Die stilte is onheilspellend. Ek kan my man se asemhaling hoor. Ek weet sommer, want ek is ’n ma, hier is fout. Wanneer dit so stil is, is my seuns besig om dinge te doen wat hulle nie mag doen nie.
Ek hoor stemme in die gastekamer en gaan maak die deur oop. Toe die kinders my sien, hardloop hulle so vinnig hulle kan en gaan kruip iewers weg.
LEES OOK: Gedeelde smart …
Nou kan ek behoorlik ondersoek instel. Ek sien sommer gou wat die skade is: Hulle het met merkpenne op die beddens geteken, en op my erfstuk-wiegstoel. Krulle en letters en syfers, oral. Die gastekamer is ’n ateljee, die beddegoed skilderye.
Die kunstenaars is skoonveld.
Om weg te hardloop …
Die drang om van jou probleme weg te hardloop, lyk dit my, is ’n ingebore refleks. Adam en Eva het dit al gedoen. Moses het, ná die moord op ’n Egiptenaar, gevlug – net om weer daarheen teruggeroep te word. Jona het op ’n skip geklim en in die teenoorgestelde rigting gevaar as waarheen hy eintlik moes gaan. Ook ’n psalmdigter het hiermee geworstel toe hy gesê het: “Ek het gedink: Ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ’n woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly; ek sou haastig probeer wegkom van hierdie onstuimige wind, van hierdie storm af” (Ps 55:7-9).
Dalk vrees jy nie ’n fisieke bedreiging nie, maar dalk oorweldig jou probleme jou op so ’n manier dat jy ook soos ’n duif wil wegvlieg. Ja, ons wil dikwels op ’n skoon bladsy begin, van voor af, eerder as om te probeer sin maak van dit wat voor ons afspeel.
As ons tog net ver genoeg van ons probleem kan wegkom; as ons dit net lank genoeg kan ignoreer … Dalk verdwyn dit vanself.
Soms vlug ons nie na ’n bepaalde plek nie, maar ons kruip weg in ons werk, op sosiale media, voor die televisie. Ons probeer ons bes om nie aan ons probleem te dink nie sodat ons dit nie hoef te verwerk nie. Ons ontvlug deur ons gedagtes af te skakel.
Wegkruip is nie die antwoord nie
In Psalm 55:17 kom die digter tot die gevolgtrekking dat hy eerder sy vertroue in die Here moet stel as om te vlug. Hy sê: “Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red. In die aand, in die môre en in die middag, heeldag kla en sug ek, en Hy hoor my roep.”
En in vers 23 roep hy uit: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.”
Om van jou probleme af weg te hardloop is nie altyd die oplossing nie. Dikwels moet jy pa staan vir jou optrede of keuses. Net soos wat my seuntjies uiteindelik maar hul straf moes dra.
Ander kere is daar moeilike lesse wat jy moet leer. Maar swaarkry bou karakter, en jy word ’n nuwe mens.
Daar kom ook tye dat jy geduldig op uitkoms moet wag. Ek lees onlangs: “God se tydsberekening is ánders, maar Hy is nooit laat nie.”
Wat jou probleem ook al mag wees, jy kan altyd na God roep. Hy sal sorg. Die proses mag miskien moeilik wees, dalk uitgerek, maar Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.