Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Pastoor getuig: ‘Ek moes eers my gewese man, my gewelddadige pa en my molesteerder vergewe voordat ek kon blom’

“Jy gaan vrek vanaand!”

Met dié woorde het Petro Kotzé-Odendaal se destydse man haar die aand van haar 32ste verjaardag gedreig. Adriaan se donker oë was gloeiende kole. Petro het hom betrap waar hy met sy skelmpie oor die foon praat terwyl sy saam met gaste in die voorhuis gekuier het.

“Hoe kan hy die waarheid so verdraai dat ék altyd na die skuldige een lyk? Is hy regtig so gemeen?” het sy daardie aand vir haarself gevra.

Sy het toe geweet wat kom. Sy het geweet dat hy elke dreigement bedoel. Sy reputasie dat hy alles met die vuis reg slaan, het hy gereeld gestand gedoen.

Later daardie aand, nadat sy pa vertrek het, het Adriaan se vuiste dan ook teen hul toegesluite kamerdeur gedonder. “Asseblief, Here! Dis net U wat hierdie deur kan toe hou!” het sy gebid. En die Here het haar beskerm, soos duisende kere tevore.

LEES OOK: Van ateïs, angslyer en aanrandingslagoffer tot by genesing en geloof: ‘God het my nie verwerp nie’

Sy weet wat is wegkruip en deure toesluit. Hoe dit is om in die nag te vlug. “Ek was maar ’n dogtertjie toe ek en my ma en my kleiner sussie gereeld vir my pa gevlug het. Meestal in die nag. Soms in die winter.”

‘Ek is ’n vegter’

Negentien jaar later stap pastoor Petro Kotzé-Odendaal by’n Klerksdorpse koffiewinkel in. Die gedruis in die koffiewinkel verstil. Sy is ’n welbekende gesig in die omgewing. Nie net as senior pastoor by Lighuis Familiekerk nie, maar ook as die stigter van die liefdadigheidsorganisasie Voetlig Bedieninge. Daarby is sy ’n bekende radio-persoonlikheid.

Ons gaan sit onder die bome buite die winkel. Die voëltjies om ons kondig die lente aan in die baldadige bloureën-priëel bo ons. Dié 51-jarige ma, wat haar seun Driaan vrou-alleen grootgemaak het, vertel dat Adriaan se dood verreikende gevolge ingehou het. Hy het aan ’n oordosis dwelms in 2010 gesterf. Hulle moes in Orkney bly, terwyl baie myne gesluit het en daar nie werkgeleenthede was nie.

“Ek het nie ’n vaste werk of enige inkomste gehad nie,” vertel Petro, “en ek het Adriaan se verlofgeld en laaste salaris vir sy begrafnis gebruik. Die dag ná die begrafnis moes ons trek, want daar was nie geld om die huurhuis te betaal nie.”

Petro sê sy is ’n vegter. Sy weier om vir haarself jammer te wees. Sy vra ook niemand se simpatie nie. “Ek haat dit om bejammer te word, en daarom het ek elke oggend my rooi lipstiffie aangebring, my hoëhakskoene aangetrek, God se hand styf vasgevat en die dag bestorm.

“Aan die einde van Maart 2010 het Voetlig Bedieninge begin.”

Voetlig Bedieninge se naam is aan Psalm 119:105 ontleen: “U Woord is ’n lig vir my pad en ’n lamp vir my voet.” Talle sake-eienaars met ’n oop hart het dit ondersteun. Sommige van hulle is vandag steeds by dié bediening betrokke, en laasgenoemde het in ’n nie-winsgewende organisasie ontwikkel wat elke dag tientalle lewens aanraak.

“Dan is daar Voetlig Kindersentrum, wat daagliks vir vervoer van en na skole sorg, en vir middagetes en skooltoebroodjies. Dié sentrum se personeel voorsien nie net toiletware en skryfbehoeftes en skoolklere nie, hulle help ook met huiswerk en die liggaamlike versorging van die kinders.”

Jare lank agter ’n masker

Petro praat nie vandag hieroor nie, maar in haar lewensverhaal, Wanneer die krieke stil word, lees jy van al die jare wat sy ’n masker gedra het. Van die seer wat sy haar lewe lank met haar saamdra.

Eers was sy “dronk Apie” se dogter. Later was sy die “ice queen”, soos die seuns haar op hoërskool genoem het. En as volwassene het niemand geweet dat haar man eintlik ’n psigopaat en dwelmverslaafde is nie. Dat sy soms saam met hom moes ry om sy dwelms te gaan koop nie. Sy het dit alles goed weggesteek.

Maar Petro dra lank nie meer hierdie soort maskers nie. Haar lewensverhaal is ’n getuienis dat God se kinders wel saam met Jesus op water kan loop. Sy vertel: “Jy kan nie ’n boek soos Wanneer die krieke stil word aanpak as jy nie reeds genees is nie. Niemand krap in rou wonde nie, dit is te seer; net trofees word in die lug gehou om die Here se goedheid uit te basuin.”

Sy kyk my ernstig aan, so asof sy vir my en elke leser wil preek en sê: “Sonder vergifnis sou my hart nooit gereed gewees het om weer lief te kry nie. Word stil voor die Here en maak jou hart skoon. Vergewe.”

’n Seisoen vol blomme

Sy wys my ’n foto van ’n bloureën-priëel. Dis geneem pas voor haar weeklikse Lewe in oorvloed-program op Life FM. Sy vertel: “Ek was só kwaad vir my pa … Tot en met sy dood in 2007 het ek geweier om hom te vergewe.”

Haar stem word sag: “Met my mond het ek wel gesê ek het hom, húlle, vergewe. Maar in my hart was dit ’n ander storie. Dit was eers nadat ek met borskanker gediagnoseer is en die Here my gekonfronteer het dat ek die waarheid in die oë kon kyk. Toe eers het ek geleer dat vergifnis nie ’n emosie is nie maar ’n doelbewuste keuse.”

In haar lewensverhaal skryf sy toe die mooiste woorde oor haar pa én haar oorlede man.

Francois Odendaal, met wie sy reeds vyf jaar getroud is, het vir haar ’n bloureën-priëel by haar voordeur geplant. Dis haar simbool van vergifnis.

“Nie net vergifnis teenoor my pa nie, maar ook teenoor elkeen wat vir die seer in my lewe verantwoordelik is. Ongeag of hulle dit wetend of onwetend aan my gedoen het.” Dit sluit die oom in wat haar gemolesteer het toe sy maar ses jaar oud was.

Ons praat oor hoe sy ’n pa se skoene langs ’n sportveld moes volstaan, ook as versorger en beskermer. “Kyk hoe getrou is die Here!” sê sy. “Maandag word my seun Driaan 20 jaar oud. Hy is tans in sy tweede jaar as onderwysstudent by die Noordwes-Universiteit. God is goed.”

Petro se nuwe seisoen

Terwyl ons gesels, bel die einste Driaan en vra sy ma wanneer sy dan weer kom kuier. Hy het vandag vry.

“Hoekom het jy my nie vroeër gesê nie?” keer sy. “Maar ek sien jou Donderdag. Mamma is lief vir jou.”

Sy glimlag en sê vir my: “Ek sien hoe my lewensmotto, ‘die Here is getrou’, in Driaan se lewe verwesenlik word.”

So tussendeur vertel sy van die senuwee-ineenstorting wat sy beleef het pas nadat sy ’n suksesvolle stryd teen kanker gevoer het. Die medici het dit aan posttraumatiese stres toegeskryf. Daar is ’n treffende paragraaf in haar boek, wat só lui: “Ná my senuwee-ineenstorting in 2019 het ek stil geword voor die Here. ‘Hoe lyk ek vir U?’ het ek gevra. Hy het geantwoord: ‘Jy is ’n kaktus. Dalk die lelikste plant, maar beslis die sterkste. Want slegs ’n kaktus kan op enige plek groei én kan in die woestyn blom.”

Die kelner bring die rekening en ons maak aanstaltes om te groet. Maar eers wys sy my dié woorde in haar boek: “‘Wag, daar is nog iets,’ het die Here vir my gesê. In my geestesoog het ek ’n massiewe boom gesien, oortrek met spierwit amandelblommetjies. Asook die woorde in Jeremia 1:11-12. ‘Daar is ’n nuwe seisoen op pad …’”

Petro se nuwe seisoen blom waar sy haar getuienis lewer – in kerke, by boekgesprekke en oor die radio. Oral laat dié vrou, wat in 2006 gedreig is dat sy doodgemaak gaan word, wit blommetjies agter. Die Here is getrou.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►