Woensdag 28 September 2022 was ’n gewone dag. Ons het opgestaan en gereed gemaak om te gaan werk. My man Roelof ry elke oggend vroeg om werkers in die dorp op te laai.
Daardie oggend was daar takke in die kanaal voor ons huis en hy moes spook om dit uit te kry sodat die kanaal nie oorstroom nie. Hy het gesien dit word laat en hy was haastig om in die pad te val.
Uiteindelik het hy gery. Ek was skaars terug in die huis toe ek ’n oproep van hom kry: “Bel dokter Steenkamp,” het hy gesê. “Ek dink ek het ’n hartaanval gehad.”
Ek het my boeglam geskrik. Dit was asof my hele lewe voor my verbyflits. Ek het dadelik die dokter gebel en gevra hy moet so gou moontlik kom.
LEES OOK: Tiener oorleef gru-ongeluk: ‘Ek sien, in ’n oomblik van doodsangs, die Ligwesens om ons’
Maar Hartswater is 23 km verder noord.
Intussen het Roelof tot by die hoofpad probeer kom, maar hy was toe reeds bitter benoud en kon nie behoorlik asemhaal nie. Hy het by die bakke uitgesukkel en handeviervoet op die grond gaan staan. Hy het probeer hoes, homself probeer naar maak – alles om sy hart aan die gang te hou.
Deur die genade het sy pa van voor af gekom, by hom stilgehou en gevra wat aangaan.
“Pa, ek is besig om ’n hartaanval te kry,” het Roelof gesê. “Ek moet by die dokter uitkom.”
My skoonpa het met Roelof Hartswater toe gejaag. Ek het die Here gesmeek: “Asseblief, Here, moenie my man nou vat nie. U weet hoe nodig ek hom het.”
Ek het in ons motor geklim en ook Hartswater toe gery. Op pad het ek sonder ophou gebid.
By die spreekkamer het die personeel my belet om na my man toe te gaan. Ek sou later uitvind dat hy nog ’n hartaanval op die spreekkamer se bed gehad het. Ek het net gebid: “Here, asseblief, nou moet U intree.”
Ek het ’n geestelike moeder wat ek aanlyn ontmoet het. Natasha is ’n pastoor in Greytown en is reeds tien jaar lank deel van ons lewe. Sy het my bygestaan toe ek jare gelede ’n pad met borskanker moes stap. Ek het baie oor God by haar geleer. Ek het haar gebel en net gesê: “Natasha, we have to pray. There is something wrong with Roelof.”
Sy het saam met my vir hom gebid.
Al wat ek toe kon doen, was om te wag totdat hulle my roep. Ek het in een van die spreekkamers gaan sit, en aangehou bid. Die volgende oomblik het iemand aan my skouer gevat. Dit was my skoonpa. “Roelof vra na jou. Hy is oukei.”
Die dokter was ook daar en hy het verduidelik dat Roelof twee massiewe hartaanvalle gehad het. Tydens die tweede een het sy hart gaan staan. Hulle moes sy hart drie keer skok en hom met adrenalien inspuit.
Roelof moes so gou moontlik by die harteenheid in ’n Bloemfonteinse hospitaal kom. ’n Helikopter is ontbied, wat op die laerskool se rugbyveld moes land.
In Bloemfontein is twee stents ingesit. Ná ’n week in die hoësorgeenheid is hy ontslaan.
Dis ’n jaar en ’n half later, en ek kan nie genoeg dankie sê nie. Roelof het slegs 50% van sy hartfunksie behou, maar die dokters sê hy is ’n lewende wonderwerk, want die hoofaar na sy hart was heeltemal geblokkeer.
En die kanker in my lyf is nou sewe jaar in remissie.
Ons vier vanjaar ons 22ste huweliksherdenking, en ek vertrou dat God my man volkome sal genees. Ons het geleer dat gebed kragtig is. En ons leef daagliks Psalm 118:17 uit: “I will not die; instead, I will live and proclaim what the Lord has done.”
- Henriëtte van Heerden (48) en haar man Roelof woon op Jan Kempdorp. Sy werk as verkoopbestuursbeampte by ’n motorhandelaar. Roelof het ’n auto-elektriese en ingenieursonderneming. Die egpaar het ’n dogter, Chanté (12).
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.