Annemarie Botes (63) was so vasgevang in haar disfunksionele huwelik dat sy uiteindelik probeer het om haar man te vermoor. Sy sê: “Ek het besef dat een van ons nié die huwelik sal oorleef nie. En my poging om my man om die lewe te bring was die enigste manier waarop ek myself en my kinders kon bevry. So het ek gedink …”
“Ek het op ʼn plaas in Limpopo grootgeword,” vertel Annemarie. “Ons was vyf kinders in die gesin. Ek en my susters en broers het nie iets soos verslawing of verbale of fisieke mishandeling geken nie.”
Annemarie en Ruan het mekaar in 1992 by die werk ontmoet. Sy sagmoedigheid het haar onmiddellik opgeval. “Hy was baie aantreklik,” vertel sy. Hy sou gereeld vir haar blomme gee en was toegewy aan die verhouding. Hy het ook deernis aan ander betoon en graag gehelp waar hy kon.
“Maar,” vertel sy, “as ek nou op daardie eerste paar maande terugkyk, besef ek dat ek die gevaartekens misgekyk het. Ek was verlief en onkundig.”
‘Liefde het my verblind’
Vroeg in hul verhouding het Ruan aan haar erken dat hy voorheen aan hoesstroop verslaaf was. Volgens hom was hy gerehabiliteer. “Omdat ek geen kennis van verslawing gehad het nie, het ek hom onvoorwaardelik geglo. Alhoewel hy alkohol gebruik het, was hy nooit besope of gewelddadig nie.
“Tog het dit later geblyk dat sy drinkery nie so onskuldig was as wat ek gedink het dit is nie. Hy sou dikwels voor werk na die motorhuis toe gaan om ʼn ‘regmakertjie’ weg te slaan. Ek was blind vir wat voor my oë afgespeel het; liefde het my verblind.”
Ruan is vroeër ook met bipolêre gemoedstoornis gediagnoseer. Die situasie was baie kompleks omdat die alkoholmisbruik die siekte vererger het.
Hulle is in 1993 getroud. “Die verslawing en alles wat daarmee gepaardgaan het egter erger geword. Maar Ruan se familie het onbetrokke gebly. Ek het niemand gehad om mee te praat nie. Een van die mees vernederende geleenthede was toe my skoonpa ons vir ete genooi het. Ruan het buite gaan skelm drink – en toe jaag my skoonpa ons hele gesin weg. Hy het geld in my hand gedruk vir ʼn wegneem-ete. Dit was vir my érg.”
Met verloop van tyd het Annemarie agter die kap van die byl gekom. Dit het geblyk dat Ruan se grootwordjare heel anders as haar eie verloop het. Hy was een van vier kinders toe sy ouers geskei is. Sy suster het by haar ma gaan woon en die seuns het by hul pa gebly.
Maar op ’n dag het die pa sy seuns by ʼn kinderhuis afgelaai. Hy het aan die vierjarige Ruan beloof dat hy hulle later sou kom haal. Ruan het hom geglo.
Dit het toe nooit gebeur nie. Van toe af het hy niemand vertrou nie. Gaandeweg het hy van ander afhanklik geword om hom beter oor homself te laat voel.
Ruan se pa is later weer getroud en sy stiefma het die seuns onder haar vlerk geneem. Hulle is terug na hul ouerhuis.
Maar die skade was gedoen. Ruan was, vandat Annemarie kan onthou, ʼn middel-afhanklike. Hy sou later, waarskynlik as gevolg van daardie vroeëre verwerping, ʼn lewe lei wat vol disfunksionele verhoudings was, wat sy gesin baie pyn sou besorg.
‘Ek kon nie begryp waarom my lewe só moes lyk nie’
Annemarie vertel: “Omdat Ruan my nie geslaan het nie het ek nie besef ek word mishandel nie. Soms het dit vir ʼn lang tyd goed gegaan en het ek weer hoop gekry.
“Maar dan het hy, heel onverwags, weer die verslaafde met die psigose geword. In sulke tye het hy my van, onder meer, buite-egtelike verhoudings beskuldig. Ons was ʼn keer by ʼn predikant vir berading. Maar toe die leraar iets sê waarvan Ruan nie gehou het nie, het hy dié man daarvan beskuldig dat hy ʼn verhouding met my het.”
Ruan het tydens sy tirades soms meubels verwoes en breekgoed stukkend gegooi. Annemarie het ʼn keer ʼn koppie koffie in haar gesig gekry.
Tydens die geboorte van hul dogtertjie het Ruan in die hospitaalkamer rondgeloop, manies op soek na die “werklike” pa van die baba. Dit was onmoontlik om hom te oortuig dat hy die pa is.
Hy sou dikwels hul kamerdeur toemaak en Annemarie dreig dat hy haar gaan doodmaak en verbrand.
“Ek het dikwels met God gestoei,” vertel sy. “Ek het ook uitgevind sommige mense dink dat ʼn mishandelde vrou so ʼn leefwyse gekies het. Ek kon nie begryp waarom my lewe só moes lyk nie. Ek sou wel later leer dat God tweede kanse gee, op sy tyd en sy manier.
“Ek het die slegte tye oorleef en die goeies omarm. Soms het ek, onder al die lagies pyn, wel weer die man gevind vir wie ek so lief was … net om hom weer te verloor. Een van die laagste laagtepunte was toe hy my seun in die middel van die nag uit sy bed geruk het. Dit was tydens een van die maniese episodes.”
Ruan is 15 keer in ʼn rehabilitasiesentrum vir sy alkohol- en dwelmverslawing opgeneem. Annemarie sê daar was hoofsaaklik twee redes hoekom dit nie suksesvol was nie: Ruan was nooit gewillig om opgeneem te word nie. Daarby, sê sy, is die oorsaak vir sy misbruik nooit behoorlik ondersoek nie. Volgens haar was die vernaamste daarvan sy pa se verwerping toe Ruan maar vier jaar oud was.
Die hande vol pille waarmee hy telkens huis toe gestuur is, het niks gehelp nie. Inteendeel, dit het vir ʼn nuwe misbruik en ʼn nuwe verslawing gesorg. Dit was ʼn ellendige kringloop.
‘Toe het ek gewag dat hy doodgaan’
Annemarie was desperaat. “Ek het besef dat een van ons nié die huwelik sal oorleef nie. Ek het besluit om Ruan ʼn oordosis van sy medikasie toe te dien. Op dié manier wou ek my en my kinders ʼn kans op ʼn normale lewe gee. Ek het vir hom ʼn oplossing aangemaak wat ʼn klomp pille bevat het. Omdat hy reeds beskonke was, het hy dit dadelik gedrink. Ek het dit sewe keer ná mekaar gedoen. Totdat hy nie meer kon regop sit nie. Toe het ek gewag dat hy doodgaan.
“Maar iewers in daardie oomblikke het ek God se stem gehoor. Dit was dieselfde God met wie ek so dikwels probeer onderhandel het. Ek het duidelik gehoor hoe Hy sê: ‘Annemarie, wat doen jy? Jy is nie besig om jouself te red nie; jy is besig om jou kinders se pa te vermoor.’
“Dit was die eerste keer dat dit tot my deurgedring het dat ek besig was om moord te pleeg. Ek het dadelik die ambulans gebel. Ruan is deurgehaal. Ná sy ontslag uit die hospitaal is hy weer in die Sterkfontein-psigiatriese hospitaal opgeneem. Vir ʼn kort rukkie was sy selfvernietigingsdrang geblus, en ek en die kinders kon weer asemhaal.”
Dit het vir Annemarie oplaas tyd geword om weer beheer oor haar lewe terug te kry. In 2002 is sy van Ruan geskei. Annemarie sê dat hy steeds obsessief was. Hy het dikwels voor hul huis se hek kom staan, soms aggressief … en soms net die ou Ruan op wie sy destyds verlief geraak het.
In 2004 het Ruan weens sy alkoholmisbruik gesterf. Hy het in daardie stadium in ʼn karavaan gewoon.
Dit gaan sedertdien goed met Annemarie. En met haar kinders, wat onderskeidelik 37, 31 en 29 jaar oud is.
Annemarie sê sy het ná Ruan se dood nooit weer haar kamerdeur toegemaak nie. Dit sou jare duur voor sy dit kon regkry om dit wel te doen.
Wat staan jou te doen in so ʼn situasie?
Volgens dr Gert Pretorius, ʼn sielkundige in Durbanville, is daar bepaalde riglyne om te volg wanneer alles buite beheer raak. Hy sê: “Hou alle persoonlike dokumente byderhand, dinge soos identifikasiedokumente en geboortesertifikate. Moenie huiwer om die gereg of maatskaplike dienste te betrek nie.
“Innerlike sterkte word ook ‘sielkundige gehardheid’ genoem. Daarmee word bedoel dat ʼn vrou wat haar in so ʼn situasie bevind, haar kan versterk deur die volgende stappe te oorweeg: Reik uit na ʼn veilige nessie van vriende en familie; aanvaar hulp; kry en aanvaar die bevestiging dat dit wat jy en die kinders moet deurmaak nié normaal is nie.
“Julle kan saam ’n goeie plan vir die pad vorentoe uitwerk. Julle moet wel die moontlike uitgawes in gedagte hou. Aanvaar finansiële hulp as dit aangebied word.
“Koester jou verhouding met jou kinders. Bemoedig mekaar. Skep ʼn nuwe werklikheid vir en met mekaar. Soek hulp by julle kerk se diensaksies. Op dié manier word God se genade en liefde vir julle bevestig. Hy is in alle omstandighede julle Leidsman.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















