DEUR ILETTE COETZER
“Om jul stemme en die woord ‘mamma’ nie meer te hoor nie, skeur my flenters. Maar terselfdertyd kan ek nie help om die grootste eer te ervaar om jul mamma te kon wees nie. Daar gaan nie ’n oomblik verby dat ek nie wens julle was steeds hier nie.”
LEES OOK: ‘Ek was ’n verslaafde wat wou sterf, totdat God in ’n duidelike stem aan my ’n belofte gemaak het’
Só sê Louisa Coetzer, wie se twee tienerdogters sowat sewe maande gelede in ’n motorongeluk tussen Hartswater en Jan Kempdorp in die Noord-Kaap gesterf het.
‘My hele wese is tot stilstand geruk’
Louisa en haar man Johan se lewe is op 29 Oktober 2022 onherroeplik verander toe hul enigste kinders, Janke (19) en haar sussie Lize (16), in ’n gru-ongeluk gesterf het. ’n Vriendin, Odine Swanepoel, is ook dood. Die sussies se neef, Albie Coetzer, en nog ’n vriendin, Martine Degenaar, is ernstig beseer in die trompop-botsing. Dié groep jong mense was op pad na ’n restaurant in Hartswater toe die ongeluk gebeur het.
Toe Johan die nuus van die botsing kry, het hy hom na die ongelukstoneel gehaas. Hy vertel: “Jy voel so magteloos om jou kinders daar te sien lê en te besef jy kan niks vir hulle doen nie.”
Hy het sy vrou gebel en net gesê: “Bokka, ons het albei ons dogters verloor.”
Louisa vertel van die geweldige pyn wat sy beleef het. “Ek het kliphard begin huil. My hele wese is tot stilstand geruk.”
Dit was bloot onwerklik; sy het dan so pas haar kinders gedruk en gesoen toe hulle gery het. “My hande het dadelik leeg gevoel. Alles was weg: die lag, die blink oë. My kinders was meteens stil.”
‘Elke dag, tree vir tree’
Hoe begin ’n mens weer lewe?
“Jou kinders is tog jou identiteit,” sê Louisa. “En nou is jou hele identiteit eensklaps daarmee heen. Die lewe voel nou soos ’n reis sonder enige eindbestemming; jy is rigtingloos. Soms voel dit my dis amper onmoontlik om die reis te voltooi.”
Louisa het egter in hierdie donker tye besef dat God se liefde die enigste manier is om die gevoel van eindelose leegheid te vul. “My geloof het my die krag gegee om elke dag, tree vir tree, saam met Hom aan te pak.
“God is jou antwoord op alles. Ek het sy hemelse vrede in my hart laat nesskop.”
Maar nie elke dag is ewe maklik nie. Soms raak Louisa opnuut opstandig. “Wanneer dit gebeur, wanneer my emosies die oorhand kry, wil ek so graag vir Jesus kwaad wees. Nie oor die feit dat hulle veilig by Hom is nie, maar omdat ek hier moes agterbly met soveel seer. ’n Seer wat soms te veel word.
“Maar dan skyn die son weer, en word die pyn effens minder.
“My geloof in my liefdevolle Vader stel my in staat om my verlies te dra, en die seer word elke dag ’n bietjie draagliker, hoewel daar dae kom dat al die pynlike emosies my wil oorweldig. Dan bly ek bid vir kalmte en krag om die pyn te hanteer.
“En dadelik maak Jesus my rustig, want Hy weet wat ek nodig het nog voordat ek daarvoor vra. Ek vind my kalmte by sy voete. En daarom het ek sommige dae ’n glimlag op my gesig, al is my hart nog aan skerwe.”
Louisa het verlede maand haar eerste Moedersdag sonder haar twee sonskynkinders gevier. Dit was vir haar erg, ’n herinnering daaraan dat sy nie meer ’n ma is nie.
Die liefde en ondersteuning wat sy van haar familie en vriende ervaar, help haar om deur die moeilike dae te kom. “Die mense om ons help my en Johan om te onthou dat ons nie alleen in ons hartseer is nie. My kinders se geliefde niggies, nefies en vriendinne laat my steeds, op ’n manier, soos ’n mamma voel.
“Ek het werklik ervaar dat mense God se hande en voete hier op aarde is. Ek sou nie die afgelope maande sonder hulle kon oorleef nie. Hul gereelde oproepe, hul boodskappe … Bloot die wete dat daar steeds soveel mense is wat vir jou omgee, het ons die moed gegee om elke dag op te staan en weer te loop.”
‘Nou kan ek hulle deur die hele huis voel’
Johan en Louisa het onlangs verhuis, die dorpslewe vir die plaas verruil. Dit was nie ’n besluit wat hulle ligtelik geneem het nie. Vir Louisa was dit bitter moeilik om haar twee dogters se kamers leeg te maak. Maar sy kon al die mooi herinneringe saam met haar en Johan neem.
Vandag is hulle op ’n plaas gevestig. Louisa sê: “Die stilte en rustigheid is goed vir ons siel.”
En Janke en Lize is oral in die nuwe huis sigbaar. Aandenkings uit hul kamers is plek-plek uitgestal. “Nou kan ek hulle deur die hele huis voel.”
Louisa het berusting gevind, al lê die trane soms nog vlak as sy dink aan wat kon gewees het. “Ons het soveel drome vir julle gehad, maar God se droom oor julle was groter. Al is dit vir my so ontsettend seer, gun ek julle die lekkerste plek – in die hemel by Jesus se voete.”
Louisa sê sy kan vandag onomwonde getuig: God se liefde oorwin die dood. En dat Hy alleen die vrede en berusting gee wat alle verstand te bowe gaan.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.