Vyf jaar lank was Rachel Ancer (nou 15) ernstig siek. Sy was, vandat sy vyf jaar oud was, gereeld in die hospitaal weens beenmurgversakingsindroom. Dit beteken haar beenmurg kon nie voldoende rooibloedselle vervaardig nie. Die kanse om ’n geskikte beenmurgskenker te kry, was een uit 100 000. Maar toe gebeur ’n wonderwerk, al die pad uit Pole.
“Rachel was eers ’n vrolike dogtertjie, lief vir die lewe en gek na sjokolade. Maar toe word ’n uiters seldsame siekte, “pure red cell aplasia”, by haar gediagnoseer. Dit het haar van haar borrelende geaardheid en sorgvrye lewe beroof. Sy was maar vyf jaar oud.”
So vertel Jonathan Ancer van Kaapstad, Rachel se pa.
Jonathan en Jean, Rachel se ouers, en haar drie sibbe, Sam (30), Khwezi (19) en Maya (9), was haar groot steunpilare. Rachel moes die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad gereeld besoek vir bloedoortappings wanneer haar hemoglobienvlakke te laag was.
Mettertyd het Rachel se lippe blou geword, haar vel bleek, en sy kon nie behoorlik eet of slaap nie. Haar hart het soos ’n masjiengeweer in haar borskas geklop.
LEES OOK: Een van Chris Barnard se jongste hartpasiënte word 70
Die enigste uitweg
Ná die eerste jaar se bloedoortappings het die oortappings noodgedwonge ál korter op mekaar begin volg. Rachel moes later letterlik van die een bloedoortapping na die volgende een probeer oorleef. Sy was volkome afhanklik daarvan.
Maar toe het dit newe-effekte meegebring: Yster het in haar bloed opgebou sodat dit later ’n gevaarlike vlak bereik het.
Die enigste uitweg was ’n beenmurgoorplanting.
Maar in daardie stadium was daar slegs 70 000 geregistreerde beenmurgskenkers in Suid-Afrika. Daarom het die Suid-Afrikaanse Beenmurg- register (SABMR) toegetree tot die soektog na ’n geskikte skenker, en wêreldwyd begin soek. Rachel was toe ses jaar oud.
Intussen het haar gesondheid drasties agteruitgegaan en sy en haar ouers het verbete vasgeklou aan die hoop op ’n geskikte skenker. Rachel vertel: “Buiten my ouers, het die hele gemeenskap my ondersteun en vir my gebid.”
Toe gebeur die wonderwerk.
’n Wonderwerk per koerier
Op 23 Desember 2016 het SABMR ’n geskikte skenker gevind, in Pole. ’n Vrou met die naam Magda Lewandowska, uit die noordelike hawestad Gdynia.
“Niks gebeur toevallig nie,” sê Magda. En vertel hoe sy op ’n dag haar vriendin Karolina Denc emosioneel ondersteun het omdat dié haar as ’n beenmurgskenker wou laat registreer. “Ek is ’n gelowige en ek glo dit was ’n bestiering dat ek daardie dag saam met my vriendin was. Terwyl ek op haar wag, het ek skielik die drang gekry om self te registreer. Nie bloot plaaslik nie, maar as ’n internasionale beenmurgskenker.
“Ek het bloot besef dis wat ek moet doen. Ek het nie eens die dokumente behoorlik gelees nie, ek het dit net onderteken.
“Ek het vir Karolina gesê dat as ek ’n geskikte skenker sou wees, sy saam met my moes kom om my hand vas te hou.”
Die stamselle uit Magda se beenmurg is toe wêreldwyd beskikbaar gestel. En uiteindelik is dit per koerier uit Pole gestuur na waar Rachel Ancer in Suid-Afrika angstig daarop gewag het.
‘Woorde beskryf nie ons dankbaarheid nie’
’n Week voor die beplande beenmurgoorplanting moes Rachel egter eers chemoterapie ontvang om die foutiewe beenmurg in haar liggaam te vernietig. Rachel vertel: “Ek onthou dat die behandeling my baie siek laat voel het, naar. Maar ’n week later het ek Magda se stamselle ontvang.”
