Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Moenie te vinnig omblaai nie

In die aande voor slaaptyd lees ek vir my seuntjies uit ’n storieboek en hulle Kinderbybel. My seuntjies weet dat ons altyd van links na regs lees. Elke aand terwyl ek besig is om die linkerkantste bladsy te lees, sal hulle vooruit kyk na die prentjie aan die regterkant en my begin vrae vra oor wat daar aan die gebeur is. Elke aand verduidelik ek aan hulle dat hulle moet wag totdat ons daar uitkom, om uit te vind. Ten spyte van die voorspelbaarheid en roetine gebeur dit elke liewe aand. Ek weet nie of dit nuuskierigheid of ongeduld is nie, maar ek raak gefrustreerd omdat niemand luister na wat ek besig is om te lees nie. Hulle is altwee te besig met die prentjie op die volgende bladsy!

LEES OOK: Jou groot troos: Dit sál verbygaan …

Elke aand gee ek dieselfde verduidelikings: “Wag tot ons daar kom, ons is nog nie daar nie. Ons gaan net-nou uitvind. Luister en let op om uit te vind wat daar gebeur.”

Leer my kinders dit by my?

Later dink ek by myself dat volwassenes presies dieselfde ding doen. Ons is gedurig besig met dit wat kom. Ons leef onsself só in die volgende bladsy in, dat ons geen idee het wat op die huidige bladsy aan die gebeur is nie en so verloor ons dikwels geheel en al die plot van die storie.

Ons is so behep met ons vrese vir die toekoms óf besig om te beplan vir dit wat ons dink kom, dat sommige bladsye ongesiens by ons verbygaan. Die probleem is dat in die storie van ons lewe ons nooit die bladsy wat besig is om voor ons oë af te speel, kan inhaal nie. Elke boek het net ’n sekere aantal bladsye en as dit verby is, is dit verby.

Jesus het geweet hoe maklik ons as mense in hierdie strik trap en sê in sy bergrede: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matt 6:34).

Dit baat ons niks om ons met die toekoms besig te hou nie. Die volgende bladsy is onvermydelik, maar die afleidings wat ons maak oor wat op pad is, is dikwels heeltemal verkeerd. Baie van die dinge wat ons vrees, gebeur nooit werklik nie. En soms is daar ’n kinkel in die storielyn en daar gebeur iets wat ons heeltemal onkant vang, iets wat ons nooit sou kon voorspel deur na die prentjie op die volgende bladsy te kyk nie!

Jakobus verstaan iets hiervan wanneer hy waarsku: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn” (Jak 4:13-14).

Al wat ons werklik het is vandag en nou.

Ons weet nie wat op die volgende bladsy staan, of wat dit vir ons gaan inhou nie. Dit help ook nie om te wonder of onsself daaroor te bekommer nie. Ons ken egter die Een wat die boek geskryf het. Hy is altyd dieselfde en ons kan op sy goedheid vertrou. Ons weet dat die uiteinde van die storie vir ons ten goede sal meewerk en dat die storie wat Hy vir ons lewe skryf oneindig beter gaan wees as enige storie wat ons self sou kon uitdink. Daarom kan ons onsself inleef in die huidige bladsy en die beste van elke oomblik maak.

Mag jy dit regkry om teenwoordig te wees en elke oomblik van vandag se bladsy in te neem.

“Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps 118:24).

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF