Op ’n Woensdagoggend, êrens in die Magaliesberge, sal jy ’n klompie vroue aantref – soms sommer ’n hele vertrek vol – wat besig is om te bid.
Hier, waar ’n lowergroen gholfbaan wyd en uitgestrek lê, waar etlike indrukwekkende huise pronk, waar bokkies vryelik rondloop, is ’n bidgroep. Dis aanvanklik gestig met die doel om vir die landgoed, sy bestuur en sy mense te bid.
Namate die tyd verloop het, het die groep groter geword. Nou is dit ’n veilige ruimte vir menige vrou, mamma, ouma en vriendin.
LEES OOK: Roggeveld-boervrou se ‘huis van gebed’ en hul droogte-wonderwerk
Een vrou het destyds vertel hoe dankbaar sy sou wees as sy bloot ’n paar vriendinne kon hê wat bereid sou wees om haar, soos die verlamde man se vriende gedoen het, voor Jesus se voete neer te sit.
En op ’n dag het iemand met die plan van ’n “bidkombers” vorendag gekom. Die inspirasie daarvoor was dié gedeelte in Markus 5:18-20: “’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus te kom, maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus! Toe Jesus hul geloof sien, het Hy vir die lam man gesê: ‘My seun, jou sondes is jou vergewe.’”
Met hierdie verse as grondslag het die “bidkombers” ’n werklikheid geword. Dit is ’n lieflike kombers, met lusse aan die kante, wat die toue simboliseer waarmee die slaapmat tot voor Jesus laat sak is. Op elke lus is ’n bidsussie se naam geskryf, een wat bereid is om in te tree vir elke naam en elke versoek wat op die kombers geskryf is.
Namate die tyd verloop, word die name op die bidkombers meer. Die dames by die bidgroep kry elkeen ’n beurt om die kombers ’n week lank huis toe te neem. Daardie week bid jy op die kombers, jy bid daaróór, jy draai dit om jou. Jy staan voor Abba met elke naam, elke versoek. En Abba hoor en verhoor. Want Hy is getrou.
Van die onderskeie versoeke en name op die kombers word afgemerk omdat God verhoor. Wanneer Hy antwoord, word die datum ook langs die versoek of naam geskryf. Alle eer aan Hom!
Ons besef dat die krag nie in die kombers geleë is nie, maar in ons almagtige Vader. En in getroue, voortdurende gebed. Die vertroosting wat die kombers bring, is om te weet dat iemand werklik vir jou bid. Jy voel die salwing van die Heilige Gees wanneer jy die bidkombers om jou skouers hang.
Elke Woensdagoggend word die bidkombers oor die eetkamertafel oopgegooi, en almal hou daaraan vas, hulle plaas hul hande op die kombers. En God is getrou. Hy antwoord, Hy verhoor.
’n Klompie getroue vroue wat na Hom roep, asook ’n kombers wat uit liefde en ná gebed gemaak is … Ons lees immers in 1 Tessalonisense 5:17: “Bid sonder ophou.”
Al lyk die wêreld en die lewe om jou deurmekaar en donker – hou aan bid. Gebed verander alles.
Ons kan getuig van name en sake op die kombers waar Abba die gebedsversoeke gehoor en verhoor het. Drankverslawing, genesing van siekte, verlossing. En werkloses wat nou werk het. Dan was daar ook kankerpasiënte … Sommiges is wel deur Abba kom haal; hulle is nou verlos van hul lyding op aarde.
Ons leer van Abba se vrede, sy genade. Ons bid steeds vir die landgoed en ons land. Elke naam en saak op die kombers word in geloof voor Hom gebring.
En ons glo: “But God … will deliver, will heal, will provide!”
- Jennie Pretorius (66) is ’n ouma van vier kleinkinders. Sy woon in Magalies Park Landgoed in Hartbeespoortdam. Sy vertel sy het die Here reeds 43 jaar gelede ontmoet, maar sy leer steeds elke dag meer van Hom.