Talita Swarts van Kaapstad vertel watter spesiale pad die Here met haar en haar man Danie stap. Hulle seuns se veelvuldige diagnoses maak hul lewe heeltemal anders as wat sy gedink het dit sou wees. Maar van een ding is sy seker: God is by hulle, elke tree van die pad. Hier is die eerste van twee aflewerings van dié aangrypende vertelling.
Ons beperkte denke oor gebed beperk nie God se wonderwerke nie. Dit het ek die afgelope klompie jare geleer. Hier is my verhaal:
Ek was ’n gesonde 29-jarige wat ’n maklike eerste swangerskap beleef het – maar die geboorteproses was traumaties: Adriaan wou net nie kom nie …
Ná ’n mislukte induksie het my water gebreek, maar ek het te stadig ontsluit. En Adriaan was ’n láng baba, ’n hele 56 cm.
Tydens ’n noodkeisersnee het alle gevoel na my liggaam teruggekeer. Dit het gevoel asof ’n emmer kookwater oor my uitgegooi word.

Soms blou, soms yskoud en bleek
Ná die eerste week het Adriaan aanhoudend begin skree; niks kon hom kalmeer nie. Terwyl die dokters gereken het dis bloot winde, was die aanhoudende gehuil en die min slaap regtig ’n uitdaging.
Op drie maande het die griep wat hy gekry het tot brongiolitis vererger. Ná verskeie kere se asemnood het ons vernevelingsmedikasie vir hom gekry. Toe ek dit die eerste keer vir hom ingee, het hy heeltemal ophou asemhaal. Ek het na die noodkamer toe gejaag en hy is gehospitaliseer en in isolasie geplaas.
Daar het ek by hom gewaak. Een nag het ek te doen gekry met ouers wie se kindjie gesterf het. Ek het nooit dááraan gedink nie. Sal my kind ook sterf?
Toe ons oplaas terug was by die huis, het die probleme nie opgehou nie. Inteendeel, ek moes Adriaan nie minder nie as vyf keer bybring. Ek sou hom blou in sy bedjie vind, of yskoud en bleek. Elke keer het ek gebid en geskree en alles gedoen wat ek kon. God het my pleidooie gehoor: Adriaan het nóg ’n asemteug gegee.
Ek het hulpeloos en oorweldig gevoel. Ek het my ouers in Ventersdorp gebel en hulle vertel dat hul kleinseun al dié ellendes dalk nie gaan oorleef nie.
’n Pryslied midde-in my krisis
Een oggend het ek wakker geword met dié Chris Tomlin-liedjie in my hart: “How great Is our God.” Hoe kan dit wees? het ek nog gedink. Die wanhoop het my oorweldig – en ek sing lofliedjies?

My apteker-pa het gebel net voor hy en my ma in die vliegtuig Kaap toe geklim het. Hy het gesê dat ’n dieetkundige wat hy ken, wonder of Adriaan nie dalk ernstige refluksprobleme het nie. En of die antisuurmiddel Gaviscon nie dalk sal help nie.
Toe gebeur dit: Gaviscon het dadelik die asemhalingsprobleme beëindig. Toe ek lughawe toe ry om my ouers te gaan haal, was Adriaan ’n ontspanne, slapende baba.
Dit het geblyk dat Adriaan gastro-esofageale refluksiekte het, oftewel GERD, ‘n chroniese spysverteringsversteuring. Babas wat daaraan ly, hou op asemhaal vanweë die pyn wanneer daar maagsuur in die slukderm opstoot. Wanneer hulle huil, asem hulle die suur in hul longe in. En dit veroorsaak longspasmas.
Danksy dié nuwe kennis en verdere raad van die dieetkundige, het Adriaan as ’t ware ’n nuwe kleinding geword, versadig en pynvry.
Die daaglikse stryd
Om GERD te bestuur is tydrowend. Dit was nie lank nie of ek het ’n chronies-vaak mamma geword, met boonop karpale tonnelsindroom omdat ek Adriaan vir lang tye ná sy voedings moes regop hou. Ná elke uitgerekte voeding was daar dikwels slegs 15 minute oor voordat ’n volgende voeding moes begin.
Toe hy moes oorskakel na vaste kos, het hy botweg geweier. Om die pyn te beperk wat die suur aangebring het, wou hy slegs in een posisie sit. En dié stil sit het sy motoriese ontwikkeling negatief geraak. Die gevolg? Eindelose toetse, hospitalisering om sy suurvlakke te toets, en terapiesessies.
Die probleem het net groter geword. Toe ons op sy eerste verjaardag ’n kolwyntjie voor hom neersit, het hy bang geword en droewig begin huil.
