Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

’n Nuwe begin

Klaagliedere 3:21-24

“Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”

Dit is die grys uur voordat die son opkom. Die luggie is koel en vol belofte.

Dan word die nag se stilte verbreek deur voëltjies wat begin sing. Saam met die vrolike gejubel kry die wêreld kleur soos die sonstrale begin om lig daarop te gooi – eers stadig, dan al hoe vinniger.

Dit is ’n nuwe dag. ’n Nuwe begin.

En dit is een van God se kosbaarste geskenke aan sy kinders. Ons lewe is nie net een, lang, ononderbroke stryd nie, maar dit word in hanteerbare stukke verdeel sodat ons die hoop en genade kan beleef wat met elke nuwe dag na ons toe kom. Die Here se genade is elke môre nuut.

God bly elke oomblik dieselfde, dag of nag, en deur die eeue heen. Hy verander nooit nie. Hy sluimer of slaap nie. Hy word nooit moeg of moedeloos nie. Hy sien alles en Hy weet alles. Hy het die perspektief van die verlede, hede en die toekoms. Hy kyk nie angstig rond vir antwoorde of oplossings nie. God is … God.

Hy is ons liefdevolle Vader wat ons intiem ken. Hy weet ons is broos. Daarom gee Hy ons gereelde rustye en telkens die kosbare gawe van ’n nuwe begin.

Vir baie van ons was 2014 vol uitdagings en moeilikhede. Ons hoop is dat hierdie nuwe jaar beter gaan wees. Ons is soos die kindertjies wat met skoon gesiggies, nuwe skoolklere en ’n sak vol skerp potlode die eerste woorde op ’n skoon bladsy begin neerskryf.

Hiérdie jaar gaan anders wees, skryf ons. Hiérdie jaar gaan beter wees. Hierdie nuwe begin gaan hóú – en net dan maak ons die eerste fout, en die hele bladsy is eensklaps bederf.

Dit is nie genoeg om die fout uit te vee nie; ons kan die skaduwee daarvan steeds sien. Ons wil die blad uitskeur en weer begin. Die eerste blad moet foutloos wees, anders is die hele boek ’n mislukking.

Die waarheid is dat die lewe nie makliker word nie. Dit maak nie saak hoe ons beplan nie, ons sal nie in beheer wees van dit wat oor ons pad kom nie. Ons sal dikwels weerloos en magteloos voel. Ons sal baiekeer struikel en val.

Daar is talle antwoorde wat ons bly ontwyk, maar ons gaan die toekoms met hierdie hoop tegemoet: Ons is nie alleen nie. Ons Vader is elke treetjie saam met ons. Hy is deurlopend dieselfde. Hy is betroubaar. Hy is sterk. Hy is ons voorsiener. Hy is daar waar ons nie kán nie; en waar Hy is, is elke oomblik nuut. Keer op keer skep Hy nuwe verwagtinge en gee Hy nuwe hoop.

Nee, ons hoop is nie op ’n probleemvrye jaar nie, maar ons hoop op Hom wat in alle probleme én alle oorwinnings ons Herder is.

Gesels met jou maat:

  • Wat bekommer jou van die nuwe jaar

Sê nou alles loop skeef – kan ons steeds sê dat Jesus “die Goeie Herder” is? • Waarop hoop jy – op gunstige omstandighede of op God se trou?

Gebed

Dankie, Vader, Herder van ons hart, dat u liefde en genade oor ons lewe elke dag splinternuut is. Dankie dat U ons hoop gee, al vergaan alles rondom ons. U is ons hoop en ons vreugde. Dié wat op U vertrou, sal nooit beskaam staan nie. amen

 

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF