Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

’n Vars en sinvolle Kersfees

Elke jaar word die Kerstyd met groot afwagting begroet, maar alte dikwels verloop dit weer in die ou, geykte patrone. Dieselfde ou storie, wat niemand meer opgewonde maak nie. Hoe kan ons hierdie kosbare fees weer met oorgawe en oortuiging begin vier?

Deur Rudi Swanepoel

Elke jaar vra gelowiges hulle af: Hoe kan ek hiérdie jaar se Kersfees op ’n betekenisvolle manier vier? Hoe behou ek die fokus op die Fees se ware betekenis? Hoe skep ek die regte soort ruimte – ook wanneer ek feesvier en kuier – waar God en sy Goeie Boodskap sentraal staan?

Elkeen sal sekerlik ’n eie antwoord hierop kan vind. Een wat by hulle eie situasie en omstandighede pas. Maar vir baie lê dit dalk rondom nuwe interpretasies vir ou gebruike. En ook by die herwaardering van saamwees en die heilsaamheid daarvan.

Hier is enkele bakens op weg daarna om die ware fees in Kersfees te sit.

 

Bedoelings is baas

Wanneer jy jou Kersete of Kersvierings beplan, is dit jou bedoeling daarmee wat die groot verskil maak. Sonder ‘n klinkklare bedoeling word hierdie byeenkoms dalk (weer) ’n voorspelbare, vervelige saamwees van mense … wat dalk nie eens daar wou wees nie.

Maar as jy ’n fokus het, ’n duidelike prentjie van dit wat jy met jou fees wil bereik, word dit ’n splinternuwe avontuur.

Byvoorbeeld: Indien jy oor die Kerstyd ver van jou familie is, kan jy dit gerus oorweeg om mense te nooi wat in dieselfde bootjie as jy is. Wanneer jy dít doen, is dit jou bedoeling – uitgesproke of nie – om God se gasvryheid teenoor die mensdom te beklemtoon.

 

Versierings is veelseggend

Jou Kersversierings – hoe jy dit beplan, hoe jy dit maak, wie almal daaraan deelneem – verklap heelwat van jou (goeie) bedoelings. Dit het immers alle potensiaal om ’n gesinsvriendelike aktiwiteit te wees, met gesellige gevolge.

Carla van Heerden, ’n jong Johannesburgse ma, is daarvan oortuig dat jy met min moeite en geld die hele gesin by hierdie plesierigheid kan betrek. Vanjaar beplan sy om saam met haar mense soetkoekies te bak, en om dit dan met gekleurde lint aan die Kersboom te hang. “Ek gebruik ’n ster- of ’n denneboom-koekiedrukker. En uiteindelik eet ons die versierings op. Dit is ’n goedkoop lekkerte!”

Daar is etlike ander moontlikhede: Wat van uitgedrukte foto’s van jou hartsmense, of van die genooide gaste? Plak dit dan versigtig op karton of harde papier, en sny dit in die vorm wat jy verkies.

Hierdie foto’s word saam met ander versierings – byvoorbeeld eenvoudige wit liggies of gekleurde linte – aan die Kersboom gehang. Die fokus is egter die foto’s en nie die bykomende items nie. Wat laasgenoemde betref, is minder waarskynlik meer.

Die kinders kan só betrek word: Vra hulle vooraf om Kersfees-kuns met kryte of verf op A3-grootte papier te skep. Hulle kan die Kerstoneel uitbeeld, of hulle gunsteling-Kersvakansie. Moedig hulle aan om méér kleure as net rooi en groen te gebruik.

Sorg dat hierdie kunswerke gelamineer word en gebruik dit dan as plekmatjies op die etenstafel. Só bly dit boonop behoue vir aanstaande jaar se Kersvieringe. Onthou tog om elke kunstenaar se naam en ouderdom by te skryf voordat jy dit laat lamineer.

 

Rituele wat raak

Kerstyd is vir die meeste mense ’n emosionele tyd. Omdat dit ’n tyd van saamwees is, is die sigbare afwesigheid van sommige geliefdes – dié wat ver is, dalk oorsee; dié wat gesterf het – ’n seer saak.

Gee gerus erkenning aan hierdie seer. Begin byvoorbeeld die gebruik om kerse op ’n fokuspunt te plaas – selfs in die middel van die etenstafel – om die afwesiges te onthou en te eer. En dan, voordat julle aansit, maak ’n kring om die tafel, vat hande en steek die kerse aan.

Dit kan gepaard gaan met die noem van die betrokkenes se naam, en dalk ook ’n paar woorde oor die persoon. Wees voorbereid op die emosie wat dit kan ontlok, en moenie daarvan probeer wegskram nie.

Moet nooit musiek se rol tydens Kersfees onderskat nie. Die gaste kan vooraf gevra word om hulle gunsteling-Kersfeesmusiek saam te bring. Dit hoef ook nie tot Kersmusiek beperk te wees nie; enige gepaste musiek kan tot die feestelikheid bydra.

Dalk is julle gelukkig genoeg om ’n musikant teenwoordig te hê, of dalk bloot iemand wat julle kan begelei by die sing van ’n klompie Kersliedere. Só word daar wonderlike herinneringe geskep.Moet nooit musiek se rol tydens Kersfees onderskat nie. Die gaste kan vooraf gevra word om hulle gunsteling-Kersfeesmusiek saam te bring. Dit hoef ook nie tot Kersmusiek beperk te wees nie; enige gepaste musiek kan tot die feestelikheid bydra.

 

Tafeltyd is storietyd

Jy kan dit gerus oorweeg om ’n paar goeie staaltjies te (laat) vertel. Soms gebeur dit spontaan. Lig jou gaste in elk geval vooraf in dat hulle ’n storie of staaltjie met hulle tafelgenote sal moet deel.

Moontlikhede hier sluit ’n vertelling in van hulle beste Kersfees ooit. Of iets oor ’n spesifieke Kersvakansie. Sê die kinders aan om oor ’n gebeurtenis te praat, of oor ’n persoon – en nie bloot oor die keer toe hulle ’n lankbegeerde geskenk ontvang het nie.

En dan is daar die Kersverhaal. Wys vooraf iemand aan wat dit gevoelvol kan voorlees, of op ’n kreatiewe manier kan oorvertel.

By laasgenoemde kan die kinders gerus betrek word. Nooi hulle uit om die storie te help vertel. Die (volwasse) inleier kan begin, maar die daaropvolgende momente én die detail word deur die kinders voltooi.

Natuurlik kan die Kersverhaal ook opgevoer word. En hier is die moontlikhede legio.

Hoe ook al: Die tydsberekening is belangrik. Besluit dus vooraf wanneer dit alles gedoen gaan word, sodat jou gaste daarvan bewus is.

 

Kyk verder

Dit is wonderlik om ’n klompie uitgesoekte gaste aan jou tafel te kan hê – hartsvriende, sielsgenote. Maar daar is baie mense wat nie so gelukkig soos julle is nie. Dit is diegene wat probeer om sonder ondersteuningstelsels en gesonde netwerke te oorleef.

Kersfees is die ideale tyd om uit te reik na hulle wat afgesonder is of geïsoleerd lewe.

Oorweeg dit om hierdie Kersfees kospakkies met basiese benodigdhede saam te stel en dit aan behoeftiges uit te deel. Jy kan met min moeite by ’n kerk of ’n gemeenskapprojek betrokke raak wat juis in die Kerstyd hierdie soort inisiatiewe van stapel stuur. Dié weldoeners sal ook die beste raad hê oor watter items in die pakkies moet wees.

Indien jy dit oorweeg om in dié tyd by ’n kinderhuis of ’n tehuis vir bejaardes betrokke te raak, moet jy deur ’n bestuurder of maatskaplike werker seker maak wat die spesifieke behoeftes is.

Kerstyd is ’n tyd vir saamwees, vir kuier, vir viering. Nou kan jy jou blydskap en dankbaarheid vrye teuels gee, en die Koning se geboorte met oorgawe en entoesiasme vier.

Dit is ’n tyd om God opnuut te verheerlik, om weer eens te besluit om voluit te leef. Om ook te onthou dat ons Hom eer deur hierdie lewe met albei hande aan te gryp, ook ánderkant Kersfees.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF