Ek staan en kyk hoe my seuntjie in die tuin speel. Hy het ’n houertjie wat hy met water vul en dit dan op die plantjies uitgiet. Hy loop heen en weer, van die kraan na elke plantjie, en weer terug. Dan herhaal hy die proses. Tot ek voorstel dat hy eerder ’n gieter of selfs die tuinslang gebruik. Die houertjie in sy hand is regtig nie doeltreffend nie. Hy hou van die idee en gaan haal die tuinslang om die plantjies nat te lei. Selfvoldaan bekyk hy die stroom water, hoe dit van plantjie tot plantjie vloei.
LEES OOK: Wees ’n blink spieël
Die stroom van God se teenwoordigheid
In die nadraai van die pinkstertyd laat dit my dink aan ’n pragtige metafoor in Teresa van Avila se boek wat ek tans aan die lees is. Hierin vergelyk dié Spaanse non en mistikus uit die 16de eeu ’n mens se siel met ’n waskom. Sy sê God se teenwoordigheid vloei soos water in dié waskom in.
Die waskom kan op twee maniere gevul word:
Met die eerste manier kom die water ’n lang pad, deur allerlei pype en opgaartenks, om uiteindelik in die waskom te beland. Só beskryf Teresa van Avila ons eie pogings om ons siel te voed. Sy sê ons doen dit met goeie dinge – stiltetyd, gebed, die tyd wat ons in die Woord deurbring, die lees van Christelike boeke, die doen van goeie dade, die gemeenskap met ander gelowiges. Al dié dinge berus op ons eie inspanning, en dan ervaar ons God in die invloei van sy oorvloedige genade.
Dis ’n goeie manier, en doeltreffend, maar dit duur nogal lank. En die stroom is nie juis sterk nie, want dit moet eers deur daardie pype en tenks beweeg voor dit by die waskom kan uitkom.
Die tweede manier is wanneer die water direk vanaf die oorsprong kom: God self vul ons siel vanuit sy ewige bron. Dié stroom is so sterk dat die waskom gou-gou oorloop. Daar is nie pype of opgaartenks nodig as jy vanuit die Bron gevul word nie. Jy kan dit ook nie self bewerkstellig nie; dis ’n gawe van God. Die gevolg daarvan kan gesien word in die vrug van die Gees wat in jou lewe is – liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23). Wanneer die waskom-van-ons-siel oorloop, deel ons die vrug van die Gees met die mense om ons, en met die wêreld.
Onthou tog dat die Bron altyd God self is. Dit is Hy wat ons soek totdat Hy ons vind. En dan, op ’n onverklaarbare, intieme maar direkte manier word ons met Hom gevul. Tot oorlopens toe. En al wat leef, deel in daardie oorvloed.
Iets meer …
Nou gebeur daar iets anders ook, iets meer: Ons kom agter dat die waskom-van-ons-siel besig is om groter te word, en sodoende meer plek het vir dit waarmee God dit vul. In Psalm 119:32 skryf die digter: “Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.”
Jou hart word ál groter sodat dit ál meer van God kan dra, meer as wat jy ooit kan dink. Ons verstaan dit nie, maar dit is so: Mettertyd kom daar ál meer plek vir God en sy liefde. Op ’n dag besef jy dat hierdie liefde jou hart groter en groter maak … en steeds spoel dit oor na buite. Terselfdertyd voel dit asof die bron van die water ál nader beweeg. En jy besef dit kom van iewers diep binne jou.
Die water wat invloei, wat die waskom-van-ons-siel ál groter maak sodat dit selfs meer kan bevat, is ’n geskenk van die Heilige Gees. Daarom is dit die natuurlikste ding denkbaar om jou aan Hom oor te gee. Gou is daar ’n letterlike oorvloed – en die wêreld deel daarin.
BID SAAM MET MY: “Here, maak my hart groter sodat ek meer van U kan dra. Help my om my oor te gee aan die Heilige Gees se werk sodat u liefde my kan vul. Mag u oorvloed ook die mense om my bereik sodat die wêreld ’n beter plek kan word.”
En luister gerus weer wat Jesus vir die Samaritaanse vrou by die put gesê het:
“… maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” (Joh 4:14).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.