Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Traumaberader ná 340 plaasaanvalle maak hart oop: ‘Ek bid vir insig en vrede op toneel en vir beradingsproses daarna’

“Ja, ek huil soms saam met diegene wat geliefdes tydens ’n plaasaanval verloor het. Dit is nie ’n teken van swakheid nie; dis eerder ’n soort voorkomings-meganisme wat verhoed dat ek afgestomp raak. Ons leef immers in ’n gebroke wêreld.”

Só gesels traumaberader Johan Kloppers (54) van Pretoria, wie se passie dit is om slagoffers ná ’n plaasaanval by te staan. Hy luister na hulle, gee berading, en stap saam met hulle die pad. Soms baba-treetjies, sê hy, want elkeen lê dié swaar reis teen ’n eie tempo af.

Johan is ’n oudpolisieman met ’n sagte hart. Hy vertel hy het die afgelope agt jaar met meer as 340 plaasaanvalle en -moordsake te doen gehad. Hy beskik oor meer as 30 jaar se kennis en ervaring as misdaad-ondersoeker en meer as tien jaar se ondervinding as geregistreerde traumaberader.  

“Maar geen so ’n insident is dieselfde as ’n ander een nie. Elkeen bring ’n eie trauma, seer en gebrokenheid.”

Op pad na die misdaadtoneel

Op pad na ’n plaas toe ná ’n aanval, bring Johan gewoonlik tyd saam met die Here deur. Hy luister meestal na Christelike musiek en na preke. “Wanneer ek die plaas nader, sal ek die USB-stokkie op random stel. Dis dan vir my kosbaar as daar ’n lied speel wat berusting bring, wat my onstuimige gemoed laat bedaar.

LEES OOK: ’n Ouma vertel: ‘Ek het die moordenaars vergewe’

“Wanneer ek by die plaashek aankom, sal ek eers stilhou en uitklim. En dan stil word en bid. Ek sal vra vir insig en innerlike vrede. En vir gesag in die Vader se Naam. In en deur myself kan ek nie doen wat ek doen nie.”

Hy vertel: “Niks kan my emosioneel voorberei op wat ek sal beleef wanneer ek uitgeroep word nie. Ek weet gewoonlik nie wat om op daardie plaas te verwag nie. Soms tref sekere dinge my soos ’n vuishou in die maag: die baie bloed, die reuk daarvan. Ook die diere wat lyk of hulle treur.”

‘Waar was die Here dan?’

“Tydens die eerste ontmoeting is dit daardie mens wat deur die aanval geraak is se reg om te huil of te skreeu of om niks te sê nie. Vir hom of haar maak niks dan sin nie. Ook berading binne die eerste 72 uur ná die aanval beteken nie veel nie. Ek is in dié eerste tyd doodgewoon teenwoordig by elkeen wie se wêreld inmekaargestort het. Al wat ek doen, is luister.

“Luister is wel meer as om bloot iets aan te hoor. Luister is ook om dit wat onuitgesproke bly aan te voel, om die vrees en pyn raak te sien, om ’n veilige ruimte te skep.”

Daardie eerste sessie duur gewoonlik so twee ure. Hier moet twee mense – die slagoffer en die helper – mekaar eers takseer voordat daar behoorlik gepraat kan word. Of dalk min en selfs geen woorde gesê word nie. Ná twee dae sal Johan die besoek opvolg met ’n teksboodskap wat ’n klompie ondersteunende gedagtes bevat. 

“Kyk, dit was ’n traumatiese gebeurtenis en ek moet eers die betrokkenes se vertroue wen. In daardie stadium is dié mense bitter kwaad, hulle is van al hul vertroue gestroop. Hulle wil niks van die Here weet of hoor nie.”

Een van die eerste vrae wat Johan kort ná so ’n gruweldaad aanhoor, is: “Hoekom laat God dit toe?” Ook: “Waar was die Here dan?”

Johan sê: “Dis vir my bitter moeilik om op daardie oomblik enige antwoord te gee, want in my hart weet ek dat ons ’n God van liefde dien, ’n Here wat omgee. Maar dis nie wat die slagoffer wat daar voor jou staan op daardie oomblik wil hoor nie.”

