Kersfees is ’n onthou-tyd – destyds se onthou, én nuwe herinneringe wat elke jaar gemaak word. Sommige Kerstye word beter onthou as ander. ’n Klompie bekende mense het aan LiG vertel watter Kersfeesherinneringe vir hulle spesiale betekenis het.
DEUR MARINA VISSER
‘God se vrygewigheid’
Akteur Frank Rautenbach vertel: “Ek onthou een spesifieke aand in Desember 2009 in Los Angeles. Ek en my vrou Leigh het ná nóg ’n teleurstelling in trane uitgebars terwyl ons besig was om te eet. “Dit was ’n moeilike jaar. Ons was ver van ons familie, ons het ons in ’n ander land bevind, en ons het gesukkel om finansieel die mas op te kom. Kort voor Kersfees word my betaling vir ’n fliek wat ek toe reeds twee jaar tevore geskiet het weer ’n keer uitgestel. “Ons het besluit om nie vir mekaar geskenke te koop nie. “’n Paar dae later berou ons hierdie besluit. Ons het skaam gevoel, want ons het besef die werklike rede hoekom ons nie geskenke wou koop nie, was omdat ons nie duur geskenke kon bekostig nie. Ons het heeltemal vergeet dat die eintlike waarde van die geskenk in die gee daarvan lê en nie in die geskenk self nie. “Ons het God om vergifnis gevra en mekaar belowe om voortaan elke Kersfees geskenke te gee, ongeag hoe ons finansies lyk. Op Nuwejaarsdag koop ons toe vir mekaar geskenke met die $10 (destyds omtrent R80) wat ons elkeen gehad het. Ek het ’n boek gekry wat ek al lankal graag wou gelees het, en Leigh het kostuumjuwele gekry wat sy met trots gedra het. “Die rede waarom ons Kersfees vier, is omdat God sy Seun, vanuit sy oneindige liefde, vir ons gegee het. Daarom moet die hart van ons vrygewigheid altyd die hart van God se vrygewigheid weerspieël. Hy het sy beste aan ons gegee. “Dit is hoe liefde lyk.”
’n Ongelukkige Kersfees, en ’n duur les
Aktrise Laré Birk onthou: “Ek sal altyd die Kersfees van 1992 onthou. Daardie jaar ontmoet ek vir die eerste keer my Britse niggie by Ouma se huis in Bothasig in Kaapstad. “My pa het altyd die uitdelery van die geskenke vreeslik uitgerek. Ons moes eers eet, dan mooi aantrek, dan na die storie van Jesus se geboorte uit die Kinderbybel luister. Dan moes ons wéér eet, en ’n bietjie slaap. Eers dán kon ons die geskenke oopmaak. “Daardie jaar was die film The Little Mermaid baie gewild. Dit het trouens my hele wêreld geword, soos ook my sussie en my niggie s’n. “Toe kry ons al drie Ariël-poppe! “Niggie Frances het die oorspronklike pop gekry, boonop met allerlei bybehore. Maar ek en my sussie moes tevrede wees met goedkoper weergawes: Ariël-poppe wat anders lyk as die regte pop. Ons was glad nie gelukkig nie … “Vandag besef ek hoe my ouers, met die bietjie wat hulle gehad het, hul beste vir hul twee dogtertjies gegee en gedoen het. As ek vandag weer daardie Kersfees sou kon oorhê, sou ek in trane uitgebars het van dankbaarheid en blydskap.”
‘Soos ’n droom’
Aktrise Therese Bam vertel: “Kersfees 2020 was teen alle verwagtinge in een van die bestes ooit. Dit was ’n uitdagende jaar: Die virus het die wêreld op sy kop gekeer, en ons het my ma in 2019 verloor. “Aangesien ek en my man Christiaan taamlik laat in ons lewe getroud is, het ons dadelik probeer om met ’n gesin te begin. Dit het egter nie maklik gebeur nie. Sedert 2018 het ons ’n opdraande en dikwels onseker pad gestap, daar was etlike behandelings. “Vroeg in Desember 2020 het ons vir ’n tweede keer ’n embrio laat inplant. Toe moes ons tien dae lank wag voor ’n bloedtoets die swangerskap kon bevestig – en dit het soos ’n ewigheid gevoel! Ek het my op slegte nuus voorberei. “Die dag voor Kersfees bel die kliniek, en die suster vra: ‘Sit jy?’ Toe sê sy die mooiste woorde denkbaar: “Jy is swanger, my mens!” “Al wat ek kon doen, was om te skree. En verskriklik te huil. Drie jaar se wag. Se hel. Breek en weer breek, en weer breek – totdat jy dink jy kan nie nou verder nie. Maar uiteindelik het ons droom begin gestalte kry. “Kersdag het my suster en haar gesin en baie goeie vriende saam met ons gekuier. Dit het gevoel soos ’n droom toe ek die wonderlike nuus met hulle deel. “Met Kersfees 2020 het ons die belofte van ons grootste geskenk, ons seun, ontvang. Tydens Kersfees 2021 gaan ons hierdie geskenk in ons arms vashou.”
’n Wintersprokie
Aktrise Antoinette Louw dink ver terug: “Ons het ’n ruk lank in Idaho in die VSA gebly. Ek was so 11 jaar oud. Ek kon gewoonlik nie wag dat Kersfees aanbreek nie en was altyd heel eerste wakker. “Maar daardie oggend het my pa my voorgespring: Hy het my uit my bed getel en my venster toe gedra. “En daar was dit: Die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Sneeu wat saggies buite val. Die hele wêreld was spierwit. Dit was ’n magiese sprokieswêreld.”
’n Geskenk van God
Voormalige skoonheidskoningin, Anneline Kriel Bacon dink terug: “Kersfees was nog altyd vir my ’n vreugdevolle tyd. As klein dogtertjie het ek my ouers se kaste deurgesoek en dinge opgespoor wat hulle nie gebruik nie, en dit dan as Kersgeskenke toegedraai. Ek het nie sakgeld gekry om iets te koop nie, maar ek wou graag vir hulle iets gee. “Hulle het natuurlik saamgespeel en was altyd baie opgewonde oor dié geskenke. “Kersfees 1989 hou vir my die mooiste herinneringe in: My eerste baba sou op Kersdag gebore word, en ons was baie opgewonde. Die dokter het voorgestel dat ons die baba se koms ’n bietjie “aanhelp”, aangesien daar minder hospitaalpersoneel op Kersdag is en ook hy met vakansie wou gaan. “Ek was nogal teleurgesteld, want ek sou graag op ’n natuurlike manier wou geboorte skenk. Maar ná die “aanhelp”, daag my dogter Tayla toe op 22 Desember op. “Kersdag was ek dus by die huis om ’n wonderlike, onvergeetlike Kerstyd saam met my eersteling te vier. “Tayla beteken ‘geskenk van God’ – en dít is sy beslis.”
’n Huis vol familie
Akteur Dean Slater vertel: “Ons het as ’n groot familie by my ouma se huis bymekaargekom. Familielede van heinde en verre het saam om ’n Kersboom gesit. Daar was oral geskenke. “Ek onthou my oupa wat op sy leerstoel by die venster in die woonkamer sit, ons kinders wat buite rondhardloop, die kombuis wat vol kos is. Daar was skinderstories en pret tussen al die klapsoen-tannies. “Laataand het Kersvader geskenke uitgedeel. “Maar dis nie die geskenke wat die beste herinneringe bring nie; dis die huis vol kinders wat vir my onvergelykbaar met enigiets anders is.”