Op 14 Maart 2017 is ’n beenmurgoorplanting vir Rachel in die Groote Schuur-hospitaal geskeduleer. En Magda van Pole se stamselle is op Rachel van Kaapstad oorgeplant. Só is dié twee onlosmaaklik aan mekaar verbind, al het hulle derduisende kilometer van mekaar gewoon.
Rachel onthou: “Ek was ná die oorplanting ’n lang ruk siek. Dit het ’n hele tydjie geduur voor my beenmurg herstel het. Dit was trouens bykans ’n jaar. Gelukkig het ek ’n paar maande ná die oorplanting begin beter voel.”
Jonathan en Jean het aan Magda Lewandowska geskryf om haar te bedank dat sy hul dogter se lewe gered het. “Maar eintlik kan geen woorde ons dankbaarheid beskryf nie,” sê Jonathan.
Die sewe engele
Rachel sê daar was sewe engele in haar lewe toe sy so siek was: “My ouma Shirley en my ma Jean. En suster Brown, die matrone by die Rooikruis-kinderhospitaal.
“Dan was daar Shannon, die tegnikus wat elke keer my bloed moes trek, en suster Sindi, die verpleegster by Groote Schuur, wat my hand moes vashou toe ek swaargekry het as gevolg van die chemoterapie se newe-effekte. Terry Schlaphoff van die Beenmurg-register, wat nooit ophou soek het na ’n skenker nie, was nog ’n engel.
“En dan, natuurlik, Magda Lewandowska, wat my ’n tweede kans op lewe gegee het.”
Op 1 Desember 2022 is Rachel deur dr Marc Hendricks ontslaan. “Sedertdien beskou ek my as volkome genees,” sê Rachel.
‘Om mý onthalwe …’
Die Ancer-gesin en Magda Lewandowska het kontak behou. En op 1 April 2023 het Magda in Suid-Afrika geland om Rachel en haar familie te ontmoet. Die vreugdevure het hoog gebrand.
Rachel vertel: “Dit was vir my ’n emosionele belewenis om Magda te ontmoet. Sy is ’n wonderlike mens, vol deernis, sonnig, en so vriendelik. Haar onbaatsugtige daad was om mý onthalwe … Daar behoort meer mense soos sy in hierdie wêreld te wees.”
Magda sê: “Toe ek Rachel ontmoet, het dit gevoel asof ek haar en haar familie al baie lank ken. Hulle is eintlik reeds deel van mý familie. Die feit dat Rachel nou honderd persent gesond is, dat sy lag, dat sy kan rondhardloop, dat sy gelukkig is, maak my so bly.
“Woorde kan nie beskryf hoe dit voel om iemand se lewe te red nie. Ek is so dankbaar ek kon help. Veral nou, nadat ek Rachel-hulle ontmoet het. Dit was eenvoudig wonderlik!”
Dieselfde hartewens
Uit Pole vertel Magda egter ook van die skrikwekkende ervaring wat sy in Suid-Afrika gehad het toe sy saam met die Ancer-gesin ’n leeuplaas besoek het. Die motor is deur ’n trop leeus omring en een van die leeus het ’n deur oopgekry. Jonathan het dadelik gesnap wat gebeur het en die deur blitsig toegedruk.
Die enigste teken van hierdie noue ontkoming was die klomp krapmerke oral aan die motor. “Dit was nog ’n ondervinding wat ek altyd sal onthou,” sê Magda.
Rachel is deesdae ’n blakend gesonde 15-jarige tiener met hope energie. Sy is lief vir netbal en waterpolo, en bring graag tyd saam met haar vriende en familie deur.
Rachel en Magda deel dieselfde hartewens: om mense te motiveer om hulle as beenmurgskenkers te laat registreer. Daardeur kan hulle ’n groot impak op iemand anders se lewe maak, en so ’n mens ’n tweede kans op lewe gee.
- Om as beenmurgskenker te registreer, kontak donors@sabmr.co.za
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.