Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ontmoet God in jou omstandighede

Ons voel dikwels dat dit maklik (en logies) is om God te ontmoet wanneer ons sy natuur bewonder, of na ’n mooi lied luister, of ons verlustig in ’n gedig wat aan ons hartsnare pluk. En om Hom in die Bybel te vind, of in ’n boek wat ons inspireer, of in ’n preek wat met ons binneste resoneer.

Aan die ander kant voel dit soms moeilik om God in ons alledaagse lewe te vind – veral ook wanneer dinge erg skeefloop. Ons praat van Hom as “daar buite” of “daar bo”. Hy is ver van my en my swaarkry af.

Ons sukkel om die God te vind wat in ons woon. Die God wat as Jesus aan die kruis gely het en as die Heilige Gees sy intrek by ons geneem het. Hy wat deel geword het van ons seer en ons swaar.

Paula D’Arcy het iewers geskryf dat God na jou toe kom, vermom as jou eie lewe. Dis gelukkig die waarheid. Hy ontmoet jou in die uitdagings en die teenspoed wat jy ervaar, en nie net wanneer alles volgens plan verloop nie. Nee, ons verhouding met God maak ons nie immuun teen swaarkry nie; dis wanneer ons Hom in ons seer en swaar raaksien dat ons besef daar is altyd uitkoms. Só word swaarkry inderdaad ’n noodsaaklike deel van ons geloofsgroei.

Dis vir ons moeilik om ons swakplekke te identifiseer; ons kyk verby ons tekortkominge en foute. Dis daarom vir ons veel makliker om die splinter in iemand anders se oog te sien.

Paulus vertel hoe hy, deur die Here se hardhandige ingryping, van dié swakheid bewus geword het: “Toe ons almal op die grond neerval, hoor ek ’n stem wat in die Hebreeuse taal sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou swaar om teen die prikkels te skop’” (Hand 26:14, 2020-vertaling).

LEES OOK: Nederigheid – ware deernis se geheime bestanddeel

’n Osprikkel is destyds gebruik om trekdiere te dryf en hulle in die regte rigting te stuur. Dis ’n lang staf met ’n skerp punt. Om dus teen die prikkels te skop, maak seer.

Soms wil ons ons egter nie laat lei nie, en dan word dit nodig om seer te kry sodat jy in die regte rigting gestuur kan word. Ons maak die lewe vir ons hard en swaar wanneer ons nie gelei wil word nie. Verandering kan slegs plaasvind wanneer ons ophou om teen die prikkels te skop. Ons moet uit die bestuurderstoel klim en beheer oorgee aan die Enigste wat ons die regte pad wys. En dikwels loop die pad na verandering deur vernedering, mislukking en swaarkry. 

Die pyn en swaarkry van die prikkel maak ons bewus van die probleem wat ons vir onsself is. Dit wys ons op daardie gewoontes waarmee ons ons vernietig. Nee, swaarkry los geen probleme op nie, maar dit breek nuwe ruimtes in ons lewe oop. En dit maak dit vir ons makliker om lief te hê en te leer.  

Hoor hoe skryf die ou profeet oor die Here: “Hy sal ’n heiligdom word, en ’n klip waarteen ’n mens jou stamp, ’n rots waaroor ’n mens struikel …” (Jes 8:14). 

Soms word God inderdaad die klip waarteen jy jou moet stamp sodat jy weer na Hom toe kan terugdraai. Dikwels stamp ons ons herhaaldelik teen dieselfde klip voordat ons die les leer wat ons moet leer. Dis byna soos daardie skerp hoekie van ’n koffietafel waarteen jy jou knie so gereeld stamp. Daar is sommige lesse wat ons net nie die eerste keer wíl leer nie! Die klip gaan egter nie verdwyn nie … 

God is in alles, selfs al voel dit vir jou of Hy Hom tans vermom. Hou op om teen die prikkels te skop. Laat Hy jou deur jou omstandighede verander. Dalk is dit vandag jou kans om God in gebed te soek en te let op sy teenwoordigheid, te midde van al jou uitdagings. 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF