Ná ’n huwelik van nege-en-’n-half jaar, die vergeefse pogings van agt beraders, en haar man se verslawing en kompulsiewe ontrouheid, het Adelé Bester nooit kon dink dis moontlik dat haar huwelik gered kan word nie. Totdat sy haar na Jesus gewend het …
“Kan een mens ’n huwelik red?”
Adelé Bester, ’n Johannesburgse ma, was moeg en moedeloos terwyl sy dié woorde by Google se soekenjin ingetik het.
Ná ’n traumatiese huwelik van byna ’n dekade lank, waarin sy herhaaldelik gekonfronteer is met haar man se dwelmverslawing en ontrouheid, het sy eintlik maar net gesoek na ’n goeie rede om hom finaal te los.
Maar toe spoeg Google die een antwoord uit wat sy nié wou hoor nie – en dit het die vonk van genade geword wat alles sou verander.
Soos Noag
Adelé vertel: “Ek het op ’n Amerikaanse huweliksberading-webwerf beland waar daar verduidelik is: “Ja, een mens kán ’n huwelik red. En dít is hoe jy dit doen …”
Die raad was nuut en vars, onthou sy. “Dit was iets heeltemal anders as wat jy gewoonlik by ’n huweliksberader hoor. En ek en my man Ren sou weet: In ’n huwelik van nege-en-’n-half jaar het ons toe reeds by agt beraders hulp gesoek.”

Twee gedagtes het by haar opgekom, vertel sy nou. “Die eerste was: ‘Ag, nee, dis nie wat ek wil hoor nie.’ Maar daar was ook: ‘Daar is hoop? Selfs vir ’n huwelik soos ons s’n? Ek sal dit probeer!’”
Sy het die nuus met haar geloofgemeenskap gedeel. Dis mense wat goed vertroud was met haar en Ren se probleme. Ongelukkig was hul reaksie nie wat sy gehoop het dit sou wees nie. Sy vertel: “Almal was negatief. Niemand kon glo dat ek weer vir ons verhouding wou veg nie, want tot toe het elke poging misluk. Ren was steeds verslaaf en steeds kompulsief ontrou. Ek was steeds sielsongelukkig. In daardie stadium was ons boonop van bed en tafel geskei.”
LEES OOK: ‘Ek moes leer om op ’n sagte manier vir my huwelik te veg,’ vertel vrou ná haar man se ontrouheid
Adelé het daaroor gaan bid. Sy het beleef dat die Here vir haar sê: “Bou ’n ark. Soos Noag.”
Daarop het sy Noag se verhaal gaan lees. Drie dinge het vir haar uitgestaan: Noag se tydgenote het gedink hy is van lotjie getik; die Here het hom duidelike opdragte en voorskrifte gegee; Noag was gehoorsaam.
“Ek kon dadelik die ooreenkomste met ons situasie raaksien,” vertel Adelé. “Die mense het ook gedink ek is van my sinne beroof; ek het, deur daardie webwerf wat ek geraadpleeg het, duidelike opdragte en voorskrifte ontvang; ek wou, soos Noag, gehoorsaam wees.”
Verandering begin by jóú
Die aanwysings op die webwerf het Adelé uitgedaag om allereers haar fokus te verskuif, en só het ’n intense pad van selfondersoek begin. “My ingesteldheid was nog altyd om Ren te verander. Maar hoe harder ek probeer het, hoe skouspelagtiger het ek misluk. Hierdie keer was dit egter duidelik dat die verandering by my moes begin.”
Sy verduidelik: “Dink aan die huwelik as ’n pot waarin huweliksmaats elk ’n kleur voeg, iets wat hul optrede en reaksies verteenwoordig. Hy gebruik altyd blou; sy voeg altyd rooi by. Daarom was die eindresultaat altyd pers.
“Maar wat gebeur as een van die huweliksmaats besluit om ’n ander kleur te gebruik? Wat van, byvoorbeeld, geel in plaas van rooi? Daardie een kies dus om anders as gewoonlik op te tree, anders te praat, anders te reageer. Die eindresultaat sal dan mos vanself anders lyk …
“En dis presies wat ek gedoen het,” sê Adelé. “Ek het na Jesus toe gedraai, en ek het aan myself begin werk. Ek het my foute en tekortkomings gekonfronteer en Hom toegelaat om my te verander.”
Sy het, onder meer, ontdek dat sy ’n algehele beheervraat was. “Ek het jare lank my identiteit laat bepaal en my selfwaarde laat meet aan Ren se gedrag. Sy optrede en sy keuses was, wat my betref, ’n direkte weerspieëling van hoe goed (of sleg) ék gevaar het.
“Maar toe ek myself toelaat om deur Jesus gevul en verander te word, kon ek die mens begin word wat ek eintlik wou wees: liefdevol, vredevol, vergewensgesind. My optrede was nou in ooreenstemming met my waardes en oortuigings. Ek kon vir die eerste keer die beste weergawe van myself wees – geestelik, intellektueel, liggaamlik, sosiaal en emosioneel. Met óf sonder Ren.”
Dié persoonlike ommekeer het uiteindelik haar huwelik, en haar man, radikaal verander.
‘Sonder Jesus en my vrou was ek vandag dood’
Vandag erken Ren: “As dit nie vir Jesus en my vrou was nie, was ek vandag dood.”
