Verslawing, van watter aard ook al, is besonder algemeen. ’n Groot deel van my werk as medikus kan aan verslawing en al sy nare uitlopers toegeskryf word.
Ek wil nie veralgemeen nie, maar dit is so dat kosverslawing primêr verantwoordelik is vir ’n obesiteit-pandemie, vir diabetes, hoë bloeddruk en talle hartsiektes.
Verslawing aan sigarette het verskillende longkwale tot gevolg, en verskeie soorte kanker.
Alkoholverslawing bring lewerprobleme mee, kanker, en die nagevolge van verskillende soorte ongelukke. Dan praat ek nie eens van die gepaardgaande maatskaplike en sielkundige probleme nie. Of die gewelddadigheid nie.
LEES OOK: Wat in die donker gebeur …
Dwelmmisbruik is ’n gróót storie, wat verwoestende gevolge kan hê vir die mens wat dit misbruik se liggaamlike, geestelike en emosionele welstand.
Die ‘verborge’ verslawing, en die komplekse aard daarvan
Sommige soorte verslawing, soos dié wat hier bo genoem is, is sigbaar, dit lê oop en bloot. Daar is wel ook die soort wat as ’t ware weggesteek word. Dit kruip diep weg in die mens se psige.
En dalk is dit boonop waar dat ons daaraan vasklou: ’n denkpatroon, ’n slegte gewoonte, ’n ongesonde verhouding. Dalk werk ons te veel en te lank en te aanhoudend.
Hoe ook al, dié soort optrede of denkwyse het op die een of ander manier ’n houvas op ons gekry. En dit lyk nie asof ons daarvan ontslae kan raak nie. Of daarvan ontslae wíl raak nie …
Dit besit dus al die eienskappe van ’n verslawing.
Paulus beskryf dié soort vasgelooptheid só: “Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie” (Rom 7:15, 18).
Met verloop van tyd het die medici besef dat verslawing, in watter gedaante ook al, ’n komplekse verskynsel is. En sonder twyfel ’n siekte, wat individue, families en gemeenskappe raak.
Dit word nie net met allerlei chemiese en natuurlike middels behandel nie, daar is ook verskeie sielkundige tegnieke. Maar verslawing word nie eensklaps genees nie; die genesing is ’n proses, ’n pad wat geloop moet word.
’n Uiters belangrike, en eintlik onontbeerlike aspek van dié lang pad, is God se ingryping. Ons leer in die Bybel dat Jesus nooit weggeskram het van mense se lyding nie, inteendeel. Hy het betrokke geraak by mense se pyn en het hulle genees.
Om ’n genesingspad te loop met Jesus wat jou hand vashou, is ’n bevrydende ervaring. Hy raak ons aan, Hy is uiteindelik die geneesheer.
Die dood van die ou mens – en die tweede wonder
Gebed is dikwels die plek waar God ons denke verander en verlig. Dit is hier waar genesing, vergifnis en vrede ontkiem en groei. Só word ons donkerste plekke aangeraak.
Nou erken ons ons verslawings, ons gee dit vir God, en ons leer ’n nuwe manier van dink en doen. Ons verander nie uit onsself nie, “want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God” (Fil 2:13).
Die ou mens moet eers sterf om plek te maak vir die nuwe. Dis moeilik om te sterf aan verslawing, om dit te laat vaar. Ons is dikwels blind vir ons foute en besef nie hoe kragteloos ons regtig is nie.
Bowendien hou ons nie van verandering nie. Dis seer en swaar. Maar iewers besef ons dat ons nie meer in beheer is nie; dat ons eintlik heeltemal beheer verloor het. Ons sien nie uitkoms nie.
God sien verder en dieper as ons. Sy lig skyn in die duisternis. “En die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh 1:5). Só werk die Heilige Gees.
Nou word ons daarvan bewus dat ons ’n geloofstap moet neem. Ons moet eenvoudig glo dat daar oorwinning is by God. Ons moet leer om ons genesing in sy hande oor te laat. Paulus skryf in 2 Korintiërs 1:9: “Trouens, wat onsself betref, het ons al as ’t ware die doodvonnis oor ons ontvang; maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek.”
Dis eers wanneer ons deur die donker dieptes gaan dat daar vernuwing plaasvind. Wanneer ons besef dat ons dit nie kan vryspring nie, ons moet eenvoudig daar déúr. Eers dan kom daar genesing van die trauma van ons verlede en van die herinneringe aan ons pyn.
Sulke emosionele ellende word so dikwels in ons liggaam opgeberg. Nou verstaan ons ook waarom Jesus eers mense se liggaam genees het. Dit was dikwels sodat hul siel kon gesond word.
En nou gebeur ’n volgende wonder: Wanneer ons genees word, ontwikkel daar werklike medelye met ander mense. Wanneer ons van ons tekortkomings bewus word, besef ons hoe groot God se genade vir ons is. En dan kan ons ook genade en liefde aan ander betoon.
Dit is op hierdie plek dat ons, soos Paulus, ons in ons swakhede kan verheug. Dat ons kan besef dat wanneer ons swak is, ons eintlik sterk is (2 Kor 13:10).
Daar is altyd hoop
Daar is gelukkig altyd hoop vir dié wat sukkel met verslawing. Deur professionele hulp, die ondersteuning van geliefdes en geestelike leiding kan enigeen verslawing oorwin.
Die pad na herstel is nie maklik nie, maar dis beslis moontlik. God sorg. Mag sy lig oor jou skyn, en mag Hy vir jou genesing bring sodat jy ander in hul genesingsproses kan help.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.