’n Jaar gelede het Minke Brits haar ma aan die dood afgestaan ná ’n lang stryd teen kanker. Emosioneel gesproke het dit ’n tol geëis, maar deesdae vat Minke se sangloopbaan behoorlik vlam. Sy is onlangs deur die publiek as een van die twaalf gewildste kunstenaars by die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings aangewys.
Ondanks die feit dat die sangeres Minke Brits (24) tans baie vinnig teen die suksesleer opklim, was haar lewe tot onlangs nie maklik nie. ’n Jaar gelede het sy haar geliefde ma Meliza ná ’n vier-en-’n-half jaar lange stryd teen kanker verloor.
Meliza is verlede jaar op 5 Oktober oorlede nadat sy in 2018 met liposarkoom gediagnoseer is. Sy was maar 50. Volgens Minke is dit ’n baie seldsame soort kanker wat in die liggaam se vetselle ontwikkel.
“Aanvanklik was ons bitter geskok,” vertel Minke. “Tog het sy nooit gekla nie. Soms het ons amper vergeet dat sy ’n lewensbedreigende siekte het. Dit was eers tydens die laaste drie maande dat sy maer geword en swak begin voel het. Haar lyf was moeg gebaklei.”
LEES MEER: LUISTER: Jan de Wet se seun Arnold wil vuur vir Jesus met dié lied aansteek
Genadetyd
“Ná elk van die talle operasies was ek daar om haar te help, om kos aan te dra, om haar te help bad. My pa Pieter en die res van ons gesin – ek is een van drie kinders – het elk hul deel gedoen. Ek het die druk wat op hulle was probeer verlig. Dit was slegs deur die Here se krag en genade dat ek dit kon regkry.
“Dit was baie moeilik om haar te sien swakker word nadat sy so lank probeer het om sterk te bly. Sy het met ons gepraat oor wat moet gebeur as sy nie meer daar is nie. Ons het dus genadetyd gehad, tyd om jammer te sê, tyd om raad te vra. Sy het altyd vir my gesê dat ek ‘in die oomblik’ moet leef, dat niks my moet terughou nie.
“Ek het gebid dat die Here my ma se kanker wegneem. Ek onthou dat ek op ’n keer op die gras op my knieë neergesak het. Ek was so kwaad, so verward, so hartseer. Ek het na Bo geskree, ek het die Here gevra waarom dit met my ma moet gebeur. En al het ek dit nie verstaan nie, het ek besef ek kan God nie kwalik neem vir hierdie seerkry nie.
“Ek sou nie hierdeur kon kom sonder my familie en vriende en die mense van ons kerk nie. Ek het God in mense raakgesien, hoe Hy mense gebruik om ander op te bou. Om krag te gee, hoop en liefde.
“Ek was bevoorreg om by my ma te kon wees toe sy haar laaste asem uitgeblaas het. God het ons almal gedra sodat die hartseer nie so erg was nie. Dit was ’n bittersoet oomblik toe sy gaan, toe ek besef haar pyn en lyding is nou verby. Maar dis so hartseer dat ek haar nie meer kan vashou nie. Dat ek nie haar mooi lag en glinsterende blou oë kan sien nie.
“Ek neem God nie meer kwalik nie. Ek het opgestaan, aangegaan en sterker geword. My ma sou wou hê dat ons gelukkig moet wees en nie in ’n swart gat beland nie.
“Ek was so baie lief vir haar! Sy was my beste maatjie, my ‘cheerleader’, sy was altyd ‘daar’ vir my. Sy wou hê ek moes gloei soos ’n lampie, terwyl sy die fondament onder my was. Sy was ’n positiewe mens, iemand wat altyd die lewe se blink kant raakgesien het.
“Ek probeer nou haar voorbeeld volg. En al die mooi herinneringe koester. Ek glo dis goed om te huil as die emosie jou beetpak – maar om dit dan daar te laat. Ek glo ook dis goed om oor haar te praat en om alle gevoelens in ’n joernaal neer te skryf, al is dit hartseer en al spat die trane. Dit bring verligting.”
Hoop en ’n glimlag
Haar ma se dood het Minke se musiekloopbaan negatief beïnvloed. Dit kon nie anders nie. “Ek kon nie meer liedjies skryf nie, ek sukkel trouens steeds daarmee. Tog het ek vir my ma ’n liedjie in Afrikaans geskryf, ‘Bou aan ’n Vrou’. Dis geïnspireer deur ’n vers in Psalms. Ek tree steeds op,maar ek mis haar by die optredes.”
Minke se passie vir musiek kom van kleintyd af. Sy was van jongs af betrokke by musiekteater. Sy speel klavier, ukulele en kitaar. Op haar ma se aandrang het sy so ses jaar gelede begin liedjies skryf. Sy het sanglesse by die sangafrigter Carlé Weber geneem, en dié het haar geleer liedjies skryf. Een van haar eerste pogings was “Possibility of positivity”, ’n liedjie waarop sy baie trots is.
Sy het dit vir ’n kompetisie ingeskryf, en daarmee die toekenning as beste liedjieskrywer ingepalm. Sy is boonop as algehele wenner aangewys.
“Ek was oorstelp van blydskap! Ek het besef dat God ’n plan met my lewe het. ’n Deel van die prys was die maak van ’n musiekvideo, die opneem en die verspreiding van my liedjie. Dis op elke denkbare sosiale platform geplaas. Daar is radio-onderhoude gereël. Dit alles het daartoe gelei dat my sangloopbaan vlamgevat het.”
Die afgelope jaar word Minke se sangloopbaan deur Select Musiek hanteer. Sy skryf nou liedjies met ’n inspirerende boodskap, musiek wat jou laat goed voel, wat hoop bring en jou laat glimlag.
Tussen groot name
Minke kan bars van trots nadat sy onlangs deur die publiek as een van die finaliste by die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings aangewys is. “Ek was eintlik geskok – wat ’n voorreg! Ek het nie eens geweet my naam is op daardie lys met 129 sangers nie, en dit tussen groot name soos Riana Nel, Steve Hofmeyr, Elandré, Andriëtte en ander. En daar is ek toe een van die top 12! Dit maak my net meer vasberade om nog harder te werk.”
Sy het nou reeds ses liedjies vrygestel, drie in Engels en drie in Afrikaans. Haar jongste een, “Vellies”, is in September vanjaar vrygestel. Dis ’n lekker dansliedjie.
“My groot droom is om op die Afrikaans is Groot-verhoog te sing. Daarom wil ek nog baie blootstelling hê en goeie liedjies skryf, sodat ek nog groter hoogtes in my sangloopbaan kan bereik.
“Ek wil ook graag ’n sakevrou word. My wonderlike man, JP Malherbe, werk met verkope en bemarking, en hy weet hoe om my daarmee te help.”
Volgens Minke was haar en JP se ontmoeting twee jaar gelede sommer liefde met die eerste oogopslag. En die knoop is op 1 Oktober vanjaar deurgehaak. “JP is ’n wonderlike, mooi man vir wie ek so lief is! Hy verryk my lewe. Hy het soveel gebroke stukkies in my hart kom heelmaak. Ek sien daarna uit om die res van my lewe met hom te deel.
“Gelukkig het my ma, voor haar dood, vir JP ontmoet. En sy het van hom gehou.
“Ek het die afgelope jaar soveel gegroei in my geloof! Ek dien die Here en het ’n persoonlike verhouding met Hom. Hy het my ryklik geseën. Daarom gee ek alle eer aan Hom.”