Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Overbergse boer sê sy geloof dra hom deur verlies, uitdagings

25 Mei 2021

DEUR CONETTE LE ROUX

“Ons staan nie alleen nie – alhoewel dit in tye van intense hartseer wel so voel. Die afgelope twee jaar was vir ons gesin baie moeilik. Die pyn en verlies duur voort vir my en my seuns. Maar wanneer ek deur die donker oorweldig voel, weet ek daar is lig aan die einde van die tonnel.”

LEES OOK: Luister: Covid-19-verliese inspireer Ruan Josh tot roerende lied

So gesels Andre Cloete – en die “lig” waarvan hierdie boer praat, is sigbaar vanweë sy geloof in God. Die donker wou die Cloete-gesin van Greyton in die Overberg oorweldig nadat Andre se vrou Charmaine in 2019 ná ’n kankerstryd oorlede is.

Toe die koronaviruspandemie Suid-Afrika tref, moes Andre boonop twee van sy drie seuns alleen versorg nadat hulle Covid-19 opgedoen het. Hy moes ook sy boerdery op die plaas Klein Ezeljacht aan die gang hou.

Andre Cloete, ’n boer in die Greyton-omgewing, vertel sy geloof in God het hom die afgelope twee jaar gedra. Eers is sy vrou aan kanker oorlede en daarna moes hy na twee van sy drie seuns alleen omsien nadat hulle Covid-19 opgedoen het. Foto: Tru-Cape

Andre, wat luidens ’n mediaverklaring van die appelverspreider Tru-Cape in 2016 as nuwe boer van die jaar gekroon is, boer met appels, pere, gort, hawer, skape en beeste. Dié boer beskik oor meer as 30 jaar se ondervinding, en hy sê sy geloof is nie net sy kompas in sy persoonlike lewe nie. Sy geloof in God het hom ook die moed gegee om die groot tree van plaasbestuurder na sy eie onderneming te gee. Hy het ’n huurooreenkoms met die plaas se eienaar aangegaan, en hy boer nou volstoom.

“Ek het dié onderneming in geloof begin,” vertel hy. “Ons weet dat God ’n pad maak waar dit aanvanklik gelyk het asof daar geen moontlikhede is nie.”

Volgens Andre het die koronaviruspandemie baie aanpassings in sy boerdery geverg. Maar hy het aan die onvermydelike vertragings gewoond geraak. Ook aan die impak van werkers wat moes verlof neem omdat hulle in aanraking was met iemand wat Covid-19 het. “Die geheim is om goed te beplan,” vertel hy.

LEES OOK: Musikant moet ‘iets anders doen’ om vir gesin te sorg

Ten spyte van al die uitdagings het die 2021-oes met 6,5% toegeneem in vergelyking met 2020 s’n.  Dit, sê Andre, is net aan God se genade te danke.

Hy help ook ander nuwe boere in die omgewing deur as mentor op te tree. Hy sê hy bly op die uitkyk vir nuwe geleenthede om nog mense aan te stel en op te hef.

Hy moes hom egter noodgedwonge vir eers onttrek aan al die komitees waarop hy gedien het. Hy is immers nou ’n enkelouer vir sy drie seuns.

Maar Andre Cloete is nie ’n mens wat in ’n hoekie gaan sit en homself jammer kry nie. Hy vertel: “Ek kan die liefde wat Charmaine gegee het in ons kinders raaksien, en die moeite wat sy gedoen om die seuns in geloof op te voed. Soos hulle ouer word, kan ek sien hoe die liefde wat ons geplant het nou pragtig vrug dra.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF