Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Ons leen die aarde by ons kinders’

DEUR CONETTE LE ROUX; HOOFFOTO: MADISON & WEST LIFESTYLE

“Wanneer ek na die aarde kyk en myself toelaat om oor haar toekoms te dink, spring my gedagtes na daardie bekende gesegde: ‘Ons erf nie die aarde by ons voorvaders nie; ons leen dit by ons kinders.’ En ek wil nie my dogtertjie Amélie se planeet vernietig nie.”

So gesels Fay van Eeden, ’n Pretoriase predikant wat by die Stellastraatgemeente onder meer vir uitreike en ekologie verantwoordelik is.  “Ek wil alles in my vermoë doen om vir haar ’n gesonde planeet te gee,” sê hierdie mamma. “Asook die geleentheid om al die mooi plekke en wonderlike natuurskoon, wat ek en haar pa Peet bevoorreg was om te sien, te kan geniet en waardeer. Ek wil hê sy moet ook in die diepsee kan gaan duik en nie net plastiek daar sien nie.”

Fay vertel haar en Peet se passie is reis en die natuur. En dat hul behoefte om “groen” en volhoubaar te leef, selfs groter geword het ná hul dogtertjie se geboorte.

Sy onthou die eerste keer toe sy “nee” gesê het vir praktyke wat ons aarde beskadig. Sy was maar 12 jaar oud en het saam met haar gesin aan die KwaZulu-Natalse suidkus vakansie gehou. Fay onthou hoe die gesin tydens een van hul verkenningstogte ’n groep mense met skroewedraaiers by die rotspoele raakgeloop het. Haar ouers het haar probeer gerusstel en gesê dat dié mense, wat sak ná sak mossels met hul skroewedraaiers van die rotse gehaal het, waarskynlik ’n permit daarvoor gehad het.

Maar toe die twaalfde sak op die sand beland, het Fay genoeg gehad. Sy onthou: “Voordat my ouers kon keer, het ek na die persoon gestap wat vir my na die leier van die groep gelyk het. Ek het gevra om hul permit te sien.

“Eenvoud nooi ons uit om met groter bewustheid te lewe. Hoe minder volgeprop ons fisieke (en ons kop se) ruimtes is, hoe groter is ons bewustheid van God, van onsself, van ander mense. En hoe vryer is ons om die wonder van die lewe raak te sien, dit te hoor, te ruik, te voel en te proe ,” verduidelik Fay van Eeden. Foto: Madison & West Lifestyle

“Hy het kortaf gesê dat dit niks met my te doen het nie. Dat ek my eerder uit die voete moes maak. Ek onthou hoe magteloos ek gevoel het. Hoe kon hulle die rotse so plunder, en daarmee wegkom?

“Was daar dan niemand om hulle te keer nie? Iemand moes iéts doen, en die enigste manier waaraan my jonger self kon dink – en ek is nie hierop trots nie – was om die leier se motor se bande te gaan afblaas.”

’n Ongemaklike waarheid

Fay vertel dat sy altyd gereken het die mens se grootste uitdaging om verantwoordeliker te leef, het met rommel te doen – “en dalk ’n paar spesies wat die gevaar loop om uit te sterf”.

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #1: Toe ek die groen kloutjie by die oor gebring het …

Totdat sy Al Gore se dokumentêre fliek An Inconvenient Truth gesien het. “Ek onthou spesifiek die twee foto’s wat van Kilimanjaro gewys is – die eerste wat in die 1960’s geneem is en wys hoe die berg toe onder die sneeu is. In ’n foto van 2005 is daar byna geen sneeu te sien nie.

“Ek onthou ook hoe hy gewys het watter stede onder water sal wees as die pole aanhou smelt. Hoe miljoene mense sonder heenkome sal wees. En daar was Gore se woorde: ‘We are causing global warming.’

“Op daardie oomblik het ek besef dat ook ek skuldig is aan ’n stuk vernietiging, en ek was nie daarvan bewus nie. Ek het besef dat ek anders wil lewe.”

Sedertdien is Fay en haar gesin op reis na ’n groener en eenvoudiger leefstyl.*

Om met groter bewustheid te lewe

Hierdie dominee se behoefte om na die aarde om te sien, het wat haar betref ook ’n veel dieper betekenis.

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #2: Een ou se gemors, ander se skat en ander minder maak-idees

“God se koninkryk is ’n versorgende ruimte,” verduidelik sy. “Gelowiges moet sorg dat dit ’n ruimte is waarin álle lewe kan blom. Daarom gaan ons byvoorbeeld verantwoordelik met water om, juis omdat dit belangrik is vir die lewe van ander mense en diere. Ons word geroep om hierdie woonplek te versorg.

“Ek beleef God se nabyheid in die natuur. Psalm 19 se digter vertel dat God Hom op twee maniere aan ons bekend maak – deur sy skepping en deur sy Woord. Dit sal tragies wees as ons die een deel van God se openbaring aan ons vernietig.”

Volgens Fay kan eenvoud  ons help met waardering en met bewustheid. “Hoe meer ons ‘nee’ sê vir daardie dinge wat ons nie nodig het nie, hoe meer waardeer ons nie net dit wat ons wel het nie, maar ook die skoonheid om ons, die lewe se eenvoudige vreugdes. Soos om op die naat van jou rug te lê en na die sterre of die wolke te kyk.

“Eenvoud nooi ons uit om met groter bewustheid te lewe. Hoe minder volgeprop ons fisieke (en ons kop se) ruimtes is, hoe groter is ons bewustheid van God, van onsself, van ander mense. En hoe vryer is ons om die wonder van die lewe raak te sien, dit te hoor, te ruik, te voel en te proe .”

In 2018 het Fay se besoek aan Rwanda haar daaraan herinner dat daar rykdom in ’n eenvoudiger lewe is. “Ten spyte van die Rwandese se hartseer-geskiedenis, en die armoede waarin hulle leef, het ek by hulle ’n stuk vreugde en trots bemerk. Dit het my diep geraak.

LEES OOK: Plastiekvrye Julie #3: Meesters in hergebruik

“Soveel van die mense wat ek daar teëgekom het, het nie baie nie. Maar hulle is trots op wat hulle wel het. ”

Fay is daarvan oortuig dat ons ligter en stadiger moet lewe. En dat volhoubaarheid die sleutel tot ’n eenvoudiger lewe is. “Tussen mense wat deurentyd sê ons het méér nodig, ons wil nóg hê, klink die uitnodiging van volhoubaarheid duidelik op: Kies vir eenvoudiger en minder.

“En, nee,” sê Fay, “dis nié ’n keuse vir ’n lewe van minderwaardige gehalte nie.”

* Wanneer “Plastiekvrye Julie” aanstaande maand wêreldwyd gevier word, skryf Fay van Eeden ’n reeks artikels spesiaal vir LiG wat oor haar en haar gesin se reis na ’n groener en eenvoudiger leefwyse handel. Sy het ook wenke oor natuurlike skoonmaakmiddels, en gee resepte daarvoor. Die vyf aflewerings in dié reeks sal weekliks op www.lig.co.za te sien wees.

Verwante Artikels

© Lig 2023 | All rights reserved.

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.