Hy verduidelik: “My verslawing was ’n manier om emosioneel gesproke uit my eie lewe te ontsnap. My grootste behoefte was om deur ander aanvaar te word; om verwerp te word was my grootste vrees. Deurentyd was ek daarvan oortuig dat indien ander mense die ware Ren sou leer ken, hulle my sou verwerp.”
Sy jare lange verslawing aan alkohol en dwelms, en sy rondslapery, was ’n manier om sy skuldgevoelens te verdoof. Om sy gewete stil te maak. “Dit het my kortstondig laat goed voel, dit het my ’n ruk lank van al my verkeerde keuses laat vergeet.”
Maar uiteindelik het dit in ’n bose kringloop ontaard, waaruit ontsnapping feitlik onmoontlik geword het. Hy sê: “Sonde wat jy nie bely en laat staan nie, hou jou gevange. Geheime maak jou siek.”
Al dié dinge het ’n lang geskiedenis, vertel hy. Hy het in ’n liefdevolle Christenhuis grootgeword en was tuis in ’n kerk waar genade gepreek is maar nooit uitgeleef is nie. “Jy moes genade verdien, en bewaar jou siel as jy ’n verkeerde ding doen.”
Op dié manier het hy geleer om eerder stil te bly oor al sy foute. En só het een misstap twee geword, en tien, en later vyftig. Die gepaardgaande skuldgevoelens het hom telkens na groter, erger dinge laat gryp. Alles was daarop gerig om die geraas in sy kop, en die Heilige Gees se stem in sy hart, stil te maak.
“Adelé se pogings om my reg te ruk het alles boonop vererger. Ek maak nie verskonings nie, maar dit is so dat hoe harder sy probeer het om my te verander, hoe meer het ek haar as die skurk in my lewe beskou. En hoe verder het dit my van haar af weggestoot.”
‘Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar’
Die feit dat hul huwelik oplaas breekpunt bereik het, was eintlik ’n bedekte seën, besef hulle al twee vandag. Die maande weg van mekaar het nuwe perspektief gebring.
Toe die eerste Covid-19-grendeltyd aanbreek, het Adelé haar vervreemde man gevra om huis toe te kom om met die kinders te help.
Ren vertel: “Daar het ek toe ’n heel ander Adelé ontdek as die kwaai, beheer-behepte vrou wat ek ses maande tevore verlaat het. Sy was rustig, vriendelik, empaties en vol aanvaarding.”
Kortweg, Adelé het gou die veilige ruimte geword waarna Ren se onstuimige siel gesmag het.
Tydens een van hul vele gesprekke in daardie tyd het Adelé gereken dat sy haar man moes aanmoedig om alles wat so swaar op sy gemoed gedruk het teenoor haar te bely. Sy het haar op Jakobus 5:16 beroep, waar die apostel skryf: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”
Daarop het Ren sy hart oopgemaak en al die jare se sonde en skuldgevoelens eerlik teenoor sy vrou bely.
“Dit was moeilik om alles te moes aanhoor, en skokkend,” onthou Adelé. “Maar ek het besef dat dit nie oor mý gaan nie; dit was ’n heilige oomblik tussen Ren en die Here. My rol was om teenoor my man op te tree soos Jesus dit sou doen.” Daarom het sy met ’n sagte, oop hart na hom geluister, sonder om te oordeel of te verwyt.
En toe hy klaar gebieg het, was Adelé se reaksie eenvoudig: “Babe, I love you anyway.”
Toe gebeur die wonderwerk
Ren vertel: “In die oomblikke wat gevolg het nadat ek oor alles gebieg het, het die Here elke vorm van verslawing in my lewe genees.” Sy belydenis, sê hy, het elke denkbare ketting gebreek. Die waarheid het hom vrygemaak. “En die geraas in my binneste was skielik stil.”
Adelé sê: “Die een ding wat ’n mens selfs nodiger het as liefde, is aanvaarding. Aanvaarding beteken nie goedkeuring nie, maar wel die erkenning dat daardie mens siek of gebroke is. Dat die situasie soos dit tans daar uitsien, daardie een se werklikheid is.”
Ren en Adelé besef vandag dat elke mens en elke huwelik se pad na genesing uniek is, maar dat die kernbeginsels dieselfde bly. En dit is waarom hulle vandag met oortuiging kan sê: Enige huwelik kan gered word. En ja, dit kos slegs een van die huweliksmaats om die wiele aan die rol te kry.
Nou, vyf jaar later, is Ren en Adelé albei gekwalifiseerde huweliksafrigters wat in hul aanlyn bediening honderde mans en vroue help om staande te bly en vir hul huwelik te veg.
Hieroor sê Adelé: “Ons praat met baie mense wat probeer herskep wat hulle voorheen gehad het. Maar dis gevaarlik, sê ons vir hulle, want wie en hoe hulle voorheen was, het juis gelei tot waar hulle hulle tans bevind.”
Ren voeg by: “Ons huwelik is vandag soveel beter en sterker as voorheen juis omdat dit heeltemal anders is as voorheen. Want ons het albei anders geword. En daarvoor moet die Here al die eer kry.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















