“Sy was maar 12 dae oud toe sy gesterf het. Voor my sien ek stukkende mense. Dit is nie lank nie, of Marina se gesig is weer nat van die trane, wat sy met ’n lappie afvee. In my gedagtes maal dit dat ons met pyn in die wêreld kom en weer met pyn daaruit gaan – ons eie pyn en ander s’n. Ek is op daardie oomblik weer diep onder die indruk van my gebrekkige wysheid as mens,” vertel \’n dominee van Bloemfontein.
DEUR ENRICO CASALEGGIO; FOTO TER ILLUSTRASIE: UNSPLASH
Marina sit op ’n stoel in die effense privaatheid van die glaskamer. Die lys van sake wat haar so uitgeput daar laat sit, is bykans oneindig: Die geboorteproses, die slegte nuus van ’n baie siek, sterwende babatjie, min slaap, spanning. Tog wys sy trots, met ’n moeë glimlag haar eersteling vir my. ’n Glimlag wat vertel dat sy opreg glo dat haar babatjie die mooiste in die wêreld is.
Carla is inderdaad pragtig. Sy het die mooiste dooprokkie aan vir die geleentheid, kompleet met ’n geblomde hoedjie. Haar gesiggie en handjies steek uit. Die vingertjies krul om ’n kombersie se rand. Haar popgesiggie vertel nie die volle verhaal van hoe siek sy werklik is nie.
LEES OOK: ‘God het my seer gebruik om haar te help,’ vertel pleegma van die Springs-gruwelhuis se Landi
Klein Carla is met haar dermpies buite haar lyfie gebore. Die dokters het verduidelik soms kan hulle met ’n operasie die babatjie red. In klein Carla se geval is dit egter nie moontlik nie. Sy sal net ’n paar dae leef.
Ek is vroeër ingelig dat ons tyd, heel verstaanbaar, beperk is. Ek lees uit Genesis 15. Die lewe van Abraham is ’n lewe van val en opstaan. ’n Lewe van geloof en van geloofstwyfel. Gelukkig eindig die verhaal nie by Abraham en al sy twyfelvrae nie. Wat maak God as Abraham so tussen die twyfelstemme deur worstel om te bly glo? God buig neer na Abraham om hom te troos en te help. Dit is amper of God té simpatiek is.
Ek het die gevoel dat wanneer dit by sy kinders kom, ’n mens iets hiervan by die Here sien. Hy kan net nie níks doen as ons sukkel nie. Dit breek sy hart. God se hart is ook vandag gebreek saam met FC en Marina, verduidelik ek, terwyl hulle albei in trane is.
Die verhaal wat ons van Genesis 15:9 af lees, is vir my een van die ongelooflikste gedeeltes in die hele Bybel. Die Here sê: “Goed, Abraham, Ek sien jy wil baie seker wees van my woord. Ek kan dit verstaan. Daarom gaan Ek en jy nou ’n kontrak aangaan. Bring sommer ’n hele klomp diere. As jy al die diere hier het, kan jy hulle slag en die karkasse solank middeldeur sny en dan wag jy so ’n rukkie vir my.
Toe gebeur daar ’n snaakse ding. Terwyl Abraham op die Here wag, raak hy aan die slaap. En terwyl hy slaap, kom die Here self daar aan. Hy herhaal al sy vorige beloftes aan Abraham. En toe die son ondergaan, terwyl Abraham nog slaap, gaan God alleen tussen die stukke vleis deur! Daarom die baie belangrike woorde in vers 18: “Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abraham …”
Die Here het geweet as Hy die verbond afhanklik maak van Abraham se belofte, dan is die verbond môre weer stukkend. Daarom gaan die Here alleen tussen die stukke vleis deur. Hý skryf die kontrak, Hy alleen sou borg staan daarvoor met sy bloed.
Dit is ook wat vandag met die doop gebeur. God gaan ’n verbond met klein Carla aan. En die feit dat sy te klein is om dit te verstaan, die feit dat sy amper nie eens ’n asempie is nie en dat haar lewetjie aan ’n dun draadjie hang, verander niks aan die geldigheid daarvan nie. Net so min as wat God se verbond met Abraham bevraagteken kon word, omdat Abraham geslaap het terwyl God die verbond aangegaan het. Want sien, dit was nie Abraham se verbond met God nie, maar God se verbond met Abraham. Net so is die doop vanoggend nie Carla se verbond met God nie, maar God se verbond met haar.
Carla beweeg amper nie op haar ma se skoot nie. Die monitors om ons wat flits en piep-geluide maak, herinner my aan die erns van die saak. Die erns van die grootsheid van die oomblik dat God sy hand van genade na ’n swak mensekind uitsteek. Maar ook die erns van siekte en ’n hele paar babas wat ook daar lê en met liefde versorg word.
Die trane loop vrylik oor Marina se wange. Met klein Carla wat haar een arm besig hou, is dit ’n uitdaging om al die trane af te vee. Sy gee later moed op en laat die trane maar loop tot op haar kamerjas en Carla se kombersie.
Ek herinner hulle aan Jesus Christus se liefde en die offer wat Hy aan die kruis gebring het om ons te verlos van sonde en die ewige dood. ’n Offer waarvan die doop juis ’n teken is. Die water herinner ons aan die bloed van Christus wat ons skoon was van ons sondes.
Die grootsheid van die oomblik laat my wonder: Is daar ’n plek op aarde waar jy die genade van God meer konkreet kan sien as by die doop van ’n babatjie? Is daar ’n geleentheid waar jy meer geroer kan word as wanneer jy getuie is daarvan dat die almagtige Skepper van hemel en aarde neerbuig na mense, sy hand van genade uitsteek na ’n swakke, sieklike, sterwende mensekind? ’n Kindjie wat nie eens daarvoor vra of roep nie. Wat nie eens daarvan weet nie? Ja, kom ek tot die gevolgtrekking, só wonderlik is ons God.
FC en Marina antwoord albei bevestigend op die vrae van die doopformulier.
Die saalsuster bring ’n houer vol water wat as doopbak dien. Dit is ’n bak van vlekvrye staal, omtrent so groot soos ’n sopbord, dalk ’n bietjie dieper. ’n Bak wat waarskynlik in die hospitaal gebruik word om instrumente mee skoon te maak. Ironies dat hierdie “skoonmaakbak” vandag ook die verhaal van ’n ander “skoonmaak” vertel – die afwassing van sondes.
Daar is nie veel ruimte om die bak op neer te sit nie. Die saalsuster sit dit so stabiel moontlik op ’n trollie teenaan Marina neer. Dit is ongeveer op dieselfde hoogte as wat sy vir Carla vashou.
“Carla Pretorius, ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. Hoewel dit ’n sin is wat ek al so dikwels gebruik het, het dit nooit vir my “gewoon” geword nie. Elke keer is dit asof ek dit vir die eerste keer sê. Wat hierdie doopgeleentheid betref, is niks in elk geval gewoon nie. As die omgewing en atmosfeer my nie daaraan sou herinner nie, sou die chirurgiese handskoene wat ek dra en in die doopbak steek, die uniekheid en die droefheid van die oomblik uitskree.
Marina huil steeds. Haar hele gesig is byna nat. Haar trane drup konstant in die doopbak neffens haar. Die water waarmee klein Carla gedoop word, is ’n mengsel van hospitaalwater en haar ma se trane. Na ’n rukkie kom vee die saalsuster die meeste van die doopwater/trane, met ’n stukkie watte, van Carla se gesiggie af.
Die gebed wat daarop volg is kort. In sulke oomblikke waar God in sy liefde ons in ons hartseer ontmoet, waar Hy ons gebrek en verslaentheid met sy genade begroet, is dit dalk gepas om ons woorde te tel.
Dit is met ’n warboel van gedagtes en emosies wat ek, op my eie, in die breë hospitaalgang afstap. Ek is nie een wat met woorde sukkel nie, maar om hierdie ervaring onder woorde te bring, is ’n uitdaging. Om erkenning te gee aan die diep hartseer, die trane en die snikke waarvan ek getuie was, en saam met die ouers beleef het, is iets wat nie maklik in taal uitgedruk kan word nie.
’n Paar dae later is dit Goeie Vrydag. Toe die telefoon lui, is dit Kobus – Carla se oupa. Sy stem dik van die emosie. “Dominee, klein Carla is vroeër vandag, op hierdie Goeie Vrydag, oorlede”.
Wat ’n tragedie! Dit is een van daardie hartseer oomblikke wat jy sien aankom, maar tog nie heeltemal op voorbereid is nie.
Ek neem ook die begrafnis van klein Carla waar. Sy was maar 12 dae oud toe sy gesterf het. Voor my sien ek stukkende mense. Dit is nie lank nie, of Marina se gesig is weer nat van die trane, wat sy met ’n lappie afvee. In my gedagtes maal dit dat ons met pyn in die wêreld kom en weer met pyn daaruit gaan – ons eie pyn en ander s’n. Ek is op daardie oomblik weer diep onder die indruk van my gebrekkige wysheid as mens. Ek besef opnuut dat ek nie die antwoorde op al die vrae in die lewe het nie.
Aan die hand van Psalm 46 dink ons daaroor na dat God vir ons ’n toevlug, ’n veilige plek is waarheen ons kan gaan wanneer smart en hartseer dreig om ons te oorweldig. Ek is oortuig dat dit die boodskap is wat die Here aan hierdie familie wil gee wat ’n kind verloor het, wat maar vir ’n oomblik aan hulle geskenk is.
Dit is bitter ironies, maar daar is min dinge wat my in hierdie grendeltyd so getroos het soos die gebeure rondom die babatjie se begrafnis. Die God van genade wat nie van ons ’n prestasie verwag nie; die God wat nie ’n lys daarstel waaraan ons moet voldoen om sy kinders te wees nie; wat ons aanmekaargeweef het in die skoot van ons moeder; Hy stap in genade met ons die pad in hierdie tyd van afsondering. Ja, selfs dié wat niks anders as ’n geboorte gehad het nie, tel ook onder sy begenadigdes.
- Dié getuienis is ’n verwerking van dr Enrico Casaleggio, leraar by NG gemeente Fichardtpark in Bloemfontein, se bloginskrywing. Skuilname is gebruik om die identiteite van die ouers en hulle dogtertjie te beskerm. Die begrafnis en doop het in 2020 plaasgevind.
- Stuur jóú getuienis (sowat 800 woorde plus foto’s ter illustrasie) na conette@tydskrifte.co.za
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.