Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Brief #1 aan my vriendin wat haar nie wil laat inent nie

DEUR SIMONE GAUCHE

My liewe vriendin

Jy sê jy is bang om jou te laat inent. Ek verstaan dit. Dis normaal. Ons almal vrees die onbekende, maar hier is middels wat bewys het dat hulle werk. Hulle gee jou ’n bietjie broodnodige beheer oor jou gesondheid terug. Daar is volop bewyse dat die inenting jou risiko op infeksie, hospitalisering en sterfte noemenswaardig verminder.

Jy sê jy weet nie wat alles in die entstof is nie. Weet jy wat in die aspirien is wat jy drink? Weet jy waaruit bestaan narkose-middels? Weet jy wat is in antibiotika? Weet jy wat is in jou vitamienpille?

LEES OOK: ’n Brief aan die jong mens wie se lewe deur Covid-19 weggeneem is

Sjoe, en weet jy wat is in die gaskoeldrank waarvoor jy so lief is? Weet jy wat is in die speserymengsel wat jy oor jou kos strooi?

Waarom die dubbele standaarde? Waarom vertrou jy die medici en farmaseutiese maatskappye slegs in sommige gevalle?

Terloops, die bestanddele van die verskillende entstowwe word streng gereguleer. Die lys bestanddele is beskikbaar op die vervaardigers se onderskeie webtuistes.

Jy sê jy wil nie “’n eksperiment” wees nie. Jy sal nie een wees nie. Daar is reeds oorgenoeg bewyse dat die entstowwe lewens red. Maar as jy wil, kan ek jou daaraan herinner dat alle medisyne met ’n eksperiment begin het. As Marie en Pierre Curie tog net vandag kon praat, of Alexander Flemming, Joseph Lister of Edward Jenner …

Wat die entstowwe vir die koronavirus betref, is ons egter lank reeds verby die eksperimentele stadium. Daar is ’n enorme klomp bewyse beskikbaar, sowel plaaslik as oorsee. En jy, my skeptiese vriendin, bevind jou ongelukkig in die kontrolegroep, dis die groep mense wat op ’n aweregse manier bewys hoe doeltreffend die entstowwe is.

Jy sê dis alles ’n enorme komplot, ’n bose sameswering. Wel, bykans die helfte van die wêreldbevolking is reeds ingeënt. Dis ses biljoen dosisse entstof wat reeds toegedien is. As daar werklik ’n bose komplot was, dink jy nie dat daar teen dié tyd reeds konkrete bewyse daarvoor sou wees nie?

Jy sê jy doen niemand skade nie – maar dis nie heeltemal waar nie. As jy siek word, beset jy ’n hospitaalbed. Jy moet weet jou kans op hospitalisering indien jy met Covid-19 gediagnoseer word, is 25 keer groter as wat ’n ingeënte persoon s’n is. Die bed waarin jy sal lê, word benodig vir iemand wat in ’n motorongeluk was of wat ’n hartaanval gehad het. Jy plaas druk op medici en beskikbare hulpbronne.

LEES OOK: ‘Jongmense wat ernstig siek word van Delta-variant en mense wat entstof weier ’n bekommernis,’ vertel dokter van Mosselbaai

En dalk dra jy die koronavirus oor aan ’n weerlose persoon, iemand wat dalk nie so ’n sterk immuunstelsel soos jy het nie.

En jy moet weet jou mening saai verwoesting in jou omgewing. Jy praat immers graag oor jou oortuigings. So saai jy twyfel, en dit het huiwering tot gevolg, en dalk iemand se ernstige siekte, of erger …

Ons het jou nodig vir die immuniteit in ons gemeenskap. Ons het jou nodig om diegene te beskerm wat vanweë geldige mediese redes nie die inenting kan ontvang nie. En ons het jou nodig om ons kinders te beskerm.

Jy sê mense kry newe-effekte van die inenting. En jy is reg, daar is newe-effekte. Maar dis gering en duur hoogstens drie dae. En daar is minder mense wat sterf of ernstig siek word.

As jy vandag kan sien wat ek al gesien het, sal dit genoeg wees om jou te oortuig.

Jy sê ’n mens kan steeds Covid-19 opdoen nadat jy ingeënt is. Jy kan selfs sterf. Jy is reg. Presies 0,008% mense wat ingeënt is, het gesterf. Geen inenting is 100% doeltreffend nie. Maar verskeie studies het bewys dat die entstof jou kans op infeksie verminder, asook die kans dat jy ernstig siek word. Daar is inderdaad mense wat ingeënt is en gesterf het, maar vergelyk dit met die 1,67% in die oningeënte deel van die bevolking wat Covid-19 opdoen en sterf.

LEES OOK: Covid-19-entstof – watter komplikasies kan jy kry?

Jy sê jy weet nie wat die langtermyngevolge van die entstof is nie. Niemand weet nie. Maar ons weet ook nie wat die langtermyngevolge van Covid-19- infeksie is nie. Wat ons wel weet, is dat die korttermyn newe-effekte van die entstowwe minimaal is, en dat die voordele baie swaarder weeg as die risiko. Ons het nie al die antwoorde nie. Dis ’n nuwe virus en daar is baie onbekende faktore. Ons leer elke dag iets nuuts. Al wat ons kan doen, is om die beste moontlike besluit te neem met die inligting tans tot ons beskikking.

Jy sê die farmaseutiese maatskappye wil net geld maak. Het jy enige idee hoeveel geld betrokke is by die vitamiene en minerale waarvan jy sulke hande vol sluk – boonop sonder enige bewyse dat dit help?

Besef jy hoeveel goedkoper die entstof is as wat ’n paar weke in die hospitaal is?

Weet jy hoeveel kos die pandemie ons ekonomie, en die wêreld s’n?

Hoeveel betrekkings is vir altyd daarmee heen?

Hoeveel mense is finansieel geruïneer?

 Jy sê jy vertrou God en Hy sal jou beskerm en red. Weet jy hoeveel voorbeelde daar in die Bybel is van hoe God mense gebruik om die redding wat Hy bring te bewerkstellig?

Bestuur jy sonder jou sitplekgordel?

Daag jy by ’n eksamen op sonder dat jy ’n boek oopgemaak het?

Hoeveel vertroue het jy in jou chroniese medikasie?

Het Jesus nie gesê dat jy die Here jou God nie op die proef mag stel nie?

Dis genoeg vir eers. Môre skryf ek aan jou oor die navorsing wat jy gedoen het.

Tot dan, weet net dit: Ek is lief vir jou en ek het jou nodig. 

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.