Grace Stevens (48) van Plumstead in Kaapstad het vroeër in haar lewe ʼn bykans ondenkbare dubbele verlies gely: Vanweë ’n seldsame geboortedefek het twee van haar babas se skedel nie ontwikkel nie.
Sy praat graag oor dié twee dogtertjies. Daarby sê sy: “Dis belangrik om uit te reik na ander mammas wat ook ʼn kind verloor het. Daar is ʼn band wat my met hulle saambind – een van omgee, verstaan en gedeelde smart.”
“Mense verwys my gereeld na ma’s wat ook ʼn kind of kinders verloor het, en dis vir my belangrik om na hulle uit te reik. Ek weet dis ʼn bitter eensame pad.

“Ek onthou hoe alleen ek was. Ek onthou ook hoe mense, jare nadat ek my kinders verloor het, my nie juis toegelaat het om oor hulle te praat nie. Volgens daardie mense was die rouproses iets van die verlede, volledig afgehandel.
“Baie mense luister wel na jou storie, maar teësinnig, want dit maak hulle ongemaklik. Hulle laat jou slegs toe om jou seer te wys as jy die verlies onlangs gely het. Maar ek weier om my verlies in ʼn boksie weg te pak.
“Soms voel ek dat ek dit nou aanvaar het, net om dan deur ʼn lied of ʼn bepaalde reuk of geluid gekonfronteer te word. Dan breek my hart opnuut. Daar is geen afsnypunt vir verlange nie.”
‘Mense gee graag raad, maar …
Grace het reeds ʼn seun gehad, Kellan, toe sy uitvind sy is weer swanger. Maar tydens die 12 weke-skandering het die dokter bevestig dat die dogtertjie wat sy verwag aan anensefalie ly. Haar skedel was dus nie gevorm nie, wat beteken dat daar niks was wat haar brein beskerm nie. Dis ʼn noodlottige defek. Volgens Grace loop daar, geneties gesproke, iets verkeerd en dan word die neurologiese ontwikkeling van die brein belemmer. Daar was indertyd ook nie genoeg navorsing beskikbaar wat kon help bepaal of so ʼn fetus lewensvatbaar is of nie.
LEES OOK: Een van my tweeling sterf; die tweede enetjie leef: ‘God het my trane gesien’
“Die standaardpraktyk destyds was om die swangerskap onmiddellik te termineer. Daar was baie druk op my om dit so te laat doen. Selfs die vrou wat die sonar uitgevoer het, het my aangeraai om die swangerskap dadelik te beëindig. Ek het dit as koud en klinies ervaar, en uiters onsensitief.
“My beste vriendin het haar rug vir my gedraai nadat ek uiteindelik besluit het om die swangerskap wel te termineer. Daar was ook druk van my familie se kant om nie die swangerskap te beëindig nie. Ek kon dit nie glo nie. Mense is mos oor die algemeen gemaklik daarmee om raad te gee, al hoef hulle nie met die gevolge van sulke raad saam te leef nie …
“Daarby is my ouers gelowige mense. My pa was ʼn leraar by die Presbiteriaanse kerk; die druk was dus erg.
“Ek het regtig nie kans gesien om die volle termyn swanger te wees en dan uiteindelik die verlies te ly wat ek weet ek sou ly nie.
“Ná die terminering was ek deurmekaar van die narkose, ek het na my baba gesoek. Ek het later besef dat sy, volgens die mediese personeel, nie regtig ʼn baba was nie; sy was bloot mediese afval wat verbrand moes word.
“Ek is baie visueel ingestel en ek kon dié beeld net nie uit my kop kry nie. Dit het my verpletter.
“Ek het haar Jenna-Anne genoem en vasgehou aan die wete dat dit alles deel is van God se plan vir my lewe. Dat dié gebeure nie as toeval afgemaak kan word nie, maar as God se besluit.“
Nadat Grace uit die hospitaal ontslaan is, was sy steeds onseker oor die besluit wat sy geneem het. Sy was hartseer, en vol selfverwyt.
Weer eens ’n onmoontlike keuse
Sowat ʼn jaar-en-ʼn half ná Jenna-Anne se geboorte het Grace weer swanger geword. Maar weer eens is die ongebore baba met anensefalie gediagnoseer.
Grace was verslae. Sy het haarself afgevra wat sy dan verkeerd gedoen het om so iets te verdien. Navorsing wys uit dat die moontlikheid uiters skraal is dat een ma twee babas opeenvolgend dra wat met anensefalie gediagnoseer is.
Grace het nogmaals voor ʼn onmoontlike keuse gestaan. Maar sy het ervaar dat God ook dié keer haar hand styf vasgehou het.
“Mense was dikwels ongevoelig oor die situasie. Daar word aanmerkings gemaak wat diep seermaak.”
“My dokter was wonderlik ondersteunend in dié tyd. Ek het ook die Here se hand in dié dokter se betrokkenheid ervaar. Hy het tevore reeds ʼn anensefalie-baba in die wêreld gebring toe hy in die Verenigde Koninkryk gepraktiseer het.”
Grace het besluit om hierdie baba, wat sy Sarah-Jane genoem het, vir die volle nege maande te dra. Maar van meet af aan was daar probleme, ook vir Grace. Die baba kon, byvoorbeeld, nie die amniotiese vloeistof inneem nie. Dit het haar groei vertraag. Omdat Sarah-Jane nie ʼn volledige skedel gehad het nie sou dit waarskynlik tot gevolg hê dat sy nie deur die geboortekanaal kon beweeg nie.
Die dokter het besluit om eers te wag voordat ʼn induksie oorweeg sou word.
Grace het gevrees dat haar babadogtertjie doodgebore sou word. Maar Sarah-Jane het lewend in die wêreld gekom. Sy was ʼn fris baba. Alles aan haar was perfek gevorm – alles, behalwe haar skedel.
Ná die bevalling is Grace en haar man Wayne (54) na ʼn familiekamer in dieselfde hospitaal geneem. Omdat sy nooit haar baba sou huis toe neem nie, het die verpleegpersoneel gesorg vir ’n kamer wat so ver moontlik van die babasaal af is.
Haar familie het in die hospitaal bymekaargekom om Sarah-Jane te verwelkom. Al was dit ’n bittersoet ervaring was dié tydjie saam met haar geliefdes iets wat Grace altyd sal koester.
Sy vertel verder: “Ek wou haar graag huis toe neem sodat sy daar kon sterf. Die pediater het vir ons ʼn sakkie glukose gegee om die baba se lippe mee nat te maak as ons by die huis was. Daar was geen rede om Sarah-Jane aan enige mediese ingryping bloot te stel nie.”
Tuis was die familie weer bymekaar. Sarah-Jane se gesiggie is saam met almal op ʼn foto verewig.
Grace het die hele nag wakkergebly saam met haar baba. Sarah-Jane is in die vroeë oggendure in haar ma se arms oorlede.
“Vir my was die hartseerste daardie oomblik toe die lykswa opgedaag het,” vertel Grace. “Die werklikheid het my skielik op die krop van my maag getref. Ek het toegekyk hoe die een assistent vir Sarah-Jane in haar mandjie op sy skoot tel. Hoe hy haar nié agter in die lykswa laai nie. Ek sal hierdie bewys van respek vir ons gevoelens nooit vergeet nie.”
Die verlies van haar dogtertjies het haar lewe verander, sê Grace: “Ek het uiteindelik ʼn meer empatiese mens geword, met soveel meer begrip vir ander se hartseer. Ek is ook nou meer bewus van God se hand in my lewe.”
* Grace het ten spyte van haar dubbele verlies nog vier kinders in die wêreld gebring – Kellan (nou 23), Julia-Anne ( nou 19) Simon (nou 15) en Zachary (nou 10).
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















