Henriëtte van Heerden kyk op haar 50ste verjaardag vol verwondering terug. Sy besef opnuut dat alles in haar lewe ’n getuienis is van God wat sy hand oor haar hou. Sy sê haar storie is meer as ’n lewensverhaal; dis ’n monument van God se genade.
Ek is 50 jaar gelede in die Vryburg-hospitaal gebore, ’n noodgeboorte omdat my ma van jongs af rumatiekkoors en hartprobleme gehad het. Die dokters wou op 20 weke ’n aborsie doen, maar my ma het teëgeskop. Sy het my toe reeds in haar buik gevoel. En, het sy gesê, hoe kan sy ’n einde maak aan ’n wonderwerk?
Tydens die geboorteproses het die dokters my pa versoek om die familie te laat kom, want hulle het gewonder of ek en my ma dit sal oorleef. Uiteindelik is ek ná ’n keisersnee gebore – perdfris en gesond. My ma moes wel dadelik ’n histerektomie en ’n blindedermoperasie deurmaak, maar sy het genadiglik gou herstel.
My lewe het dus met ’n wonderwerk begin, en nou, wanneer ek op die afgelope 50 jaar terugkyk, weet ek dat God van Dag Een af oor my gewaak het.
Net God kan ’n kind deur sulke tye dra
My kinderjare getuig van ’n ma en ’n pa wat my en my ouer sussie onvoorwaardelik liefgehad het. Wat ’n voorreg was dit nie om hulle as ouers te hê nie!

In 1991 het my ma ’n opehartoperasie ondergaan. Sy het ’n skenkerklep ontvang en nie bloedverdunners benodig nie. Dit was nog ’n wonderwerk. Daardie klep het haar 17 jaar goed laat lewe, maar in 2008 het sy begin siek word. Sy is weer geopereer en op 13 Februarie 2009, op haar 58ste verjaardag, is sy ontslaan en my pa kon haar huis toe neem.
Maar skaars ’n week later het my pa ’n hartaanval gehad. Hy het in my ma se arms gesterf. Hulle was onafskeidbaar, en slegs 76 dae ná sy dood het my ma ook aan haar hart gesterf.
Net God kan ’n kind deur sulke tye dra.
Twee jaar se opofferings
’n Paar jaar ná my ouers se afsterwe is ek en my man Roelof met die mooiste dogtertjie geseën, Chanté. Ons het nege jaar lank vir ’n kind gebid.
Nog voor Chanté se geboorte het die lewe ons van Jan Kempdorp na Hoopstad geneem. Dit was in 2007. Roelof het petrol-, diesel-, outo-elektriese en meganiese ingenieurs-vaardighede en hy het sy eie onderneming daar bedryf.
In 2017, tydens ’n groot droogte in daardie deel van die Vrystaat, het ons teruggekeer na die Jan Kempdorp-Hartswater-omgewing met sy pekanneute en lusernlande. Aanvanklik moes Roelof alleen terugtrek en by sy pa Hein inwoon, terwyl ek ’n werk met goeie mediese en pensioenfondsvoordele gesoek het voordat ek in Hoopstad kon bedank.
Ek en Chanté het elke naweek van Hoopstad na Jan Kempdorp gery om by Roelof en Oupa te kuier. Op ’n Sondagmiddag het ons dan weer die 136 km terug Hoopstad toe aangedurf. Dit het twee jaar lank so aangegaan.
Uitkoms, en ’n nuwe krisis
Ek het ’n geestelike moedertjie, Natasha Murugen van Greytown. Ons twee bid gereeld saam. Ná twee jaar se heen-en-weer tussen Hoopstad en Jan Kempdorp het ek en sy drie dae lank gevas. Ons het in dié tyd gebid dat ek ’n werk in Hartswater of Jan Kempdorp sou kry sodat ons gesin weer bymekaar kon wees.
Op die derde dag, terwyl ons die vas breek, het ek ’n oproep uit Hartswater ontvang. ’n Werkonderhoud.
Ek het toe die werk gekry, met die mediese- en pensioenvoordele waarvoor ek gewens en gebid het. Alles is net so oorgedra – my mediese fonds- en pensioenfonds-lidnommers het nie eens verander nie!
Kort daarna het ’n nuwe krisis opgeduik: Ek is met fase 3-borskanker gediagnoseer. My hele wêreld het tot stilstand gekom. Daar was soveel vrae: “Here, hoekom ek? Hoe gaan ek voel? Hoe gaan ek lyk? Wat gaan Roelof sê?”
Daar was agt chemoterapiesessies in Bloemfontein. Kort ná die eerste een het my hare begin uitval. Die vrees het my behoorlik verlam. Ek was gebroke.
Maar wanneer jy dit die minste verwag, stuur God mense oor jou pad. Hulle dra jou, hulle bid vir jou, hulle bou jou op, hulle bring hoop wanneer jy begin moed verloor.
Ek het die kanker oorleef sodat ek dié storie kan vertel. En my hare het weer begin groei. Elke opvolgbesoek bring goeie nuus. Op ’n dag het die onkoloog geglimlag en gesê: “Henriëtte, jy is oukei.”
Ek loof Jesus daarvoor.
God het my nie by ’n siekbed gelos nie …
Dit was ’n veelbewoë tyd. Ek het deeglik besef dat God my nie by ’n siekbed gelos het nie; Hy het my opnuut begin bou.
Aan die einde van 2018 het ek by ’n nuwe werk ingeval, voertuigverkope, en in 2021 het ek meer as 100 voertuie verkoop. Uit erkenning vir my werk is ek in 2022 as ’n “Toyota Knight” aangewys. Dit was soos ’n droom wat waar geword het.
Op 28 September 2022 het Roelof twee massiewe hartaanvalle oorleef en ek het hieroor in ’n #liggetuienis getuig. Hier het God opnuut bewys dat sy beskermende hand groter en sterker is as enige bedreiging.
In 2024 het ek ’n vuurwapenbevoegdheidstoets geskryf en my sertifikate daarvoor ontvang. Ek beskou elke tree vorentoe as ’n bewys van God se voorsienigheid in my lewe.
Toe ek op 20 Januarie vanjaar 50 word en Roelof net ’n week later sý 50ste verjaardag vier, het ek ver teruggedink, ook aan die vier maande toe ek ‘n pruik moes dra, aan die wonderbaarlike herstel wat gevolg het, aan al die seëninge wat ons ontvang het. Die kanker is nege jaar ná die verskriklike diagnose steeds in remissie. Deur dit alles was Roelof getrou aan my sy: sterk, hardwerkend, deur God gevorm om my sterker te maak.
Chanté is amper 15 en in graad 9. Sy is ’n lewende herinnering aan God se goedheid. Intussen bly Roelof se gesondheid stabiel. Hy boer saam met sy pa op een van dié se persele.
Ek is ’n lid van ’n kankerondersteunersgroep, wat deur pastoor Brenda Vosloo van Strength to Live Ministries gestig is nadat sy self kanker oorwin het. My ousus Marié Janse van Vuuren van Bloemfontein en my geestelike moedertjie Natasha Murugen ondersteun my steeds.
Twee teksverse dra my elke dag, Dit is Psalm 46:10: “Wees stil en weet dat Ek God is,” en Eksodus 14:14: “Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”
Nou jubel ek oor wie ek is: ’n kankeroorwinnaar, ’n gelowige vrou, ’n ma wat met liefde en krag lei, ’n mens wat nooit moed opgegee het nie. Ek is ’n getuie van God se beskermende hand, sy genesende krag en sy Goddelike plan.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