Pogings om hom te laat eet het my lewe oorgeneem. Ek het 10 tot 13 ure elke dag daaraan afgestaan. Hy het letterlik op PediaSure oorleef, ’n vloeibare dieetaanvulling. En soms darem rosyntjies wat ek oral in die huis neergesit het.
By Adriaan se gelukkige plek, op die strand, wou ’n seemeeu een keer ’n stukkie van sy brood kom steel. Toe eet Adriaan vinnig daarvan. Ek het só gewens ons kon dié ervaring herhaal …
’n Volgende krisis
Vanweë sy gebrekkige dieet het Adriaan ’n bleek, energielose seuntjie geword. Op sy tweede verjaardag het hy die hele dag gehuil. Ons het hom strand toe geneem, waar hy meestal opgekrul op die strandhanddoek gelê het.
Kort hierna het ’n pediater begin vermoed dat Adriaan leukemie het. Dit het my eerste paniekaanval ooit tot gevolg gehad. Ek kon nie asemhaal nie.
Met Adriaan in sy motorstoel het ek gaan asem soek op een van Durbanville se agterpaaie. Onder die oop, skoon lug het ek die motor tot stilstand gebring en uitgeklim. Daar het ek lank gestaan en gehuil. En uiteindelik diep asemgehaal en teruggery.
Daardie aand het ek my man Danie van die leukemie vertel. Hy het vir Adriaan gaan bid.
Die volgende oggend sesuur het Adriaan met pienk wangetjies op en af langs my bed gespring: Hy wou roereiers hê. Ek het sommer drie keer eiers gemaak vir dié mensie wat nooit babakos wou eet nie. Eensklaps was hy ’n ander kind: vol energie, gelukkig, en hónger!
Toe ons die volgende oggend by Bloubergstrand se getypoele gaan stilhou, het hy vinnig uitgeklim, gelag en gespeel. Hy was gesond.
Die dokter was verstom oor hierdie wonderwerk.
Tog het die vriende en familie hardop gewonder: “Is Adriaan regtig genees? Moet julle nie dalk verdere toetse laat doen nie?”
Was dit dan net ek wat wou glo dat Adriaan oukei is?
Kort daarna was ons twee in ’n winkel, en terwyl Adriaan in die gangetjies rondhardloop, kom sê ’n onbekende vrou vir my: “Dis ’n bietjie ongemaklik, maar ek moet vir jou sê ek is bly God het jou seun genees.”
Ek was verstom.
Op ’n dag het Adriaan se vinger- en toonnaels begin afval. Daar het ’n gat in die naelbed verskyn waarna die nael losgekom het. ’n Dermatoloog het dit só aan ons verduidelik: Dit gebeur wanneer iemand by die dood omdraai. Wanneer jou liggaam begin sterf, sterf die naels se selle eerste.
Adriaan is waarlik ’n tweede keer aan ons teruggegee.
Ek het altyd geglo dat twee of meer mense moet saam bid sodat ons gebede verhoor kan word. Jesus het immers gesê: “Waar twee of drie in my Naam vergader, is Ek by hulle” (Matt 18:20). Maar nou weet ek: Ons kan op ons eentjie ook vra; God hoor elke enkele pleidooi. Hy is almagtig, en ons beperkte denke oor gebed kan nie sy wonderbaarlike dade beperk nie.
Skool toe, en ’n nuwe uitdaging
Ná vier relatief maklike jare by die huis was Adriaan se Graad R-jaar traumaties. Daar was baie trane en etlike paniekaanvalle. Adriaan se bloeddruk was skielik hoog en hy moes ’n psigiater gaan spreek.
Vele toetse later is Adriaan met outismespektrum-versteuring gediagnoseer, asook AGHS, aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom. Daar was ook ’n angs-diagnose en een van sensoriese integrasieversteuring.
Vanweë boeliegedrag en onderwysers wat nie opgelei is om neurodiversiteit te hanteer nie, het ek begin om Adriaan tuis te onderrig.
Tuisonderrig het ’n groot, tydrowende aanpassing geverg. Dinge soos vriende maak, leer skryf, skoenveters vasmaak … Ons sou wel daar kom, maar eers ná baie trane. Tog was dit alles veel makliker as die aanpassing in ’n hoofstroomskool.
Vandag is Adriaan in Graad 9. Hy is ’n goed aangepaste, liefdevolle jong man, ’n begaafde kunstenaar, ’n talentvolle tromspeler, en ’n mens met ’n uitstekende leesbegrip.
Ons dank die Here daarvoor en ons weet: “Wat vir mense onmoontlik is, is by God moontlik” (Luk 18:27).
* Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom
** Talita is ’n kunslektor. Sy doen ook navorsing oor kunswerke en bied kunstoere aan. Danie is ’n konstruksie-projekbestuurder in Kaapstad.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















