Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

\’n Laatontbyt vir ’n soel somersoggend

DEUR HELEEN MEYER; Foto\’s deur Adel Ferreira

Somer is hier! Dek ’n vrolike tafel onder ’n boom of op ’n stoep en geniet dié mooi tyd van die jaar met ’n laatontbyt. Dis die ideale manier om rustig saam te eet.

Met ’n paar eiers, ’n bietjie groente en dalk ’n lekker kaas of ’n flentertjie vleis daarby kan jy ’n heerlike, vullende ontbyt voorberei.
En, nee, ons praat nie hier van spek-en-eiers met ’n paar tamatiewiggies nie …
Eiers is ’n uitstekende bron van proteïne en is baie veelsydig. Dit kan op vele maniere gaargemaak en gebruik word. En die lys bestanddele wat daarby pas, is lánk – van kaas en kruie en vleis (en natuurlik spek!), tot ’n verskeidenheid groente.
Die onderstaande vier interessante idees is perfek vir ’n luilekker vakansiedag of ’n naweekoggend. As almal ’n vullende laatontbyt geniet het, hoef julle eers vanaand weer te kook of iets oor die kole gaar te maak. ’n Koppie tee of koffie, dalk ’n snytjie roosterbrood en seisoensvrugte is al wat nog nodig is.
Geniet die sonskyn en die buitelug!

Roosterbrood met groente, eier en mosterdkaassous

Panbraai die groente en sit dit voor op dik skywe vars brood of roosterbrood. Skep lepels vol geurige kaassous oor en laat rooster dit vir ekstra lekkerte onder ’n warm element. Dis besonder geurig.

Lewer 4 porsies

 

 

Bestanddele

Mosterdkaassous

  • 30 ml (2 e) botter
  • 30 ml (2 e) koekmeel
  • 300 ml melk
  • 100 ml grofgerasperde gruyère- of beleë wit cheddarkaas
  • 15 ml (1 e) korrelmosterd
  • Sout en peper

Pangebraaide groente

  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 250 g bruinsampioene, in kwarte gesny
  • 200 g babatamaties, gehalveer
  • 30 ml (2 e) balsamiese asyn
  • 100 g babaspinasie
  • 4 dik snye roosterbrood om mee voor te sit. Rogbrood, suurdeegbrood of vars plaasbrood werk goed.
  • 4-8 geposjeerde of gebakte eiers

Metode

  1. Sous: Laat smelt die botter oor matige hitte in ’n klein kastrolletjie en roer die meel by tot dit ’n dik pasta vorm. Laat dit 1 minuut lank kook.
  2. Roer klein hoeveelhede melk op ’n slag by die meelpasta, tot al die melk bygeroer is en dit ’n sous vorm. Roer dit deurentyd met ’n klitser of silikoonlepel. Hou daarmee vol totdat die melk volledig geabsorbeer is voor jy nog melk byvoeg. Laat prut dit 5 minute lank tot die sous effens verdik het en gaar is.
  3. Roer die kaas en mosterd by tot die kaas gesmelt het. Geur dit na smaak en hou dit warm oor ’n lae hitte. Moenie dat die sous weer kook nie.
  4. Groente: Verhit intussen die olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai die sampioene tot goudbruin en gaar. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  5. Roer die tamaties by die sampioene en soteer dit tot die skilletjies begin oopbars. Verlaag die hitte en roer die balsamiese asyn by. Roer die spinasie deur tot dit net begin sag word maar steeds heldergroen is. Geur die groente na smaak.
  6. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en pak die snye roosterbrood daarop. Skakel die oond se roosterelement aan.
  7. Verdeel die groente tussen die snye roosterbrood en plaas 1 of 2 eiers per porsie bo-op.
  8. Skep lepels vol sous bo-oor die eiers en laat rooster dit ’n paar minute lank onder die warm element tot die sous aan die bokant liggies goudbruin is. Sit dié oop broodjies dadelik voor.

Wenk
Onthou dat die eiers en sous in die oond gerooster gaan word. Moet dus nie die eiers té gaar maak as jy van loperige eiergeel hou nie.

Quiche met ham, emmenthaler en tiemie

Quiche is ’n immergewilde laatontbyt of ligte ete en kan selfs vir ’n teetafel gebak word. Daar kan baie soorte vulsels gebruik word. Probeer gerus dié kombinasie van ham en ’n geurige kaas.

Lewer 8-10 porsies

Bestanddele

Kors

  • 360 ml (200 g) koekmeel
  • ’n Knippie sout
  • 15 ml (1 e) vars tiemieblare
  • 125 ml (125 g) harde botter, in blokkies gesny
  • 125 g ongegeurde gladde maaskaas – verkieslik laevet of volroom, maar nie vetvry nie

Vulsel

  • 125 ml (½ k) melk
  • 125 ml (½ k) suurroom
  • 3 eiers, geklits
  • 10 ml (2 t) dijonmosterd
  • 30 ml (2 e) vars tiemieblare
  • Sout en peper
  • 250 ml (100 g) grofgerasperde emmenthaler- of wit cheddarkaas
  • 100 g gerookte ham (gypsey of ’n ander soort), in repies gesny
  • 2-3 groot hande vol roketblare om mee voor te sit

Metode

  1. Kors: Meng die meel, sout, tiemie en botter in ’n voedselverwerker tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die maaskaas by en meng dit net tot ’n sagte bal deeg vorm. (Moenie dit te veel meng nie.) Rol die deeg versigtig in ’n dik rol, bedek dit met kleefplastiek en plaas dit 30 minute lank in die yskas. (Kyk die WENK hieronder.)
  2. Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Plaas ’n bakplaat in die oond om solank ook warm te word.
  3. Sny die rol deeg met ’n tandjiesmes in 0,5 cm-skywe. Voer ’n ronde of vierkantige 23cm-losboomquichepan of tertbak met die skyfies deeg uit. Plaas die skyfies teen mekaar en druk die rande liggies saam om die deeg eweredig oor die pan se bodem en teen die kante te versprei. Dis nie nodig om die pan of bak te smeer nie.
  4. Sny die oortollige deeg om die bo-rand af. (As die quiche nie dadelik gebak gaan word nie, kan die deeg met kleefplastiek bedek en weer in die yskas verkoel word.)
  5. Vulsel: Klits die melk, suurroom, eiers, mosterd en kruie deeglik saam. Geur dit na smaak.
  6. Sprinkel die helfte van die kaas oor die kors en pak die ham bo-op. Giet die eiermengsel versigtig oor en sprinkel die res van die kaas bo-oor. Plaas die quichepan op die warm bakplaat in die oond en laat bak dit 35-40 minute lank, of tot dit net gestol het. Die warm bakplaat help om die kors egalig te laat bak.
  7. Laat die quiche 10 minute lank rus en verwyder dit dan uit die losboompan. Sit dit warm of teen kamertemperatuur voor saam met die roket.

Wenk
Die deeg kan ’n dag of twee voor die tyd gemaak en in die yskas gebêre word. Dit vries ook uitstekend.


LEES OOK:  Sampioene, veelsydige kampioene


Geurige shakshuka

Die kombinasie van ’n speserygegeurde tamatiesous, eiervrug en eiers is absoluut heerlik. Dié sous is ’n bekende Midde-Oosterse gereg, en alhoewel hierdie weergawe nie té branderig is nie, kan jy dit met ’n heel brandrissie wel só maak.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

  • 45 ml (3 e) olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en gekap
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • 15 ml (1 e) komynsaad
  • 15 ml (1 e) gewone of gerookte paprika
  • 15 ml (1 e) gemaalde koljander
  • 15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
  • 1 mediumgrootte eiervrug, in kwarte en dan in dik wiggies gesny
  • 50 ml tamatiepasta
  • 2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
  • 45 ml (3 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie
  • Sout en peper
  • 6-8 eiers
  • 1-2 skywe fetakaas, grofgekrummel, of gebruik bokmelkkaas
  • Nóg vars Italiaanse pietersielie
  • Suurlemoenwiggies om mee voor te sit, en die soort roosterbrood wat jy verkies

