As jy daarvan oortuig is dat God self ’n droom in jou hart geplant het, sal jy weet dat jy dit moet najaag. Ongeag die omstandighede, ongeag jou ouderdom. Én, sal jy ook weet, so ’n droom word nie bloot vir eie gebruik aan jou toevertrou nie.
DEUR CONETTE LE ROUX
Dit is nooit te laat om jou droom te begin leef nie – dit maak nie saak hoe vergesog dit vir ander klink nie. Dit het die Paarliet Ilse Beverley, Pilates-instrukteur en persoonlike afrigter, die afgelope ruk geleer.
Dié 39-jarige vrou en haar spanmaats is op pad na die derde Gim(nastics) for Life-wêreldkampioenskap in Noorweë waar sowat 2 000 gimnaste in Julie vanjaar gaan deelneem.
Ons ontmoet mekaar – en sy begin dadelik verduidelik oor die netjiese klere wat sy vir dié geleentheid aangetrek het. “Dit voel skoon vreemd!” lag sy. “Ek dra dan elke dag oefenklere …”
Maar gou gesels ons oor drome, en oor haar oortuiging dat haar drome nie bloot vir persoonlike vervulling aan haar gegee is nie. “Nee, God gee ons drome veral ook aan ons om ander mense daarmee aan te raak.”Ons ontmoet mekaar – en sy begin dadelik verduidelik oor die netjiese klere wat sy vir dié geleentheid aangetrek het. “Dit voel skoon vreemd!” lag sy. “Ek dra dan elke dag oefenklere …”
God, die Droomgewer
Alles het in 2011 begin toe Ilse tydens die swangerskap met haar seuntjie Samuel (vandag 5) gewens het om te kan gimnastiek doen. “My liefde vir gimnastiek kom al ’n baie lang pad. Ek het in Strydenburg in die Karoo grootgeword, en daar het ons nie die voorreg gehad om gimnastiek te kan beoefen nie.
“Ek was egter van kleins af gek daaroor om wawiele te doen, en handstane, en sulke dinge. Toe ek ’n kind was, was my bene meer in die lug as op die grond!” Die geleentheid om dié vaardighede te ontwikkel, was haar egter nie beskore nie.
Ook later, toe sy al ’n grootmens was, het sy gesukkel om ’n plek te vind waar sy haar passie kon uitleef. “Ek het wyd begin soek na ’n plek wat gimnastiek vir volwassenes aanbied,” vertel sy. “Maar oral waar ek navraag gedoen het, het die mense gedink ek maak ’n grap.”
In Januarie 2012, toe klein Samuel vier maande oud was, het sy vir die eerste keer oor dié begeerte begin bid. Haar man Bryan, ’n tuinboukundige, het saamgebid.
Ilse vertel: “Ek is maar ’n introvert, ek praat nie so baie nie. Maar ek praat oor álles met God, en dan skryf ek dit neer. Ook dit wat ek beleef Hy vir my wil sê.”
In daardie tyd het sy ervaar dat God, vir wie sy as haar droomgewer bestempel, haar aanmoedig om haar droom te verwesenlik – omdat Hý hierdie begeerte in haar hart geplaas het. Daarvan was sy oortuig.
Maar die pad na die verwesenliking daarvan was nie altyd maklik nie. Hieroor is sy vandag heel filosofies: “As ’n mens jou droom najaag, kom daar altyd moeilike tye.
“Maar jy moenie opgee nie. In Prediker 5:3 – in die Amplified-vertaling – lees ons dat ’n droom met pyn en harde werk verwesenlik word. Dit is ook in dié tye dat jy groei, dat jou karakter ontwikkel en dat jy God beter leer ken.”
In 2012 het sy by die Wynland-gimnastiekklub gaan aanklop, en daar is sy aangeraai om eers kragoefeninge te gaan doen. Beginners moet eers gimnasium toe …
Later het sy by die Stellenbosch-gimnastiekklub begin oefen, maar die ryery tussen die Paarl en Stellenbosch op bepaalde, vasgestelde oefentye was later ’n té groot uitdaging – veral met ’n klein babatjie in hulle gesin.
Uiteindelik het Lisa Smit, ’n gewese gimnas, haar in haar tuisdorp begin afrig.
En toe kom 2013. Ilse woon die tweede Gim for Life wêreldkampioenskappe in Kaapstad by. Dit verbyster haar. En sy begin wonder: Hoe sal dit wees as ek ook daar kan deelneem? Hoe sal dit wees as daar ’n groep deelneem wat daarop toegespits is om tot die Here se eer op te tree?
“Toe praat ek met die Here … en ek ontvang by Hom die opdrag om ’n groep bymekaar te kry waarvan die uitsluitlike doel is om Hom op hierdie vlak te verteenwoordig. Om só as ambassadeurs vir Christus op te tree.”
In 2016 is hierdie opdrag uitgevoer, die droom was fluks op weg om verwesenlik te word, en die groep Creation is gestig – op daardie stadium vyf dansers en tien gimnaste.
Die groep het feitlik onmiddellik sukses gesmaak. Ilse vertel: “Ons het eers by die distrik-kompetisie deelgeneem, waar ons dit gelukkig reggekry het om vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap te kwalifiseer. En daar verower ons toe ’n silwer medalje!”
En nou wag die grote – die derde Gim for Life-wêreldkampioenskap op
25 Julie in Noorweë. Vanjaar bestaan die Creation-span uit Ilse en vier ander: Ilse se dogtertjie Rebekah (8), Emily Hanekom (11), Catharine la Grange (12) en Steflynn Cloete (13).
En hulle kan nie meer wag nie. Die vliegtuigkaartjies lê al reg …
’n Magtige donderstorm
Maar die vlugkaartjies het nie in hul skoot geval nie. Die spanlede moes noodgedwonge uitspring en self die geld daarvoor bymekaarmaak. Hulle het lootjies verkoop, en ou klere, en wat nog nie alles nie …
Op die ou end het hulle ook borge gekry, en hieroor is hulle baie dankbaar.
Omdat hulle hul dansroetine aan God wy, het Creation hul begeleiding uit vyf Michael W Smith-liedjies saamgestel. En dit ten spyte daarvan dat hulle afgeraai is om op maat van Christelike musiek op te tree.
Hul roetine heet “Thunderstorm Creation” en bestaan uit ’n kombinasie van dansbewegings, gimnastiek en die bou van formasies. Hiermee, sê Ilse, probeer hulle om ’n tweeledige boodskap oor te dra:
“Diere, bome en mense is baie afhanklik van die seën wat water bring,” vertel sy. “Ons het dit só nodig om te oorleef. Boonop bring ’n Afrika-donderstorm van die wonderlikste geluide voort. Maar dit laat jou ook besef hoe nietig jy is.
“Daarna volg ’n byna onheilspellende stilte, voordat die lewegewende reën elke lewende ding aanraak. Dan reageer die lewende dinge deur dié wonderlike verskynsel te vier.
“Ons probeer om met ons optrede uitdrukking te gee aan die magtige geluide en ritme van die donderweer, én aan die reën wat heel maak. Ten slotte begin almal feesvier, hulle dans en sing omdat die riviere begin vol word.”
Maar agter die uitbeelding van die woeste storm, lê ook ’n dieper boodskap: God gee lewe deur sy Gees. Om aan Hom te behoort, gee jou die grootste moontlike rede om fees te vier, te sing en te dans.
Die span bid dat mense se hart werklik aangeraak sal word deur hul optrede. Dat die toeskouers God se teenwoordigheid in die dansroetine sal beleef.
“Die doel van ons deelname en ons spesifieke dansroetine is om God daar te verteenwoordig,” sê Ilse. “Om sy opdrag uit te voer én om dit te geniet. Ons oefen hard en ons gee aan Hom al die eer, want Hy maak alles moontlik. Al die goeie dinge wat tot dusver met ons gebeur het, is deur God moontlik gemaak.
Deur dit alles inspireer Ilse boonop haar spanlede om selfs verder te droom. En wie weet: Dalk lewer dié span eendag ’n Olimpiese gimnas op, en ’n Protea-hokkiespeler.
En dalk ’n onderwyser of twee wat die mense in hul omgewing kan aanraak en inspireer.
Ilse sê: Droom groot!
- Elke mens is geskep omdat God ’n spesifieke doel met daardie mens het.
- God die Skepper ken sy skepsels. Jy is uniek deur Hom gemaak.
- Gaan leef die droom uit wat Hy in jou geplant het. Dit is nooit te laat nie.
- Moenie luister na mense se negatiewe opmerkings nie; luister na God.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.