, die helder spatsel kleur van ’n blom in die veld, die geselsies met my kinders en die lag in hul oë.
“Ek verkies daarom om soos Habakuk te antwoord: ‘Al sou die vyeboom nie bot nie, sal ek juig in my God my Redder.’
“Ek sal steeds glo.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















