Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Net een ware Swart Vrydag

Ons is in die maand November wat vir baie mense sinoniem is vir Black Friday wat aan die einde van die maand plaasvind. In eenvoudige taal beteken dit: Specials, specials, specials! Mense wat mekaar doodtrap vir goedkoper koffie of ’n grootskermtelevisie. Om elke hoek en draai word alles teen afslagpryse verkoop. Mense staan in rye en rye vir produkte wat goedkoper aangebied word as wat dit normaalweg kos. Party gaan slaap nie eers nie om die internet dop te hou vir waar daar ’n winskopie aangekoop kan word. En ek sê nie dis sleg nie. Ek is die eerste ou in die ry vir ’n bargain. Vra my vrou – sy sê ek gaar op! Dit gee my groot plesier om ’n winskopie raak te loop.

LEES OOK: God se wiskunde werk anders

Maar eintlik was daar net een ware Swart Vrydag, en dit was so om en by 2 000 jaar gelede. In die Bybel lees ons van mense wat Jesus gespoeg het, Hom gegesel het, ’n doringkroon in sy hoof ingedruk het, vir Hom gelag het. Inderdaad ’n donker dag. Dit was ook ’n Vrydag en seker die droewigste dag ooit.

Op daardie dag was daar géén winskopie nie, maar is die duurste prys vir my en jou betaal. En ja … ons kry die wins, die opbrengs daaruit; ’n balansstaat wat ’n bedrag in die groen wys wat eers in rooi was. Izak de Villiers skryf in 1972: “Ek is so in die skuld by U, My bankstaat bly in rooi getik.” Maar na Jesus se kruis is dit nie meer so nie. Ons sonde is vergewe, ek en jy is nuutgemaak en niks wat ons gedoen het of nog gaan doen is nie vergewe aan daardie kruis nie.

Dit was egter soveel meer as net ’n transaksie. Dit was die offering van God se Seun sodat ek en jy in die winste kan deel – die Ouditeur maak seker die somme klop. Sjoe! Daar is geen groter wins as dít nie.

Ek wil jou vandag aanmoedig om opnuut te besef dat die grootste wins reeds verkry is. Dit het op ’n koppie gebeur – sommige geleerdes meen dis dieselfde koppie waarop Abraham amper sy seun geoffer het. Daar het God ’n Black Friday gehad, maar met geen winskopie uitgestap nie. Nee, Hy moes met sy Seun se lewe betaal. Ek glo sy hart was oorweldig en vol smart en pyn, maar Hy het geweet sy Seun moes sterf.

Mag ons dit nooit as te nimmer vergeet nie, en ook vir mense van hierdie Wins vertel … of selfs vir hulle die winste wys, op watter manier ook al. Dalk deur ’n blikkie kos of ’n glimlag of met die woorde: “Die Here seën jou!”

Mag dit so wees. Sjalom en sela!

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF