Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Lyding spreek nie die laaste woord nie

Ek word besoek deur ’n pasiënt wat met kanker gediagnoseer is. Die siekte het reeds wyd versprei en die pyn is sigbaar op sy uitgeteerde gesig. Dit slaan neer in druppels op sy voorkop, ’n stille getuienis van die stryd wat hy voer.

Sy pynmedikasie bring verligting – maar ook naarheid, hardlywigheid en duiseligheid. Hy sukkel om kos in te neem en sy liggaam weier om te doen wat hy wil hê dit moet doen. Elke klein beweging gaan met pyn gepaard.

Dis ’n bestaan wat swaar op hom druk. En nie net op hom nie, maar ook op sy vrou, wat hom getrou na elke afspraak vergesel.

Haar gesig dra die merke van uitputting: donker kringe onder die oë, ’n glimlag wat net halfpad kom. Sy wil sterk wees vir hom. Sy hou ons gesprek so feitelik en prakties moontlik. Wanneer ek vrae vra oor hul emosionele welstand, probeer sy dit wegpraat. Sy vermy die pogings tot toenadering, asof sy bang is dat die damwal sal breek en alles wat sy probeer beheer haar sal oorweldig.

Ek kan sien dat daar ’n deel van haar is wat steeds aan hoop vashou, die hoop op beterskap. Daar is ook ’n ander deel wat wens dat die lyding tog net sal eindig. En saam met laasgenoemde kom ’n skuldgevoel, nog ’n swaar las wat sy stil-stil dra.

LEES OOK: Kyk jy anderpad omdat jy nie self deur onreg geraak word nie?

Ek maak verstellings aan sy medikasie, ek verduidelik weer ’n klompie dinge, en ek probeer hom so gemaklik moontlik maak. Ek vra ook hoe ek verder kan help. Ek noem ’n paar hulpbronne, verwys na ander mense wat hulle kan ondersteun, en ek wens hulle sterkte toe. Diep binne my weet ek daar is so bitter min wat ek werklik kan doen.

Broos, breekbaar, sterflik

Konsultasies soos dié klou die hele dag aan jou, dit laat los jou nie. Dit kruip saans saam met jou in die bed.

Ek word elke dag besoek deur mense wie se liggaam hulle op die een of ander manier in die steek gelaat het. Soms is daar iets waarmee ek kan help, en soms bring die verloop van tyd ’n mate van verligting. Dikwels is daar bloedweinig wat ek kan uitrig. Die menslike liggaam, so wonderlik geskape, is broos, breekbaar, sterflik.

Ek gaan soek troos in die Woord en lees Filippense 3:20-21: “Ons burgerskap is egter in die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Hy sal ons nederige liggaam verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Homself te onderwerp.” 

In die 1953-Bybelvertaling lees ek van “ons vernederde liggaam” wat van gedaante verander sal word. Dit bring die troos dat slegs God ons liggaam kan verheerlik. Ons aardse liggaam stel ons teleur: Dit breek, dit pyn, dit skeur, dit gee mee, dit val en dit vou. Dit lei ons in die versoeking. 

Die troos, die belofte, die Lig

Maar dit alles is bloot ’n tydelike probleem. Ons Skepper, wat ons uit stof gevorm het, sal ons eendag verander. Ons is na sy beeld geskape, en eendag sal ons brose liggaam verheerlik word, gelykvormig aan Jesus s’n. Ons liggaam sal vernuwe word, gereed vir die ewigheid wat Hy vir ons bestem het.

Die wete dat so ’n vernuwing en verandering op ons wag, help ons om die pyn en lyding te verdra. Dit troos, en dit gee dié perspektief: Lyding spreek nie die laaste woord nie.

Ons hou daaraan vas, soms asemteug ná asemteug, totdat ons by Jesus is. Sonder pyn. Sonder ledemate wat swel. Sonder hartseer in ons oë of moedeloosheid in ons hart. Ons sal gelyk word aan sy verheerlikte liggaam. Ons aardse huis is bloot tydelik. Dis slegs ’n oorblyplek voordat ons na die land van ons burgerskap terugkeer. Daar wag die volmaakte vrede, die volmaakte liggaam, en die volmaakte teenwoordigheid van Christus. 

En so, te midde van ’n pasiënt se pyn en ’n eggenoot se stil swaarkry, verheug ek my oor hierdie belofte. Want wanneer die liggaam ingee, laat die God van die belofte ons nooit in die steek nie. Dit, Hý, is die enigste Lig wat sterk genoeg is om deur lyding se duisternis te breek.

Bid nou saam met my: “Here, leer ons om vas te hou aan u belofte van vernuwing, juis ook te midde van die pyn. Laat ons liggaam en ons hart rus vind in U.”

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF