Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Nederigheid – ware deernis se geheime bestanddeel

’n Spinnekop het my verlede week op my enkel gebyt. Die bytplek was baie rooi, opgeswel en bitter seer.

My jongste het die bytplek gesien en gevra wat gebeur het. Ek vertel hom en verduidelik dat dit báie seer is. Nie lank daarna nie loop die mannetjie toe sommer ook mank. Toe ek vra wat hom makeer, antwoord hy in ’n hartseerstemmetjie: “’n By het my op my voet gesteek en nou kan ek nie loop nie.” 

Die gevolg was dat Mamma die “bytplekkie” moes beter soen en hom vir die res van die dag oral moes ronddra. Daar was egter geen merk nie – en geen by in sig nie!

Die outjie het net so ’n bietjie aandag (en simpatie) gesoek. 

Dit het my laat dink aan hoe grootmense so dikwels dieselfde ding doen, dalk net op ’n meer subtiele wyse. As mense by ons afpak oor hul probleme, dan is ons gou om iets te sê soos: “Jy sal dit nou nie glo nie, maar presies dieselfde ding het met my gebeur!” Of, nog erger, ons vertel ’n storie oor iets wat nog slegter is wat óns oorgekom het.

In plaas van medelye met die ander persoon en ’n geduldige luister na hul probleme, sorg ons dat alles om óns draai. Eintlik sê ons op dié manier: “Ek en my probleme is belangriker as jy en jou probleme.” Die arme mense wat ons met hul seerkry vertrou het, se wind word behoorlik uit hul seile gehaal. Hulle sal waarskynlik nooit weer iets aan ons vertel nie.

Ek wonder waarom ons dit doen. Waarom is opregte deernis vir ons so moeilik? Waarom wil ons so graag wen, selfs al is dit in ons (en ander se) swaarkry?

LEES OOK: Die stem in die stilte

Ek vind die antwoord op hierdie vrae in die Bybel. Hoor wat skryf Petrus: “Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig” (1 Pet 3:8). En Paulus: “Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees” (Kol 3:12).

Nederigheid, beklemtoon al twee apostels in hul onderskeie “lysies”, is ’n belangrike sleutel. Dit lyk aanvanklik asof dié woord nie daar pas nie. Maar kyk mooi, en jy besef dit impliseer dat hoe ek myself beskou ’n groot rol speel in die manier waarop ek ander behandel.

Hoekom is nederigheid dan so belangrik indien ons ander mense met deernis wil behandel?  

Eenvoudig: Dis dikwels ons ego wat in die pad staan van ons deernis. Werklike medelye beteken dat jy doelbewus die agterste sitplek inneem en die ander persoon die belangrikste in daardie oomblik máák. Dit beteken om van jou eie behoeftes en begeertes en probleme te vergeet, en iemand anders s’n die middelpunt te maak. Ons moet ons naaste liefhê soos onsself. ’n Mens kan dit egter nie regkry as jy nie saam met jou medelye, liefde en goedhartigheid ook ’n gesonde porsie nederigheid uitstraal nie. 

Jesus het ons van hierdie soort liefde vertel en geleer. Dis ’n liefde wat ander se voete was, wat jouself laaste plaas en ander eerste. Hy het immers gesê: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees” (Mark 9:35).

Jesus se woorde loop uit op dade wanneer Hy, die vlekkelose Lam van God, al ons sonde op sy skouers neem. Daar is geen groter liefde as dit nie. Ons het nie verdere bewyse nodig om te weet dat nederigheid en om ander eerste te stel noodsaaklik is vir deernis en medelye nie. 

Bid saam met my: “Here Jesus, maak my nederig. En leer my om, soos U, ander mense eerste te stel.” 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF