In 2005 was ek 28 jaar oud. Met ’n klein seuntjie van drie maande in my arms, waaroor ek lank gebid het, kuier ek in Suid-Afrika by my familie. Ons was in ’n park waar ek probeer het om my oë oop te hou van die min slaap as gevolg van ’n seuntjie wat nie my borsmelk kon inhou nie. Hy was heeltyd honger, kon nie slaap nie en het toe reeds drie oorinfeksies gehad. Huilerig en moedeloos het my sussie se skoonsussies langs my kom sit en my moed ingepraat – vir my gebid.
Daar ontvang ek vir die eerste keer ’n profesie – iets wat ek glad nie verstaan het nie. Die drie wonderlike vroue het ’n beeld gesien waar menige vroue oor my pad geloop het. Nie een of twee nie, maar ontelbaar baie.
Ek het nie toe ’n pad met Hom gestap nie. Ek was as kind elke Sondag in die kerk, maar ek het Hom nooit werklik as ’n Vader geken nie. Hoe sou Hy my dan ken? Ek het daar besef die Here weet wie ek is en dat ek vir Hom belangrik is. In daardie hopelose oomblik het Hy vir my soveel hoop gebring.
Ek het lank probeer sin maak van wat daardie dag gebeur het. Ek het oor en oor met vriendinne gesels en die getuienis met hulle gedeel. Ek het soms gevoel soos Josef wat gespog het met sy groot, belangrike drome – al verskil was dat ek nie werklik geglo het dat die profesie vir iemand soos ek beskore was nie. In my gedagtes was daar soveel ander vroue om my wat meer eerbiedwaardig en gelowig was.
Tien jaar later kon ek sien hoe die profesie in my lewe begin ontvou. Ek het ’n swaar pad gestap waarin ek sy hand in my lewe kon sien: drome onverwesenlik, ’n lewe in die buiteland sonder my familie en hartsvriende, en etlike kere wat ons moes oorbegin met jong kinders in nuwe, vreemde lande.
Toe ons in 2015 Switserland toe trek en ’n swaar tyd beleef, het ek gevoel asof ek die beproewings in my lewe nie kan oorleef nie. Dit was toe dat ek vir Maxine en Anne-Marie leer ken het. Later, toe ons in Barcelona woon, ontmoet ek vir Carien en Emily. Vandag besef ek dit was die begin van my genesingspad. Die Here het my toe begin voorberei vir wat Hy reeds in 2005 vir my bestem het. Hierdie vroue sou elkeen ’n rol vertolk in my ontdekkingsreis van wie God werklik is. Saam met hulle sou ek later ’n diep pad stap om die eerste vrouekamp van sy soort in Europa te begin.
Lees meer: ‘Al lyk alles donker, hou aan bid,’ vertel vroue met spesiale bidkombers
KeeperSoul Women’s Ministry is gebore uit daardie profesie in 2005. Ons nooi vroue om, nes hulle is, te kom na ’n veilige hawe waar hulle hul hart kan blootlê en die liefde van ons Vader ervaar. Die kamp is vernoem na die kiepersol, my ma se gunstelingboom, wat altyd bo ander bome sal uittroon om sy kroon in die son te hou.
Vandag bedien ek en my span elke jaar tot 14 vroue in ’n persoonlike en intieme kamp in Portugal. Die rimpeleffek is onbeskryflik; ons sien hoe lewens voor ons oë transformeer. God se liefde is so oneindig en groot. Soos dit in Psalms staan: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.”
Ons ontmoet soveel vroue in ons lewe wat, as ons oë oop was, ’n groot impak op ons kon hê. My vriendinne is elkeen op spesifieke tye op my pad geplaas. Die Here het dit alles haarfyn beplan. Dit was vroue wat my in liefde omvou het, vir my gebid het sonder dat ek gevra het en bly glo het dat God Homself aan my sou openbaar.
KeeperSoul het onlangs twee van dieselfde profesieë ontvang. Ek weet nou dat die Here só met my praat – dat Hy sy groot idees op indrukwekkende maniere aan my moet kommunikeer, sodat ek weet dat dit van Hom af kom. Ons profesie vir KeeperSoul is dat sy orals gaan wees! Ons gaan leiers van helende huise lei en oplei. Ons weet nog nie hoe ons daar gaan uitkom nie, maar glo dat die Here ook hierdie pad met ons gaan stap. Intussen verdrink ek in sy Woord, sê ek “ja”, en omring ek my deur vroue wat bid en my inspireer om God se stem te hoor.
- Fransien (46) woon in Algarve, Portugal, saam met haar man, Ruan, en hul twee kinders. Christian (18) speel sokker en studeer deeltyds, en Marie (16) voltooi haar A-Levels. Ruan is ’n entrepreneur en is die finansier vir die KeeperSoul-vrouekampe. Fransien skryf ook musiek en het reeds sewe enkelsnitte in die Afrikaanse mark vrygestel.
- Fransien en haar vriendinne Anne-Marie van Eeden, Carlien Doevendans, Emily Davis en Maxine Vorster is die span agter KeeperSoul. Lees meer oor hulle werk by https://www.keepersoul.com/
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.