Drie jaar gelede het Monica Bothma van Kaapstad ’n baie moeilike swangerskap beleef. Boonop het die Covid-19-beperkings haar man Robert uitgesluit van voorgeboorte-sonars én van die geboorteproses. Gevolglik moes Monica etlike hartseeruitdagings alleen trotseer. Steeds glo sy: “God is altyd daar. Hy sien jou trane en Hy hoor jou roep.”
Met ons oudste kindjie Mia amper twee, vind ek uit ek verwag weer. Op 15 weke betaal ons vir ’n privaat sonar en dit blyk dat dit identiese tweelingdogters is!
Die sonar wys wel een baba is heelwat groter as die ander. “Dit kan normaal wees,” sê hulle my, “maar hou dit nietemin goed dop.”
Ons het nie ’n mediese fonds nie en daarom word ek weens erge pre-eklampsie as hoërisiko-pasiënt by die staatshospitaal behandel. Ek kry gereeld nuwe medikasie. En daar word opvolgsonars gedoen.
Die prosedure by ’n staatshospitaal se mediese sonars werk anders as waaraan baie mense gewoond is: Slegs die personeel kan sien wat aangaan. Tydens elke sonar lê en staar ek dus na die dak terwyl die tweetjies ondersoek word.
LEES OOK: 560 gram-baba: ‘As jy geloof het, is God daar’
’n Vreesaanjaende gedagte
Op 20 weke moet ek hoor dat die babas “twin to twin transfusion”-sindroom het. Dit beteken dat die groter baba al die vrugwater en voeding gebruik.
Ek probeer positief bly. En ek probeer glo alles sal oukei wees, maar ek is baie bang. Dis ’n vreesaanjaende gedagte dat een van my babas te veel vrugwater kry en die tweede enetjie niks het nie. Dat hierdie twede enetjie letterlik platgedruk word in ’n beperkte ruimte in my baarmoeder.
Uiteindelik sê die dokter dat ons kleinste dit dalk nie sal oorleef nie.
Elke week wanneer ek by die hospitaal aanmeld vir medikasie, ’n sonar en ’n ondersoek, is die nuus slegter. Dit voel vir my asof hierdie swangerskap járe duur.
Toe, by Week 23, kom die nuus: Die groter baba, Isabelle, se hart vaar sleg vanweë te veel vrugwater. Intussen verswak die kleiner een, Linelle.
Tydens Week 24, 25 en 26 word gereeld sonars gedoen en vind gereelde ondersoeke plaas.
Die swaarste swaar van my hele lewe
Dan kom die hartseernuus tydens Week 27 dat Isabelle oorlede is, en dié skoknuus: Linelle gaan dalk ook sterf.
Dit voel of my hele wêreld gaan staan, asof my hart uit my bors geruk word. Iets in my raak aan die brand …
Maar ek sê vir almal ek sal nie toelaat dat ek my ander dogtertjie ook verloor nie! Ek glo dit met my hele hart.
Ten spyte van my vaste geloof is ek steeds baie bang.
By die huis moet ek vir Robert van Isabelle vertel. En ek besef opnuut hoe bitter dit is om alles elke keer alleen deur te maak.
Die swangerskap gaan so normaal moontlik voort, al is Isabelle steeds in my baarmoeder. Ons moet wag en sien of Linelle dit gaan oorleef. En, indien wel, watter skade sy opgedoen het, indien enige.
Dit word die moeilikste tyd van my lewe. Ek leef elke dag met ’n baba in my wat nie meer lewe nie. En met die vrees dat die ander een dit ook nie sal oorleef nie.
Teen Week 28 moet ek verneem dat die kanse op breinskade by Linelle meer as 80% is. Dat sy dalk serebraal verlam sal wees.
Gelukkig begin haar vrugwater vermeerder.
Ek praat gedurig met die Here. Ek smeek Hom om Linelle nie ook van my weg te neem nie. Om sy hand oor haar te hou, om haar te help en haar gesond te hou.
Week 30 bring beter nuus: Linelle kry genoeg vrugwater én sy het genoeg plek in my baarmoeder. En sy groei mooi.
Maar ons weet steeds nie oor moontlike breinskade nie. En daar is die gevaar dat haar niere kan ophou werk. Dit voel my die spanning gaan nooit weer weg nie. Ek is kwaad, en ek voel alleen.
Op 32 weke word ek gehospitaliseer. Bedrus is die opdrag; niemand mag kom kuier nie.
Gelukkig groei Linelle steeds.
Op 36 weke skenk ek normaal geboorte aan oorlede Isabelle. En aan Linelle – wat dalk breinskade opgedoen het. Dit is die swaarste swaar van my hele lewe.
En toe … wys die breinsonar dat daar geen skade by Linelle is nie. Dankie, Here!
Vandag is sy ’n gelukkige driejarige met ’n persoonlikheid wat skrik vir niks.
My hart sal altyd seer wees
Dis te danke aan die Here dat ek al daardie pyn kon deurleef. Ek sal wel nooit verstaan waarom een van my babas van my weggeneem is nie. My hart sal altyd seer wees. En ek sal altyd na haar verlang.
Ek kon Isabelle nooit groet of vashou of selfs sien nie. Omdat sy so vroeg reeds in die baarmoeder gesterf het, wou die personeel haar nie vir my wys nie. Ek het nou niks van haar nie. Die laaste en die enigste keer wat ek haar gesien het, was met daardie privaat sonar op 15 weke.
My hart het gebreek. Dis steeds gebreek, en dit sal altyd so wees. Ek kan nie ophou vra “wat as?” nie. Ek het ’n angsversteuring ontwikkel vanweë hierdie hartverskeurende gebeurtenis.
Ek dink baie terug aan al die hartseer van daardie tyd. Die alleenwees. Want al was ek soms tussen my mense, was ek nie regtig “daar” nie.
Robert deel hierdie emosies met my. En ek bly dankbaar vir Ma Yvonne en my sussie Jolandi se hulp met klein Mia terwyl ek in die hospitaal was.
Maar intussen het ons nog ’n baba gekry. Sy naam is Roy en hy is nou nege maande oud.
Mia en Linelle is mal oor hom. Ons almal is baie lief vir hom
Oor al hierdie dinge wil ek sê: Ek weet dis nie altyd maklik nie, maar ongeag waardeur jy gaan, God is altyd by jou. Hy sien jou trane en Hy hoor jou roep. Wees geduldig. Glo in Hom.
’n Bybelversie wat na aan my hart lê, is die Engelsvertaling van Jesaja 41:10, wat só lui: “So do not fear, for I am with you; do not be dismayed, for I am your God. I will strengthen you and help you; I will uphold you with my righteous right hand.”
*Twin to Twin Transfusion Syndrome (TTTS) is ’n seldsame swangerskapverskynsel wat by ’n identiese tweeling voorkom wat een plasenta en dieselfde bloedvatnetwerk deel. Wanneer hierdie bloedvate – wat suurstof en voedingstowwe verskaf – nie “gelykop” beskikbaar is vir albei babas nie, het dit ’n oneweredige uitruil van voedingstowwe tot gevolg. Indien dit nie spoedig gediagnoseer en behandel word nie, is dit noodlottig. Behandeling verhoog die kanse op oorlewing vir een of albei babas.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.