Johan sê dat ook hy in sulke tye met die Here stoei. En wanneer hy van ’n plaas wegry, word dit op die spits gedryf. Hy vertel: “Ek is ’n mens wat dinge wil uitredeneer, en daarom is my binnegesprek dikwels driftig en vol emosie. Soms wil ek stilhou en uitklim en dit uitskreeu: ‘Waarom, Here? Niemand verdien dit om so te sterf nie! Waarom moes dit gebeur?’”

Dit duur soms lank …

Soms duur dit lank voordat ’n slagoffer positief reageer op Johan se ingryping. Hy vertel van die boer wat hom ná meer as ’n jaar gebel het met dié versoek: “Johan, sal jy vir my kom bid, asseblief.”

Hy het geantwoord: “Ek sal graag sáám met jou wil bid.”

Daarop het hy die boer gaan besoek. “Ons twee het in die veld gaan stap en saam gekniel en saam gebid. Dit alles is die Here se werk.

“’n Tannie het op ’n keer, ná haar man se dood, dit só gestel: ‘Onthou, my kind, die oë is die vensters van die siel. En hulle moet gereeld gewas word.’”

’n Plaasaanval wat hy altyd sal onthou, het in die Bonnievale-distrik plaasgevind. Die boervrou is eers oorval en gemartel voordat haar man gemartel is, en toe weggeneem is om vermoor te word.

Johan vertel: “Ek het in die murasie gestaan waar die boer se liggaam gevind is, terwyl die gebeure in my geestesoog afgespeel het. Ek het die ou, donker bloed opgemerk. Toe het ek omgedraai, na buite gestrompel en sommer in die wildegras en bossies gaan sit.

“Geen mens verdien dit om so te sterf nie!”

’n Plaasaanval is meer as wat die woord aandui

Plaasaanvalle vind landwyd plaas, sê hy, en dit raak mense van alle groepe en rasse, alle ouderdomme en albei geslagte. Hy was al betrokke by kinders so jonk soos vier jaar, en grootmense wat ouer as 80 is. Die jong kinders verwys hy gewoonlik na ’n kinderberader en ander terapeute.

Hy voeg by: “Die woord ‘plaasaanval’ verreken nie regtig wat gebeur wanneer onskuldige mense wreedaardig aangeval, aangerand en soms doodgemaak word nie. Die woord beskryf nie die rou smart wat dit ontketen nie, die trane wat gestort word wanneer dié wat agterbly vir jou probeer verduidelik wat gebeur het nie.”

Herstel ’n slagoffer ooit ná sulke traumatiese gebeure?

“Niks en niemand is ooit weer dieselfde nie. Eenvoudig alles het verander. Ek glo en vertrou dat dit mettertyd beter word, dat die gebeure dalk verder van jou af verskuif. Maar dit verdwyn nooit heeltemal nie, dit bly ook deel van die nuwe pad wat jy moet loop.”

‘Ek is net ’n mens, maar ek is bereid om jou te help’

Johan, wat eers vir AfriForum gewerk het, het ná ’n geloofsbesluit sy eie onderneming, HARK Consultancy, op die been gebring. Hy spreek gereeld boere toe en tree by damesoggende op.

Sy veilige hawe is sy vrou Hannelie en sy huis. En in die bos en by die see kan hy stil word, kalm word.

Dit is broodnodig, want sy werk het ’n groot impak op hom. “Ek is net ’n mens. Ek beskik oor mentors en ek het ’n ondersteuningsnetwerk wat my help om na myself om te sien. Soms word die hulpeloosheid, en die woede wat jy moet onderdruk, en die trane wat onbeheers begin vloei, net te veel …”

Hy verwys na Lukas 8:46 wat gereeld aan sy hart kom klop wanneer hy moeg is en gedreineer voel. Dit lui só: “Maar Jesus antwoord: ‘Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat daar krag van My uitgegaan het.’”

Ten slotte sê hy: “Plaasmoorde en -aanvalle is ’n werklikheid en dit sal ongelukkig nie sommer ophou nie. Maar daar is hulp, heling en hoop. En ek is bereid om jou te help op jou pad na herstel en genesing.”

  • Kontak Johan Kloppers by hark.consult@gmail.com
  • Op die hooffoto is Johan by Wikus en Heidi Taljaard wie se ouers en suster op hulle plaas vermoor is. Foto verskaf

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF