4 Februarie 2021
Ja, sy is deesdae ’n Kapenaar! Ná 15 jaar in Centurion het Lindie en haar gesin sowat ’n maand gelede hul goedjies opgepak en hulle in die Kaap kom vestig. Dit, sê sy, is ’n opwindende nuwe hoofstuk vir die Strydoms. Een wat hulle, soos alles in hul lewe, in geloof aanpak.
DEUR DEONETTE DE KOCK
“Dis asof ons voltyds met vakansie is. Ons is amper soos inwonende en waarderende toeriste!”
Só vertel Lindie Strydom, alombekend vir onder meer haar destydse rol in Egoli, oor die nuwe hoofstuk in haar en haar gesin se lewe. Sy is ook ’n motiveringspreker, televisieaanbieder en skrywer, en tot onlangs betrokke by GROOTfm 90.5 in Pretoria.
Hul nuwe huis in Helderrand, Somerset-Wes, word deur berge omring. Hulle kan selfs ’n blertsie van die see sien. Vir hulle is dit ’n stukkie paradys. Juis ook omdat hulle nooit gedroom het om eendag in die Kaap of tussen berge te woon nie.
Maar daar het ’n beroepsgeleentheid oor haar man Johann se pad gekom. Hy is ’n ingenieur en is tans die hoof van vervaardiging by ’n plastiekverpakkingsmaatskappy.
LEES OOK: Koelkop en kreatief – dis Katinka
Hulle het biddend hieroor besluit, soos hulle elke ander besluit neem. Hulle soek God se leiding in alles, en beleef dit.
Lindie vertel: “Ek het hierdie skuif Kaap toe as ’n groot verandering in ons lewe beskou, maar eintlik was dit bloot die volgende tree agter Jesus aan. Hier is die volgende gemeenskap waar ek Jesus aan die werk sal sien, en waar ek die uitnodiging sal hoor om by Hom aan te sluit.”
Haar stem is warm en hartlik, soos haar bewonderaars haar ken. “Die adres verander, ja, en daar is nuwe gesigte, maar ek wil met al die gawes en talente wat die Here aan my toevertrou het, en met dieselfde gesindheid van diensbaarheid, ’n bydrae lewer en ’n verskil probeer maak.”
Elke dag hier
Lindie vertel hoe 2020 hulle en hul kinders, Paul (15) en die 13-jarige tweeling Hugo en Nina, emosioneel voorberei het vir die verhuising Kaap toe. Hoewel hulle hul vriende in Centurion mis, is hulle meer as gereed vir die verandering. Die kinders het trouens reeds maats gemaak in die buurt.
Hul huis is naby Hoërskool Parel Vallei geleë en hulle kan nie genoeg van die berge en die see kry nie. Hul drafroetes het lekker bulte en hulle woon naby die Helderberg Natuurreservaat. Laasgenoemde is hul eie stukkie woud, sommer om die hoek. Hier kan hulle draf of met die honde gaan stap.
“En die berg is elke dag hier wanneer ek gaan draf, op die stoep saam met my man koffie drink, of agter my rekenaarskerm inskuif om te lees, bid of skryf. In plaas daarvan om daaraan gewoond te raak, word die berg elke dag net nóg mooier vir my. Dis asof ons nou baie meer buite as binne ons huis leef. Buite eet, buite kuier, buite koffie drink.”
Die Kaap se gasvryheid het hul letterlik ingewag. “Daar was so baie vriende en familie wat kom inloer het! En die buurt se mense het ons met eetgoed verras.” Adriana Faling, Lindie se vriendin uit Egoli se dae, het al die pad van haar vakansieplek tot in Somerset-Wes gery en was een van die eerste kuiergaste.
Lindie sê: “Ons het vooraf besluit ons aanvaar alle uitnodigings, want dis hoe jy mense leer ken en kan begin om dinge saam te doen.”
‘My man se helper en …’
Die Strydoms is ’n baie hegte gesin. Hulle gaan stap graag saam met mekaar, of draf saam, of doen ander dinge saam. “Ons geniet mekaar, ons skep geleenthede en maak herinneringe. Al is dit iets kleins soos vis en chips onder ’n boom in Gordonsbaai, of pizza op ons skoot by die see.
“Ons dink en praat baie oor die lewe, en wat dit beteken om ons geloof uit te leef. Hoe ons die plek waar ons is, kan beter maak en beter kan agterlaat as wat ons dit gekry het.”
Baie van die suksesse wat Lindie behaal het, het in die openbare oog afgespeel: Benewens die rol in Egoli, was daar die afgelope 20 jaar ’n hele loopbaan as motiveringspreker. En daar het reeds drie boeke uit haar pen verskyn.
Sy vertel verder: “Ná Egoli het ek vyf jaar lank by Helpende Hand as projekorganiseerder gewerk. Daarna was ek deel van GROOTfm 90.5, ’n gemeenskapsradiostasie in Pretoria, waar ek die gemeenskapsprojekte behartig het. Die afgelope sewe jaar het ek die stories van die gemeenskap vertel. Hiermee wou ons die luisteraars bemoedig, en hulle inspireer om die klein dingetjies te doen in ’n land vol groot uitdagings.”
Wat lê nou vir haar voor?
“Nou praat ek met rolspelers in die Kaap en met ander mense wat in die gemeenskap hier betrokke is. En dit lyk asof ek gaan bly by hierdie deel van my roeping, waar ek die geleentheid kry om mense se stories te vertel, onder meer deur Radio Tygerberg.
“En daar is nóg dinge in die vooruitsig …
“Op die oomblik sien ek daarna uit om die Wes-Kaapse omgewing te leer ken en hier nuwe stories te vertel. Ek tree steeds as motiveringspreker op by skole, kerke en af en toe by korporatiewe funksies.
“En ek geniet die ruimte, vryheid en tyd wat hierdie soort deeltydse werk my tans bied. Want ek wil nie een van ons kinders se wedlope of wedstryde, toneelproduksies of toesprake misloop nie. My eerste prioriteit is om my man se helper te wees, om beskikbaar te wees vir my kinders, en om my voete in hierdie nuwe seisoen te vind.”