Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Om weer die pleister op te plak …

Simone Gauche foto1: God se genade is groot

Ek dink deesdae nogal gereeld aan die Sondae toe ek jonk was, en ek onthou hoe daar Sondagoggende kerk toe gegaan is. Ons in ons beste klere.

Ná kerk is daar by die huis tee gedrink uit koppies-en-pierings, en ’n simfonieorkes se klanke het uit die radio gekom.

Daar is “groot gekook” en die reuk van skaapboud en gebraaide aartappels het in die lug gehang. Daar was boontjies met aartappels en uie, en soms kool wat in ’n kaserige witsous versmoor is. Ek onthou die soet geure van pampoen en kaneel, en hoe ons nie omgegee het hoeveel suiker en botter in alles was nie.

As my ma se beplanning haar in die steek gelaat het, moes ek of my boetie by die buurvrou gaan vra vir die bestanddeel wat soek was, want die winkels was toe.

Ek onthou die kristalglasies met die druiwekorrelmotief wat klingel terwyl die beste eetgerei uitgehaal en gedek word. 

LEES OOK: Skep ’n verposing

Ná die lekkerte van die middagete het daar ’n doodse stilte neergedaal. Nie net oor ons huis nie, maar oor die hele buurt.

Die kinders wat buite gespeel het, was skoonveld. Selfs die duiwe se geroep het anders geklink, stiller.

In ons huis het dit dan só gewerk: My pa het van die tafel af opgestaan en aangekondig: “Ons gaan nou rus!”

Dan het ons gaan rus, ons almal. Ons het wel gelê en rondrol op die bed, nie lus vir slaap nie.

Wanneer die rustyd verby was, is daar gewoonlik iets wat met vla bedek is vir nagereg uitgedeel.

Saans was dit die nuusuitsending op die TV, en die aand se fliek. En dan is ons vaak-vaak bed toe.

Só was Sondae toe ek ’n kind was. Daar is nie werk huis toe gebring nie en daar is nie voorbereidings getref met die oog op Maandag nie.

Sondag was onteenseglik ’n rusdag. ’n Heilige dag, die Here se dag. 

Daar is geglo dat ses dae se harde werk voldoende was. Ses dae se bekommernisse was genoeg.

Sondag was die dag waarop jy vergeet van alles wat jou pla. Die dag waarop jy by God se voete kon gaan lê sodat sy liefde jou bedek. Jy kon jou hart op Hom rig.

Bowendien het Sondag die versekering gebring dat God voorsien. Dat Hy, in sy almag, vir sy kinders sorg. 

Dit was dus meer as ’n dag van niks doen; dit was wel ’n dag van “anders” doen. Op dié dag was daar tyd om doelbewus te soek na wat mooi en reg en waar is, na waar jy liefde kan vind, en na alles wat ewigheidswaarde het.

Hoe het dit dan gebeur dat ons dit verleer het? En het ons dit nou vir altyd verloor? Dis asof ons nie meer vir slegs een dag ons sorge aan God kan oorgee en Hom daarmee vertrou nie.

Is dit omdat ons deesdae ons Sondag benut deur in te haal? Deur te doen waarvoor ons in die vorige ses dae nie tyd gehad het nie? Om regmerkies te maak by alles wat ons uiteindelik kan afhandel?

Fone en rekenaars help ons nie. Die werk stuur steeds boodskappe. Die kinders se skool herinner die ouers en hul bloedjies op Sondae aan wat die res van die week wag.

Ons skakel nie af nie. Nie eens op hierdie een, spesiale dag nie. 

En ek wonder deesdae ál meer: Is Sondag nie dalk die noodsaaklike pleister wat my liggaam en my siel nodig het nie? Was dit nie maar van altyd af die Gewer van goeie gawes se bedoeling daarmee nie?

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF