Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Om eenvoudiger te leef is om meer plek vir sielsdinge te hê

Ons het onlangs verhuis. Ek het alles wat ons deur die jare heen versamel het onder oë gehad, en dit toe in bokse gepak.

’n Mens dink anders oor jou besittings wanneer jy dit in bokse sien staan. Dit voel eensklaps minder belangrik …

Erken die oordaad!

Ons het grootgeword met ’n kapitalistiese siening van die wêreld, waarin die vernaamste doel blyk te wees om te versamel en te verbruik. Ons het leer glo dat meer beter is; dis die boodskap wat ons deurentyd gehoor het. Al die advertensies vertel ons dat die nuwer, jonger weergawe van dit wat ons reeds het beter is as die oue waarmee ons eintlik doodgelukkig is.

Boonop dra ons dikwels hierdie siening aan ons kinders oor. Ouers is gedurig besig en dít is die boodskap wat hulle hiermee aan hul kinders stuur: “Ek bestaan omdat ek produktief is.” Of: “Ek bestaan omdat ek verbruik.”

LEES OOK: Strome lewende water …

Waarom voel ons so dikwels dat wat ons besit nie genoeg is nie?

Ons kan regtig eers die waarheid sien wanneer ons die oordaad erken. Wanneer ons ontslae raak van alles wat ons nie nodig het nie. Wanneer ’n nuwe eenvoud ons uitsig verbeter.

Ons moet opnuut bewus word van hoe dit voel om genoeg te hê. Ons moet doelgerig leer wanneer ons nie méér nodig het nie. Ons het vergeet hoe dit voel wanneer genoeg regtig genoeg is; ons weet nie meer wanneer om halt te roep nie. Ons raak te geheg aan bepaalde dinge of menings en hou dit gans te styf vas.

Die eenvoud wat Jesus wil hê

Maar hoe verslap ek my greep op daardie dinge?

Dalk moet ek my afvra of die dinge wat ek versamel ’n poging is om ’n leemte diep binne my te vul. As ek boonop vasstel dat daardie leemte ’n geestelike oorsprong het, sal ek ook weet dat geen besitting dit kan vul nie. Inteendeel: Minder besittings laat meer plek vir sielsdinge. Op dié manier leer ons hoe dit voel om versadig te wees, om genoeg te hê.

Ons besef ook ons het toe nie so baie nodig soos wat ons gedink het nie. Ons leef dan vanuit God se oorvloed, en deel dit met die mense om ons.

Jesus leer ons om nie verlei te word deur allerlei oortollighede wat ons aandag aftrek van wat belangrik is nie. Hy het sy dissipels die wêreld in gestuur en hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe ’n wandelstok. Nie brood of ’n reissak of geld in die gordel nie. Hy het selfs gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” Hulle kon wel sandale dra (Mark 6:8-9).

Ek is nie naastenby daar nie. Ek sou waarskynlik ’n paar stelle klere, ’n bankkaart, genoeg water, my selfoon en ’n klomp padkos wou saamneem. Net vir ingeval – want sê nou God voorsien nie?

Om die soort eenvoud na te jaag wat Jesus wil hê, vra volle vertroue in God se voorsienigheid. En as ons dit regkry, besef ons hoe min ons werklik nodig het. En ons weet opnuut hoe afhanklik ons van God is. 

’n Vreugdevolle ervaring

As ons om ons kyk, kan ons sien dat die mens inderdaad sal moet leer wanneer genoeg werklik genoeg is. En hoe gouer hoe beter. Indien dit nie gebeur nie sal ons ons omgewing vernietig. Ons sal sonder ophou meeding om hulpbronne. Daar sal geen einde aan die gevegte wees nie …

Daar is wel genoeg vir almal se behoeftes, maar nie vir almal se gulsigheid nie. Ons sal moet leer om dit wat ons het nie so vas te klou nie. Ons moet nooit dink dit behoort aan ons nie.

Om van besittings afskeid te neem kan ’n vreugdevolle ervaring wees. Wanneer ons laat los, besef ons opnuut hoeveel harde werk dit was om so te moes vasklou. En wanneer ons eenvoudiger leef, leer ken ons God se oorvloedige liefde. 

Bid saam met my: “Vader, leer ons om in eenvoud te leef, om eenvoudig te luister en te antwoord. En om dit wat ons omring te vereenvoudig sodat ons beter kan sien wat belangrik is en wat nie. Help ons om ontslae te raak van alles wat ons uitsig belemmer, en van alles wat dit moeilik maak om u stem te hoor.” 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.