Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Pa lei enigste dogter se lewensviering: ‘My hart het gebreek, maar niks kan ons van God se liefde skei nie’

Marcel van der Merwe en sy vrou Sandra het onlangs hul grootste gelooftoets beleef nadat hul enigste dogter van hulle af weggeruk is. Maar dié pa kon dit regkry om, te midde van sy seer, sy kind se lewensviering te lei.

“Ons pragtige dogter is ses maande gelede na haar hemelse Vader toe, en ek worstel steeds om die diep, snydende pyn in my te probeer verwoord. Dit voel soos ’n afgrond wat my wil insluk. Dis vir my moeilik om asem te haal.

“Hoe gaan ons nou haar uitbundige lag in die skielike stilte hoor?”

Marcel van der Merwe (63) van Outeniekwastrand naby Groot-Brakrivier sukkel om woorde aan sy emosies te gee. Hy en sy vrou Sandra se dogter Carla se lewe is ses maande gelede kortgeknip toe sy ná ’n trompop-botsing met ’n vragmotor gesterf het. Sy was 31 jaar oud.

Die Van der Merwe-egpaar en hul seun Marcel jr (34) en sy vrou Ankia se lewe het op 5 Mei 2025 soos handomkeer verander. Ook dié van hul skoonseun Ajee du Plessis, wat twee-en-’n-half jaar lank met Carla getroud was.

‘Die grootste gelooftoets’

Op ’n doodgewone Maandag het Carla van Pretoria na Brits gery om haar hondjies by haar skoonouers te gaan haal. Op pad daarheen het die bestuurder van ’n groot vragmotor, wat chroom vervoer het, beheer oor sy voertuig verloor, deur die snelweg se versperring gebars en Carla se motor reg van voor getref.

Carla se selfoon het dadelik ’n noodsein uitgestuur dat sy in ’n ernstige ongeluk betrokke was. Marcel onthou: “Ek het met ons hond gaan stap toe Sandra na my toe gekom en gesê het dat daar ’n onheilspellende boodskap op ons foon deurgekom het. Dat ook ons seun Marcel en Carla se man Ajee soֹ ’n SOS van Carla se foon ontvang het.

LEES OOK: ‘God alleen bring berusting en vrede,’ sê vrou ná albei haar dogters sterf

“Ons het teruggestap huis toe en dadelik ons Vader begin loof. Nie omdat ons so sterk was nie, maar juis omdat ons hele wêreld inmekaargetuimel het. En omdat God se teenwoordigheid die enigste ruimte was waar ons nie oor ’n afgrond sou stort nie.

“En toe kom Ajee se boodskap: Carla het nie die ongeluk oorleef nie.”

Die werklikheid het begin insink. “Ons dogter is van ons af weggeruk. Dit het gevoel asof ek in ’n nagmerrie vasgevang is. My gedagtes is gevul deur die eggo’s van haar aansteeklike lag. Die skielike leegheid en die onwerklikheid van dit alles het my denke gevange geneem. Haar laaste woorde aan my was: ‘Ek love jou pappa!’

“Dit was die grootste gelooftoets in my en Sandra se lewe. Ons was stukkend. Maar ons het besluit om nie vrae te vra nie. Goeie én slegte dinge gebeur met almal …

“Dis belangrik om jou ware identiteit te ken, en jou plek voor God. Ons is in Christus en Hy is in ons, en saam sit ons in hemelse plekke aan die regterhand van die Vader, die plek van die uitvoerende gesag. Daarvanuit leef ons ons lewe.

“God bly goed, genadig en vol liefde. Ons geloof en vertroue en hoop is in Hom.”

‘Op 5 Mei het sy Jesus gesien’

Marcel dink ver terug: “Carla was nog baie jonk toe sy besluit het om Jesus te volg en vir Hom te lewe. Ek onthou hoe sy as vyfjarige op haar bed gesit en haar handjies opgehef het terwyl sy God prys. Sy kon lank so sit en hardop bid.

“Ek onthou hoe sy op ’n dag uit haar kamer gekom het met trane wat oor haar wange rol. ‘En van waar die trane?’ wou ek weet. Sy het geantwoord: ‘Ek het Jesus gevra om Homself vir my te wys. Ek wil Hom só graag sien!’

“Wel, op 5 Mei hét sy.”

Carla was altyd vol entoesiasme en sy het haar geloof ook deur haar dade uitgeleef. Haar liefde, sorg en opoffering vir mens en dier was kenmerkend. En haar warmte en positiwiteit het ander na haar toe aangetrek.

“Carla was ons lig, ons bondel vreugde met ’n gees vol lewe. Toe sy klein was, het sy my gesig so tussen haar handjies gevat en gesê: ‘Pappa, kyk vir my as ek met jou praat!’ Ons is ’n baie hegte gesin en ons gesels oor alles, en sy het my geleer wat gehaltetyd beteken.

“Ons het 28 jaar lank die voorreg gehad om Carla by ons in die huis te hê voordat sy en Ajee getroud is en hulle Pretoria toe verhuis het.”  

‘’n Bedienaar van die Woord’

Marcel is ’n pastoor, en hy het besluit om self hul dogter se lewensviering te lei. Hy wou die Woord van genade en waarheid met die ander deel.

Hoe kry ’n pa dit reg?

“My hart het gebreek, maar ek weet dat ons smart ons nie definieer nie. Dat dit ons ook nie van ons hemelse Vader se liefde kan skei nie. Sy teenwoordigheid in ons hou ons staande en vul ons met hoop en vrede.

“Toe ek daardie dag op die kansel klim, was ek ’n bedienaar van die Woord en nie ’n pa nie. ’n Pa sou dit nooit kon doen nie. Dit was vir my belangrik dat die mense die boodskap hoor. Ek het Psalm 22:2 gelees: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’ En ook vers 25: ‘Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie. Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie, maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.’

“Al gaan ’n mens deur donker dieptes, die Here bly getrou. Hy is by jou in elke krisis. In sy liefde en sy trou is Hy altyd daar. Hy gee ons sy vrede. Daarom leef ons in die hoop om Carla weer te sien.”

Marcel sê dat hy in dié tyd opnuut besef het dat dood slegs ’n illusie is. “Jou liggaam is ’n tent wat afgeslaan word, maar jy sal vir ewig leef. Dis net ’n oorstap na God se ewige teenwoordigheid. Ek dink nie meer aan die dood as ’n vyand nie, want die dood is oorwin. Vir ons is die lewe Christus en die sterwe wins.

“Christus is saam met ons in ons donkerste tye. Psalm 23:4 bevestig dit: ‘Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.’”

‘Seën ná ons verlies’

Ná hul hartverskeurende verlies beleef Marcel en Sandra nou ook die vreugde van die vooruitsig op ’n eerste kleinkind. Marcel jr en Ankia verwag klein Embrandt op 13 Desember vanjaar.

Marcel sê: “Hierdie seën ná ons verlies verteenwoordig die wonder van ’n nuwe begin, en dit bevestig die onbreekbare band van familie. Die verwagte geboorte van klein Embrandt oor twee-en-’n-half maande bring lig, nuwe lewenskrag en hoop op die toekoms.

“Daarom sal ons eerste Kersfees sonder Carla hopelik draagliker wees. Al is die leemte so bitter groot, dra ons haar nalatenskap van liefde en goedheid met ons saam.

“Daar kom dae dat die gemis ons oorweldig, maar dan herinner ons ons daaraan dat sy lewe, al het haar liggaam gesterf. Ja, Carla leef en sy is gelukkig.

“Ons hou nou styf vas aan al die kosbare herinneringe. Ons almal sal Carla eendag volg; sy was net eerste daar. Ons mis haar geweldig, ons treur, maar ons treur in hoop.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►