Hierdie deel van my verhaal begin in 2009 toe my man Leon van der Walt in die Nelspruit-hospitaal ná ’n hartaanval oorlede is. Hy was ’n tipe 1-diabeet en moes twee keer amputasies aan dieselfde been ondergaan.
Die tweede amputasie was te veel vir sy hart. Hy was bitter jonk toe hy gesterf het. Ek was 36, ons seun Istwahn was agt en ons dogter Leonique sewe.
Leon se dood het ons verpletter. Ons het alles verloor, nie bloot ’n man en pa nie.
LEES OOK: Vrou nadat haar man hul albei skiet: ‘Ek is uiteindelik vry, al is ek in ’n rolstoel’
My kind se ongeneeslike siekte
Twee jaar voor Leon se dood is Leonique met pulmonêre hipertensie (hoë bloeddruk in die longe) gediagnoseer, ’n seldsame siekte, en ongeneeslik.
Sy is nooit opgepiep nie; ek het haar grootgemaak met die leuse: “Ek is nie siek nie; partymaal kan ek net nie alles doen nie.”
Sy mag nie gehardloop of trappe geklim het nie, maar Leonique wou selde stil sit. Haar laerskoolonderwysers was dierbaar. Wanneer sy krieket gespeel het, hoef sy net te gekolf het. Iemand anders het dan namens haar lopies gehardloop. Op dié manier kon sy steeds saam met haar maats speel.
Daar was soms rowwe tye, veral met my beperkte inkomste as sekretaresse by die balju, en my pa se eie been-amputasie kort ná Leon se dood. Ek kon wel my ma ondersteun met my kennis oor amputasieverbande en -wonde.
Dinge het beter geword toe ek ’n nuwe pos by ’n regsfirma gekry het, en ’n groter salaris. Leonique het steeds chroniese medikasie gebruik, maar haar toestand was onder beheer. ’n Trustfonds, wat intussen in Suid-Afrika gestig is, het gehelp om kinders soos sy se mediese uitgawes te dek.
In later jare moes sy 24 uur per dag suurstof naby haar hê. Terwyl ek vele balle in die lug probeer hou het, moes Istwahn maar dikwels terugstaan en my aandag ontbeer. Vandag is hy ’n sterk, vasbeslote jong man, wat graag ’n helpende hand na ander uitsteek.
My beste besluit nóg
Toe ek vyf jaar ná Leon se dood met Rieces Röder trou, het hy my kinders as sy eie aanvaar, onvoorwaardelik. Ons het buite Lydenburg op ’n plaas kom woon.
Dit was ’n moeilike besluit om alles in Nelspruit net so te los, maar dit was my beste besluit nóg: die stilte, die natuur, die wildsbokke om ons. En ’n hegte plaasgemeenskap wat mooi na mekaar omsien – wat ’n vreugde!
Die lugdruk was egter te veel vir Leonique en sy het in Roodepoort, by haar oupa en ouma aan vaderskant, gaan woon. Daar was sy nader aan haar kardioloog, en dié reëling het goed gewerk. Sy was vakansietye by ons op die plaas.
Die lewe was goed, ons was gelukkig en ek het by ’n prokureurskantoor begin werk.
’n Groot terugslag
Maar ses jaar gelede, net voor my 47ste verjaardag, het ek onverwags ’n beroerte gehad.
Ek was nooit siek nie; ek het net baie moeg gevoel. Ek het gaan lê en aan die slaap geraak. En gedroom: Daar was ’n helder wit lig, en my oorlede pa wat sy hand na my toe uitsteek.
Op daardie dag, ’n vakansiedag, het Istwahn my lewe gered. Toe hy en Rieces my by die dokter besorg, was dié se woorde: “Ek kan nie glo sy is nog hier nie.” My tong was opgeswel, my gesig skeefgetrek, ek was baie dors. En ek het, vreemd genoeg, ’n groot lus vir ’n pienk melkskommel gehad …
Ek kon nie praat of eet nie, maar ek het geweier om na dieselfde staatshospitaal toe te gaan waar Leon gesterf het.
Só het my herstelpad begin – tuis, waar Rieces eenvoudig alles vir my gedoen het. Hy het my medisyne en formules in ’n spuit opgetrek en vir my gegee. Hy het my gehelp tussen my bed en die toilet. Hy het my weer leer praat en eet en loop. Hy is regtig die beste ding wat met my kón gebeur het.
My tweelingbroer Michael en beste vriendin Annelize Cross was ook altyd beskikbaar. Hulle is, tot vandag toe, my motivering en krag in sulke swaar tye.
My kind kom huis toe
Terwyl Leonique nog by haar oupa-hulle gewoon het, het sy as kelnerin gewerk. ’n Paar kere het sy by die werk flou geword, maar dis elke keer aan moegheid toegeskryf.
In 2021 het Leonique se ouma gesterf, en ’n jaar later haar oupa. Sy moes na ons toe terugkom. Sy was toe 20 jaar oud.
Op 10 Julie 2022 het my kind huis toe gekom. Ek was oorstelp van vreugde, aangesien ek die hele dag alleen was. Istwahn was in Bloemfontein op universiteit.
Ek en sy het ure lank gesels terwyl ons haar goedjies uitgepak het. Ek het opgelet dat sy gereeld wou lê en rus, sy was knaend moeg. Ons is al twee lief vir musiek en in ’n stadium het sy my gevra om die liedjie “Hou die hemel oop” vir haar te speel.
Ek het vir haar gesê: “Lolla, moenie so wees nie! Ek het vir jou werk gekry, jy wil nog studeer, jy wil met kinders werk wat spesiale sorg nodig het.”
Op 14 Julie het ek gesien Leonique se lippe is blou. Sy het my verseker sy het haar medisyne gedrink, dat sy net moeg voel. Maar later daardie middag, toe sy gaan bad, het sy my dringend geroep. Sy was bitter swak.
Ons het haar sitkamer toe geneem, waar sy op haar arms gaan lê het. Rieces het haar na my bed toe gedra en ek het langs haar gaan lê. Toe het sy haar arm om my nek gesit en net gesê: “Mamma.”
“Ek is by jou, my blom,” het ek geantwoord.
Toe het sy haar laaste asem uitgeblaas.
Daardie plekkie in my arms waar sy pas ná haar geboorte gelê het, daar is sy 20 jaar later van my af weggeneem. Die sirkel was voltooi.
Ek dink sy het geweet haar einde is naby, want sy wóú, ’n week te vroeg, my verjaardaggeskenk vir my gee. Dit was ’n armband, ’n charm bracelet, wat die gelowige se wapenrusting uitbeeld.
Ná haar dood het Michael en Annalize, en Rieces en my ma, met al hul liefde weer my flenterstukkies opgetel.
Annalize het vroeër ook ’n kind verloor, en sy was die eerste mens wat ek gebel het. Sy het die roudiens gereël, sy het my laat huil, sy het Leonique se goedjies namens my uitgedeel. Sy en my familie is regtig my 911-noodnommer.
Juanita du Plessis se “Altyd daar” was die luitoon op Leonique se foon. Ons het dit op haar begrafnis gebruik en na dié woorde geluister: “Sonder dat ek weet, het U my altyd vasgehou.”
My ma, ook reeds 80, is my “antieke dogtertjie”-vriendin. Sy het my sommige dae in die bed laat bly sodat ek kon huil. Sy het my sagopoeding gevoer om my te troos.
Ek het geleer …
Dis nou twee jaar later. Ek is steeds stukkend, en nog nie heeltemal gesond nie.
Maar ek lewe.
Hoe?
Net deur onbeskryflike genade en liefde, en my geloof. Ek het geleer Hy is régtig elke dag hier by my.
My raad aan ander is: Skryf al die negatiewe dinge in jou lewe neer, kyk na jou lewe en besef: Hy is altyd daar.
Vandag sê ek dankie dat Leonique mý kind was. Ek het soveel ander mammas ontdek met dieselfde seer. En ons ondersteun mekaar. Op moeilike dae bid ons vir mekaar. Ons leef net deur genade.
En ek hou vas aan Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”
Toe Leonique se afskeidsballonne tydens haar begrafnis ’n L in die lug vorm, toe het ek geweet: Die hemel is oop!
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.