My oudste seuntjie is dol oor rugby. Ons moes byvoorbeeld ’n rugby-verjaardagpartytjie hou. En hy wil elke dag sy rugbytrui aantrek. Ons speel rugby sonder ophou.
En wanneer ons nie rugby speel nie, wil hy rugby kyk op die televisie. Sy gunstelingspan is natuurlik die Springbokke, maar hy sal na enige span kyk. Solank hulle net rugby speel …
Met dié dat hy so knaend rugby kyk, het hy nou ook ’n klompie van die spelers se maniertjies aangeleer. Hy het byvoorbeeld ’n “rugby-draffie” ontwikkel. Hy weet hoe die rugbymanne ’n drie druk én dit vier, en nou doen hy dit ook so. Hy het gesien hoe die stelskopper maak voordat hy pale toe aanlê. Nou tel my kind ook sy treë agtertoe en sywaarts – voordat hy botstil gaan staan. ’n Rukkie wag. Dan haal hy diep asem, kom vorentoe en sool die bal!
Daardie kort verposing
My seuntjie se manewales het my, soos altyd, laat dink. Ek dink aan daardie kort oomblik voor die skopper vorentoe kom. Aan die Olimpiese duikers wat ’n oomblik lank wag voordat hulle vorentoe tree om te duik. Aan die gholfspelers wat as ’t ware ’n kort “pouse” skep voordat hulle die balletjie slaan.
Kyk maar ook na ander sportmanne en -vroue: die gimnaste, die tennisspelers. Let op daardie oomblikke van stip konsentrasie voordat losgetrek word.
Ek vermoed dis daardie kort verposing wat die daaropvolgende aksie so elegant maak, dit so afgerond laat lyk.
Iewers is daardie sportkunstenaars geleer om momenteel tot stilstand te kom. Om asem te skep. Om die kop leeg te maak. Om te fokus op die taak wat voor hande is. En dán …
Die verposing as kunsvorm
Ek reken ons het ook sulke kort verposings nodig, die spreekwoordelike oomblik van stilte, om te voorkom dat die lewe en die opgeboude momentum ons meesleur.
Dis in daardie verposing dat ons bedaar en erken dat God in beheer is (Ps 46:10). Die kort stil word en stip fokus help ons om al die stemme van buite en van binne uit te doof. Om na God se stem te luister.
Want dis wanneer ons stil word dat ons sy stem die duidelikste hoor. En wat ons ons dan aan die Heilige Gees oorgee, aan sy leiding.
By terugskoue is ons dalk verbaas dat alles so glad verloop het. En eensklaps sien ons ook die groter prentjie én die fyner besonderhede.
Dit maak van dié verposing niks minder nie as ’n kunsvorm, en dit rond ons lewe af.
So ’n verposing en die gepaardgaande stil word en stip fokus maak baie dinge moontlik. Dit het ’n positiewe invloed op ons gebedslewe. Ons leer dalk hoe om sinvol te mediteer. Ons ontwikkel die vermoë om gehaltetyd in die Woord deur te bring. Ons verhoudingslewe floreer, asook ons betrokkenheid by die gemeenskap van gelowiges.
Ons vind ons voorbeeld in dié verband by niemand anders nie as Jesus. Hoor hoe skryf Lukas: “Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid” (Luk 5:16).
Mag jy, soos Jesus, tyd skep om behoorlik asem te haal. Om te midde van ’n harde dag pouses te skep, ook ter wille van die uitdagings wat vir jou voorlê.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.