Metode

  1. Verhit 15 ml van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Soteer die ui, soetrissie, en knoffel ’n paar minute lank. Roer die speserye en gemmer by en soteer dit nog ’n paar minute.
  2. Roer die eiervrug en tamatiepasta goed deur, tot die mengsel aromaties is.
  3. Roer die tamaties en gekapte
    pietersielie by en verlaag die hitte.
    Laat prut dit sowat 15 minute lank, met ’n deksel.
  4. Laat prut dit nog 10 minute lank, dié keer sonder ’n deksel, of tot die sous begin verdik. Geur dit na smaak.
  5. Maak 6-8 openinge in die sous en verdeel die res van die olie tussen die openinge.
  6. Breek ’n eier in elke opening (kyk die WENKE langsaan). Strooi die kaas oor en laat prut dit nog 5-10 minute lank, met ’n deksel, of tot die eiers so gaar is soos wat jy dit verkies.
  7. Sit dit voor met die pietersielie, suurlemoenwiggies en warm roosterbrood.

Wenke

  1. Maak die sous voor die tyd, en verhit dit weer net voor die eiers daarin gebak gaan word. Of maak sommer genoeg vir nóg ’n ete. Dis heerlik om frikkadelle of hoenderporsies in te bak.
  2. Vervang die eiers met botterbone of kekerertjies vir ’n vegetariese ete.
  3. Lepels vol ongegeurde dubbelroomjogurt is ook heerlik op ’n shakshuka.

Plaatkoekies met spek, bessies en jogurt

Ek het hierdie plaatkoekies al vele kere gemaak. Die karringmelk sorg dat hulle veerlig is. Ek sit dit elke keer op ’n ander manier voor, maar my gesin is dol oor die kombinasie van spek, bessies, jogurt en ’n bietjie heuning. Iets soos salm met suurroom en roket, of piesang, grondbootjiebotter, kaneel en heuning is ook baie lekker.

Lewer 24 plaatkoekies

Bestanddele

  • 500 ml (280 g) koekmeel
  • 15 ml (1 e) bakpoeier
  • 2 groot eiers
  • 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 500 ml (2 k) karringmelk
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 60 ml (¼ k) botter, gesmelt
  • Olie vir braai
  • Ongegeurde jogurt, nóg gerasperde suurlemoenskil, heuning, spek en bessies om mee voor te sit

Metode

  1. Sif die droë bestanddele in ’n mengbak saam. Klits die eiers, suurlemoenskil, karringmelk en vanielje saam en maak ’n holte in die middel van die meelmengsel.
  2. Klits die eiermengsel by die meel tot ’n gladde beslag vorm. Moenie dit te veel meng nie, want dit kan die plaatkoekies swaar maak. Roer die botter goed deur.
  3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Skep lepels vol beslag in die pan. (Besluit self hoe groot jy die plaatkoekies wil maak.)
  4. Braai tot daar lugborrels bo-op vorm, en draai dit dan versigtig met ’n eierspaan om. Braai dit net ’n paar minute aan die ander kant, tot dit gaar en goudbruin is. Hou die plaatkoekies warm terwyl die res gebak word. Voeg nog olie by soos benodig. Moenie die pan te warm maak nie, want dan brand die plaatkoekies voor dit gaar is.
  5. Bedien die plaatkoekies warm en sit dit voor met die jogurt, suurlemoenskil, heuning, spek en bessies.

Wenk
Geur 200 ml ongegeurde jogurt met 7,5 ml fyngerasperde suur-lemoenskil of na smaak, en roer 15 ml heuning by. Maak dié mengsel net
voor die plaatkoekies voorgesit word.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.